Название | Een glas dooswit |
---|---|
Автор произведения | Linette Retief |
Жанр | Личные финансы |
Серия | |
Издательство | Личные финансы |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798154956 |
’n Beter, ondernemender mens sou waarskynlik vernuftige planne beraam het om meer geld te maak. Maar pleks daarvan het ek jammer vir myself gevoel en op ander gesponge.
Wat ek oorgehou het, is ’n bietjie van ’n leëkas-mentaliteit: Daar-is-nie-genoeg-nie, daar-gaan-nie-genoeg-wees-nie, en in die onwaarskynlike geval dat daar genoeg is, sal ek dit gou genoeg uitgee dat ek weer kan wees waar ek begin het, in die ongerieflike geriefsone van “daar-is-nie-genoeg-nie”.
Post-puberteit op die PUK
Ná drie en ’n half traanbedrupte jare in die skoolkoshuis en ’n A-gemiddelde in matriek, beland ek toe by die destydse PU vir CHO (deesdae die Noordwes-Universiteit). Die rede? My pa is in my matriekjaar Kimberley toe verplaas, en ek wou nie so ver van die huis af wees nie.
Die asemrowende oningeligtheid van my aanvanklike kursuskeuse – stads- en streekbeplanning – was plus-minus gelykstaande aan die rigtingloosheid van my latere finansiële bestuur. (Ek het gelukkig ’n maand later na kommunikasiekunde oorgeskakel.)
Terwyl my ma ’n laaste traantjie weggepink het, het my pa my R100 in die hand gestop met die woorde: “Laat weet wanneer jy nog nodig het,” of iets in dier voege. Wat ek toe gedoen het. Die probleem was, of ek een keer per maand of een keer elke ses maande gevra het, ek het elke keer soos die vark in die verhaal gevoel. Of liewer, die klein dogtertjie wat moes toekyk hoe haar pa diep en pynlik sy hand in sy broeksak steek.
Presies hoe ek finansieel deur die vier jaar gekom het, kan ek nie onthou nie. Ek vermoed ek onderdruk dit. Ek was weer eens in die koshuis, en ten minste was kos, kamer en – uiteindelik! – selfs toiletpapier nie ’n oorweging nie. Wat boeke betref, reken ek steeds daar was ’n sameswering wat bepaal dat dosente van studente verwag om ten duurste boeke aan te koop waarvan daar soms net ’n bladsy, paragraaf of sin behandel is.
Ek het dus maar weer gesmeek en geleen, darem nie gesteel nie, en nou en dan ’n wavrag vyfsentstukke aan die bib se fotostaatmasjien afgestaan. O, en immer die modelstudent, het ek elke jaar ’n merietebeurs van R300–R400 gekry omdat ek telkens met ’n onderskeiding deurgekom het – terwyl die manne met die majestueuse sportbeurse op hulle boude deurgeskuur het in kursusse soos Openbare Admin 101, maar dit is ’n ander storie.
Sentloos in Sandton City
‘I started off with nothing, I still have most of it left.’
Uit Never Play Leapfrog with a Unicorn: Bumper Stickers from the Information Highway, Arthur Goldstuck en William Ramwell
My lewe sou dalk anders gewees het as my eerste werk in Industria of Isando of Bellville-Suid was en ek elke oggend ’n grondboontjiebottertoebroodjie in ’n Tupperware-bakkie moes pak en dit wegslaan saam met een van die koppies halfkoue tee wat twee keer per dag met die trollie verbykom. Maar dit was my toe nie beskore nie. In plaas daarvan land ek toe met sterre in my oë, ’n bewing in my broek en feitlik niks in my beursie op die 19de verdieping van ’n kantoorgebou in Sandton City.
By wyse van verduidelikende terugflits: In my finale jaar op die PUK het ek aansoek gedoen om ’n vakleerlingskap by die destydse AAPA (Association of Accredited Practitioners in Advertising) – die doel van die missie synde om gegradueerdes vir die reklamebedryf te werf. Die eerste jaar werk jy plus-minus vir ’n hongerloon – weer eens die goeie ou, slegte ou leëkasgevoel. Jy bring eers ses maande by een agentskap deur, dan ses maande by ’n ander om ervaring in al die afdelings op te doen sodat jy kan agterkom presies waar jou professionele tuisland lê. (Kriptiese leidraad: Ná een dag in die media-afdeling van die destydse Lindsay Smithers het die mediadirekteur met oë vol hoop en ’n kies vol marshmallow-vissies vir my gesêvra: “Jy gaan seker Creative toe, nè?”)
Die ding is, vir die eerste helfte van my vakleerlingskapjaar sit ek toe op die 19de verdieping van Sandton City – kennisloos, ervaringloos en geldloos. Al die cum laude-grade en akademiese erekleure in die wêreld kon nie vir my die ritssluiter van ’n Gucci-beursie in die sak bring nie. (Nie dat ek een wou hê nie; ek kon trouens nie verstaan hoekom mense so behep was met die lelike bruin goed met die skrywe bo-op nie.)
My tweede ses maande het ek verwyl by die bemarkingskommunikasiereus JWT in die middestad van Johannesburg, wat my effens teruggebring het aarde toe.
In teenstelling met Sandton City, die Rolls-Royce van winkelsentrums waar jy om elke hoek en draai in sosiale vlinders vasgeloop het en in ’n oogwink duisende rande kon blaas op kurio’s, laakbare bagasie en outannie-klere, was die Johannesburgse middestad darem die “regte wêreld” vol mense wat busse eerder as BMW’s ry.
Maar ’n jaar later was ek terug in Sandton City ná ’n permanente aanstelling by Lindsay Smithers – in Creative, nogal – teen die allemintige salaris van R1 000 per maand.
Wat ek met die allemintige R1 000 gemaak het, behalwe om huur- en busgeld te betaal, kan ek nie juis onthou nie. Ek het wel baie kos gekoop ná een of twee rampspoedige eksperimente met voorafverpakte middagetes. Die enkele kere dat ek die toebroodjieding probeer doen het, het ek onmiddellik en lafhartig in kosblik-kloustrofobie verval ten aanskoue van ’n broodjie wat ’n paar uur later aan die rante begin opkrul het in die afwesigheid van genoeg margarien of in die middel begin insink het weens ’n oormaat tamatie.
Fast forward ’n jaar of vyf, en in die skade en skaduwee van my verliefdheid op ’n getroude kollega ontdek ek een Saterdagoggend die volle vreugde en totale troos van retail therapy. Met ’n stukkende hart en ’n leë motor is ek die oggend by die huis weg, en met ’n leë beursie, ’n vol bagasiebak en semi-singende hart het ek ure later weer by my oulike woonstelletjie in Blairgowrie ingestap; ’n boekrak, ’n woudgroen broekpak en ’n bypassende syhemp later. En dit is maar net die goodies wat ek kan onthou …
As ek nou terugdink en probeer post-rasionaliseer, sou ek seker kon sê dit was min of meer die oomblik toe die lekkergoedwinkel van my kleintyd begin morf het na die klerewinkel, behalwe dat ek nie meer buite gestaan het met my neus teen die ruit nie. Ek het ’n halwe voet in die deur gehad. Al het ek nog nie eens ’n kredietkaart gehad nie – of geweet hoe een werk nie. O, die dae van my onskuld!
Kredietkaart ofte nie, die kompulsiewe Pawlof-verbruiker in my het die eerste klokkie hoor lui wat my dekades later steeds kwylend sou hê. En, om nou my metafore en spesies vreeslik te meng, op daardie oomblik het ek ook onwetend begin identifiseer – nie met die padda wat in die kookwater beland en onmiddellik uitgespring het nie, maar met sy arme ou maat wat bly lê het in die lekker loute, net om te laat agter te kom hy’s besig om dood te brand.
20-40: Die spandabel-miserabel-jare
‘Anyone who lives within his means suffers from a lack of imagination.’
Oscar Wilde
So het ek deur my twintigs, my dertigs en ’n goeie deel van my veertigs gewals – nie altyd geldloos nie, maar, besef ek nou, clueless. En clueless uit eie keuse – die soort keuse wat jy doen deur nié ’n keuse te doen nie. Ek was ’n oop teiken vir alles van kommissiegedrewe kosmetiekverkwanselaars en verveelde boetiekpoppies tot gewetenlose versekeringsverkopers. En, man, het hulle my sien kom.
’n Aansienlike deel van my vroeë twintigs is boonop daaraan bestee om vir busse te wag, op busse te sit en van busse af te klim. Ek onthou met skande, skaamte en ongebreidelde vrees vir wat kon gebeur het, selfs ’n paar keer dat ek duimgegooi het. Want ek het nie ’n rybewys gehad nie, nog minder ’n motor. Wat my bring by een van my meer goue geldherinneringe: Toe die pennie uiteindelik drop dat my pa nie vir my ’n motor gaan koop nie, het ek begin spaar vir ’n deposito. En toe ek my eerste motortjie koop – ’n rooi-en-wit Citi Golf – het ek letterlik die klein skooltassie wat ek in daardie stadium vir ’n handsak gebruik het, vol note gepak