Anna Atoom en die magnetiese meermin. Elizabeth Wasserman

Читать онлайн.
Название Anna Atoom en die magnetiese meermin
Автор произведения Elizabeth Wasserman
Жанр Контркультура
Серия
Издательство Контркультура
Год выпуска 0
isbn 9780624054894



Скачать книгу

ction>

      

      Anna Atoom en die magnetiese meermin

      Elizabeth Wasserman

      Tafelberg

Atoom Meermin Opdra.jpg

      Alfabetiese lys van begrippe

      AardWag – Die weerstasie met al sy gesofistikeerde toerusting, geleë op MonPetit-eiland, word die AardWag genoem omdat die aarde se klimaat daar dopgehou word.

      BioTron – ’n Mens of dier wat gedeeltelik ’n robot is. Gewoonlik lyk ’n BioTron net soos sy maats, maar het ’n rekenaar vir ’n brein. Sommige spiere en sintuie kan versterk wees met elektronika. Daarom kan ’n BioTron soms verbasende dinge doen, maar dit hang af van watter funksies ingebou is.

      MonPetit-eiland – Een van die kleiner eilande in die Seychelle-groep, net suid van die ewenaar, in die Indiese Oseaan. Dit behoort aan die Atoom-familie en hulle woon daar.

      Persoonlike Kommunikeerder – ’n Kompakte kommunikasietoestel wat elke lid van die Atoom-familie aan die arm dra soos ’n polshorlosie. Dit het ’n klein beeldskerm waarop jy die persoon kan sien met wie jy kommunikeer.

      Kunsmatige intelligensie – Rekenaars wat slim genoeg is om vir hulleself te kan dink. Hulle kan dinge op hulle eie doen sonder om bevele van mense te ontvang.

      Molekulêre Verplaser – Hierdie apparaat kan die aantrekkingskrag tussen die molekules in jou liggaam kanselleer. Dan kan jou losgemaakte molekules teen ’n hoë spoed na ’n ander plek verplaas word en daar weer aanmekaargesit word in jou oorspronklike vorm. As dit werk, sal dit ’n fantastiese manier wees om van een plek na ’n ander te reis. Verkeersknope sal iets van die verlede wees! Ongelukkig kon niemand nog ’n Molekulêre Verplaser bou wat veilig werk nie.

      Molekulêre Versteller – ’n Instrument wat tydelik die beweging van die molekules in jou liggaam verander. Dit kan gebruik word om sekere siektes te genees, en ook om jou breingolwe en denkpatrone te verander. Admiraal Atoom het dit oorspronklik ontwerp om dit makliker te maak om met gevaarlike diere te werk, aangesien die Versteller hulle heeltemal mak kan maak – minstens vir ’n tydjie lank.

      Ondergrondse Skandeerder – ’n Instrument wat die samestelling van grondlae en voorwerpe onder die grond ondersoek. Dit werk met klankgolwe en is amper soos ’n X-straal van die grond of seebodem.

      Onderwater-verkenner – ’n Klein duikboot wat die Atoom-familie gebruik om die see te verken. Dis toegerus om verskillende opmetings van die water en die seebodem te doen. Dit versamel ook monsters vir verdere ontleding in die laboratorium op MonPetit.

      JetKopter – Dit is ’n gevorderde soort vliegtuig waarmee die Atoom-familie reis. Die vlerke kan roteer soos die lemme van ’n helikopter, wat die JetKopter in staat stel om loodreg op te styg en weer te land.

      RuimteArk – Dis die ruimtestasie waarin admiraal Atoom bly. Dit dien ook as versamelplek vir alle dierespesies op aarde. ’n Wyfie en ’n mannetjie van elke spesie word daar bewaar ingeval iets rampspoedigs met die aarde sou gebeur.

      Waterlong – ’n Klein toestel waarmee jy suurstof direk uit die water kan suig, baie soos die kieue van ’n vis. Dit stel jou in staat om so lank as wat jy wil onder die water te swem sonder die lomp suurstofbottels wat duikers gewoonlik gebruik.

      Die karakters in die boek

Karakter 1.jpg Karakter 2.jpg Karakter 3.jpg Karakter 4.jpg Karakter 5.jpg Karakter 6.jpg Brak leer toertjie.jpg

      Brak leer ’n nuwe toertjie

      Anna en Brak sit in die skadu van ’n palmboom. Dit is Saterdagoggend: ’n perfekte tyd vir ’n luilekker piekniek. Die weer is mooi en MonPetit-eiland bak rustig in die tropiese son. Om hulle strek die see blou tot by die verste horisonne van die Indiese Oseaan.

      Anna het reeds al die lekkernye wat sy saamgebring het opgeëet – kokosneutkoekies, tuisgemaakte gemmerbier en stervrugte. Dit is soms voordelig om ’n robothond vir ’n troeteldier te hê. Brak gebruik herlaaibare sonkragbatterye, en hy stel nie in koekies belang nie. Anna is soms bietjie spyt daaroor, want sy kon hom nog nooit leer pootgee vir ’n versnapering nie. Regte honde lyk oulik as hulle dit doen.

      Maar soms is dit lastig.

      Brak jaag ’n paar krappe wat nader kruip om krummels te kom soek. Dit is ’n prettige speletjie. Die krappe swaai hul knypers dapper in die rigting van sy rubbersnoet. Brak swaai sy stert supervinnig, en sy opgewonde blaffery verskrik ’n paar seevoëls wat aan die rand van die vlak water rondtrippel. Die krappe skarrel vinnig weg en verdwyn soos blits in hul gate.

      Anna leun terug teen die stam van die palmboom. Sy sluit haar oë lui teen die lomerige son en luister na die sagte gesuis soos die branders teen die strand stoot. Bo haar kop ruis die blare van die palm in die wind. Die hele eiland sluimer.

      Vir omtrent drie sekondes gee sy haarself oor aan hierdie stadige ritme. Dan skiet haar gedagtes opnuut soos vuurpyle deur haar brein. Sy sit regop en kyk rond, op soek na iets opwindends.

      Sy sien haar rugsak op die sand langs haar, en sy onthou skielik dat sy vandag die boekie met aanwysings oor hoe Brak werk saamgebring het, netjies verseël in ’n plastieksak.

      Sy het Brak een Kersfees by haar ma en pa present gekry. Hy was netjies verpak in ’n kartondoos, met sy aanwysingsboekie en al.

      As jou ouers albei slim wetenskaplikes is, kry jy soms buitengewone geskenke. Brak is nie sommerso ’n hierjy van ’n robothond nie. Hy kom ook nie uit ’n gewone speelgoedwinkel nie. Brak is volgeprop met die beste tegnologie en sy rekenaarprogramme is vergelykbaar met dié in ruimtestasies en gevorderde vuurpyle. Hy kan beter ruik as ’n gewone hond, beter hoor, beter sien, én beter swem en hardloop. Hy verstaan ingewikkelde speletjies en hy help Anna soms met haar huiswerk.

      Sy is nie heeltemal seker wat hy alles kan doen nie. Die een keer toe sy wel deur sy aanwysings geblaai het (en dit was vinnig, want sy was te lui om dit ordentlik te lees), het iets wel haar oog gevang wat sy nog altyd wou probeer.

      Brak kan blykbaar geprogrammeer word om onsigbaar te wees.

box feature.jpg

      Sigbaar en onsigbaar: hoe sien ’n mens?

      ’n Mens se oë is wonderlike sintuie. Hulle is fyn instrumente wat die ligstrale wat vanaf voorwerpe gereflekteer word, registreer en kodeer in ’n boodskap. Jou senuweestelsel stuur hierdie boodskap dan na jou brein, waar dit verander word in beelde – amper soos ’n televisieskerm in jou kop – en siedaar: jy sien die wêreld om jou in lig, vorm en beweging.

      Ons weet dus dat lig noodsaaklik is vir sien: in die donker is ons almal blind.

      Maar wat anders as die donker kan dinge onsigbaar maak? Wat van iets wat deurskynend is? Indien ’n voorwerp geen ligstrale weerkaats nie, kan ’n mens dit nie raaksien nie. As die ligstrale van die wêreld daarom en daaragter boonop ongestoord deur so ’n “deurskynende voorwerp” kan gaan, word dit werklik onsigbaar.

      Dalk is dit hoe Brak se onsigbaarheidsprogram werk?

      Dit is beter dat dit ’n