Met Dubbeldoor word De Vries deel van die Sestiger-beweging deur in hierdie stadium in sy skrywerskap verhale te skryf wat André P. Brink “laagverhale” noem waarin die “magiese realisme” na vore kom. Hierdie beskrywing tipeer die verwikkelde wyse waarop De Vries daarin slaag om deur metafore veelvuldige betekenisse en simbole in sy verhale te impliseer, terwyl hy steeds die fyn waarneming en in-diepte sielkundige blootlegging van sy vroeë verhale behou. In aanvulling tot sy gebruik van die plaaslike mense en wêreld bring hy nou ook die Europese omgewing onder woord, soos in die titel van die bundel aangedui word, waar die dubbeldoor verwys na die vermenging van Europa en Afrika. Die titel kan egter ook betrekking hê op die mengsel van tradisioneel-realistiese en magiese tipe verhale.
’n Eietydse bundel kortverhale waarin die vrou skerp na vore tree, maar altyd sprekend van die hele uitgelewerde mensdom wie se bestaan alte dikwels verydel word deur teenstrydige, byna ironiese situasies. Rachelle Greeff is met die CNA-debuutprys bekroon vir dié eersteling-bundel.
Elke dag se ervarings in die lewe van ’n gewone huisvrou, dit is die boustof van hierdie essays. Maar soos die storiekoning van ouds die dinge wat hy aanraak in goud kon verander, so het Audrey Blignault die slag om uit die eenvoudige belewenisse van ’n huisvrou glansende avonture en kosbare kleinode van die gees op te tower. Hierdie slag het sy te danke nie alleen aan haar fyn oor en oog (’n oog met ’n stout vonkeling daarin!), haar deernis vir die ewenaaste, haar vermoë om dieper as die oppervlak en die onmiddellike te kyk, haar sin vir die komiese, haar breë leeservaring en haar vaardigheid met ’n woord nie, maar veral ook aan haar opregte lewensvreugde en die vaste geloof dat die lewe ’n rosekrans van blye dae is. Soos dit ’n mens plesier gee om te sien hoe ’n goeie vakman sy gereedskap netjies en sekuur maar met gemak hanteer, so gee dit ’n mens plesier om te sien met watter vaardigheid hierdie skryfster met woorde kan werk en die juiste woord op die regte plek kan gebruik. Daarby weet sy ook hoe om haar grondige kennis van die beroemde woorde van ander – uit die wêreld-letterkunde en die poësie van die Bybel – te laat aansluit en sonder pretensie daaruit aan te haal en toe te pas. Dit herinner my aan Salomo se “goue appels en silwerborde, so is ’n word op sy tyd gespreek”. Alba Bouwer
Hierdie surrealistiese kortprosas met digterlike aanwending van die woord is beduidend anders as die tradisionele realistiese kortverhaal in Afrikaans. Temas soos die samelewing se skuld aan die ondergang van die individu (“Die man met die swaar been”); die verskrikking van die uitwissing van die Jode in die Tweede Wêreldoorlog (“Die nuwe piramides”) en die impak van eerste liefde (“Die dag van die roos”) word in min en eenvoudige woorde met maksimum effek uitgebeeld. Die rasseverhoudinge word aangedurf in ’n stuk soos “Droogte”, waar die wit man homself van die swart man isoleer, maar dan ook van die hele wêreld daarbuite. Hy bou homself toe in ’n huis sonder deure en vensters, sodat die swart man nie kan inkom nie, maar verseël daarmee ook sy eie lot. Ook “Plek vir een” toon aan hoe velkleur nie die eendersheid van die mens kan verander nie. Teenoor hierdie toespelings op die Suid-Afrikaanse aktualiteit werk hy in twee verhale met temas uit die kontemporêre Europese geskiedenis. “Lied oor Niemandsland” se tema is die geloof in waardes wat hoër gaan as die politiek. Die liefde van ’n jong soldaat vir ’n meisie wat in dieselfde dorpie as hy woon, word deur ideologiese grense gestuit.
Nataniël is weer op sy stukke. 41 magiese nuwe stories in Afrikaans en Engels, uit sy mees onlangse verhoogproduksies landswyd. Tegelyk absurd en tog so herkenbaar Suid-Afrikaans. Soos in Nicky & Lou, en sy jongste blitsverkoper 150 stories, is die verhale in Zip! spitsvondig en báie snaaks, en tog ook so wys. Hoe skryf hy op een plek: “As mense na jou staar of jou nie aanvaar nie, is dit heeltemal in die haak. Solank hulle vir jou hande klap.” 27 stories is in Afrikaans, en 14 in Engels. Nataniël has done it again. 41 pitch-perfet stories from his most recent stage productions since 2012: funny, wry, and often with a bitter sting in the tail. These stories evoke South Africans at their best, and their worst. It’s the small dorpies, the crazy characters on the fringe, and always Nataniël’s uncanny insight into human nature. 27 stories are in Afrikaans, and 14 in English.
Dit is die middel van die twintigste eeu. Net soos die Vaalrivier in vloed die dorpie Koukonap bedreig, bly die Fourie-gesin se lewens ook nie onaangeraak deur groter kragte nie. Lood en Lenie het hulle teësinnig hier kom vestig. Daar is hul seun Dries, gedurig in sy kano die rivier aan’t verken, en sy twee broers. Ênie Malmok en Japie Tarentaal van die Breipaal-lokasie. Oupa Sarel, wat dalk net ʼn regte, egte Boereheld was. Die Davels oorkant die draad. Dik Dawid Daneel en Mank Manie Wolmarans en neef Boet Viljoen wat doedelsak speel in die kroeg . . . Die doen en late van gewone dog fassinerende mense, van die dorp se hoëlui tot die nagwadrywers, word met humor, begrip en soms snydende ironie ʼn werklikheid wat jou sal bybly. Hierdie verrassende, veelkantige roman ontgin die Noord-Kaapse landskap en geskiedenis, en so ook die kringloop van die lewe. Koukonap rig aan die leser die uitdaging: Klim in die kano en roei saam. Maar wees gewaarsku – die stroom kan jou lei na ʼn maalkolk!
’n Spierwit geraamte wat teen kranse uitklim. ’n Skrikaanjaende gedaante wat uit ’n rookwolkie vorm aanneem. Die vaskyk in die gesig van ’n dooie … met een oog wat nog lewe! Hierdie grieselige spookstories dateer van die begin van die vorige eeu, maar die indrukwekkende vertellings, ongewone intriges en ontknopings hou lesers vandag nog net so hoendervel en vasgenael soos destyds. C.J. Langenhoven se ervarings as regsgeleerde, parlementslid en joernalis, sy kennis van die sielkunde, die natuur en van die Klein-Karoo – dit alles kom in sy skryfwerk na vore. Met spitsvondigheid, erns en satire gee hy vir ons in die een-en-twintigste eeu ’n sonderlinge beeld van vergange jare; ’n tyd van handkoffers en perdekarre, en toentertyd se Groot Griep. Toe skyndooies alte maklik lewend begrawe is …
Christiaan Bakkes word onthou as die man wie se arm deur ’n krokodil afgebyt is in die Krugerwildtuin. Dit was ’n waterskeiding in sy lewe. Hy was linkshandig en het sy linkerarm verloor. Tydens rehabilitasie moes hy met sy regterhand leer skryf, en uit daardie pogings is Afrikaans se enigste werklike wildernisskrywer gebore. Met sy eerste boek, Die lang pad van Stoffel Mathysen, het Bakkes die Stoffel-persona geskep vir die oorvertel van ware gebeurtenisse in sy lewe. Nou, met Stoffel: die beste stories, word Bakkes se gunstelingverhale in een band byeengebring, treffend aangevul deur ’n fotoseksie in kleur. In sy kenmerkend ongekunstelde en humoristiese styl vertel hy van sy eerste wilderniservarings as kind, van sy dienspligjare en van sy werk as safarigids in Namibië. Hy vertel stories van die veld, van berge en bosse – as reisiger deur Afrika, met ’n stem soos geen ander in Afrikaans.
Jy sien op straat ʼn gesig, jy herken ʼn gebaar, byvoorbeeld die manier waarop iemand ʼn sigaret aansteek, of hoe die wind gordyne deur ʼn oop venster ʼn vertrek laat inbol, en jy weet – plotseling – dat die belangrikste goed in jou lewe reeds gebeur het. Dit kan wees dat jy jou misgis, en wie weet, dalk staan jy eintlik maar net voor die grootste misterie van jou ganse lewe, maar iets . . . iets, weet jy, is vir altyd verby. ʼn Kameraman word wakker langs ʼn jong bloemiste wie se hande na begrafnisblomme ruik; op ʼn Karoodorp lei ʼn Britse skrywer se liefde vir woordspeletjies tot die heel verste grens; ʼn polisieman wonder oor die inhoud van ʼn beige handsak wat hy op ʼn misdaadtoneel gekry het; ʼn bejaarde vrou wag op die koper van die naaimasjien waarmee sy ʼn hele lewe aanmekaargestik het. Rachelle Greeff is een van die akkuraatste registreerders van hierdie beslissende lewensmomente, daardie drumpel tussen dit wat verby is en die skitterende duisternis wat wag. En in verhaal ná verhaal wring sy die leser se hart presies om daardie goed wat nooit verbygaan nie.
’n Vars nuwe stem in Afrikaans. Die verhale in hierdie bundel belig uiteenlopende karakters, milieus en temas. Hattingh gooi die net wyd: in een verhaal neem ’n Hindoe-meisie wraak ná haar Joodse kêrel se verraad; in ’n ander word ’n 4x4 die middelpunt van ’n boeretroue. Daar is huwelike wat verbrokkel, ouers en kinders, slagters en vegetariërs, rebelle en randfigure. ’n Stem met sensitiwiteit en insig is egter telkens aan die woord, en bind die verhale nie slegs tot eenheid saam nie, maar dwing die leser tot nadenke.