Danie Marais se derde digbundel, Solank verlange die sweep swaai, is ’n mymerende, soms prewelende, plek-plek tierende besinning oor die Suid-Afrikaanse middelklas-weergawe van die menslike toestand. Dit gaan oor die “roaring 40s” en die eerste onheilspellende tekens van middeljarigheid, oor egskeiding, enkelvaderskap, ontnugtering, ’n geliefde ma wat by die dood omdraai en die skrikwekkende relevansie van gruwelrolprente en popkultuur. Die geweld van die liefde en die verraderlike lugspieëlings van die digkuns is deurlopende temas. Solank verlange die sweep swaai is die woorde van iemand wat sy vertroue in die woordkuns verloor het, maar aanhou skryf omdat dit die enigste vorm van psigiese selfverdediging is wat hy min of meer verstaan. Dis die steierende gedagtes van ’n man wat dronkgeslaan word deur sy eie alledaagse stories uit ’n lewe wat al sy pogings tot begrip en filosofiese beskouing uitdaag en ondergrawe.
Die poësie is per definisie iets buitengewoons, dit is waaraan Charl-Pierre Naudé se digkuns by uitstek gestalte gee. Die poësie is ’n ander manier van kyk – die metafoor laat jou iets deur die lens van iets anders sien, en so word die wêreld iets anders, dit word nuut, iets wat van voor ontdek moet word.
Die poësie, wys Naudé, is iets wat algemeen aanvaarde waarhede problematiseer, dit vreemd maak sodat dit weer beleef kan word. In Naudé se poësie is die vreemde belangrik. Vreemde ruimtes, word betree om dit wat bekend is te herontdek, deur as’t ware van buite na binne te kyk. Op hierdie manier besin die digter oor onder meer sy plek in Afrika, oor die verwerking van ’n Europese oorsprong, sy geplaastheid in ’n klein minderheidstaal, oor die praktyk van poësie-skryf en die soeke na insig wat verby eenvoudige digotomieë streef. Hierdie digterlike besinnig loop dikwels uit op ‘n besef van die waarde van die vlugtige, die efemere, die nie-vaspenbare.
Karnaval en Lent word gekenmerk deur die opheffing van die skeiding of grens tussen die digter en die mense en dinge waartussen hy lewe, tot by die punt van volledige vereenselwiging: Die digter staan tussen medeskepper én medevernielers van die aarde; staan voor die kleinste mier én die oorweldigende kosmos. Filosofies en literêr is dit ’n besonder byderwetse en aktuele uitgangspunt, hierdie afbreek van die skanse tussen die een wat kyk en dit wat bekyk word.
Maar benewens hierdie vereenselwiging of éénwording, gee die titel reeds ’n aanduiding dat dit eintlik in hierdie bundel gaan oor twee uiterstes wat teenoor mekaar gestel word: fees teenoor vastyd, uitleef teenoor inkeer, oordaad teenoor tekort. Die oordadige, oftewel die karnavaleske, staan in spanning met Lent, oftewel die kentering en die wegkeer van die wêreldse. Die digter kyk enersyds na die wêreld van uiterstes en verwording wat ons beleef, en andersyds na die rituele, die feestelikhede wat ons verbind, nes die vastyd ons bind. Die kenmerk van die digterlike metafoor is immers die vermoë daarvan om uiterstes te verbind, soos die uiterstes van vernietiging en herlewing. Hiervan getuig TT Cloete se digkuns by uitstek, en daarom bly dit immer kragtig en nuut.
In hierdie ryk geskakeerde bundel word nie alleen die konsep en konteks van “meditasies” verruim nie, maar word die gedig-as-meditasie tot ’n nuwe hoogte in Hambidge se werk gevoer, word dit ’n beduidende bydrae tot die breë Afrikaanse digterlike leksikon. Humor en satire tree dikwels op die voorgrond, en so ook besonder skerp herinneringe.
Ná veertig jaar is daar weer ’n Afrikaanse digbundel deur Adam Small. Ná Oos Wes Tuis Bes Distrik Ses (1973) het hy demonstratief net in Engels begin dig, en ná sy drama Krismis van Map Jacobs (1983) het sy skrywerstem stil geword. Daar was altyd die vermoede dat hierdie stilte grootliks toegeskryf kon word aan die verwerping wat hy aan die hand van taalgenote ervaar het. Verlede jaar is die Hertzogprys uiteindelik aan hom toegeken, en vanjaar verskyn nie net hierdie digbundel nie, maar ook sy Afrikaanse drama Goree, wat in 1978 in Engels geskryf is.
Small gee in die titelgedig van die bundel te kenne dat Klawerjas ’n uitvloeisel is van ’n bestaanswyse, ’n uiting gee aan die gewaarwording dat hy te midde van soveel armoede en verknegting een van diegene is wat darem nog woorde het “wat aftas teen die mure van ons donker kamers van bestaan, al soekend na die deure, openinge na die lig”. Hy voeg sy stem by Van Wyk Louw en verklaar dat hy te midde van onreg nie juis anders kan nie as om te skryf, te praat en te probeer oorreed.
Hy dig in dié bundel: “Daar’s dié van ons wie nie sonder / poësie kan leef nie. Niemand hoort sonder die ervaring van die ritmiese / golwing en osmose van die fyn-gekose / sin en woord.” Maar wat hy vir homself toe-eien gun hy ook ander. Sy poësie is dan juis ook gedigte vir ander, vir gewone mense. Hy skryf: “Daarom is dit vir ’n digter nodig / om telkemale ’n vers publiek / die lig te laat sien, poësie toeganklik / te maak, en mense so te dien – soos / hierdie gedig-vol-dankbaarheid . . .”
Hoewel hy in hierdie bundel in gesprek tree met mededigters, skrywers, filosowe en ander kunstenaars, skryf hy vanuit die oortuiging dat sy gedigte bestem is “vir gewoon-intelligente mense” en dat dit “hoegenaamd nie 'n vertoon van geleerdheid en obskure hoogdrawendheid moet wees nie”.
Klawerjas bevat gedigte wat spreek van deurleefde ervaring, diepe oortuiging en ’n opregte meegevoel met die lot van die veronregtes. Dit is praatverse wat getuig van ’n fyn oor vir die musikaliteit van die alledaagse, die melodie wat spontaan en ongekunsteld opklink as jy die doodgewone in verwondering gade slaan.
’n Oorrompelende debuutbundel wat stem gee aan die lewe in en om die Kaapse vlakte. Geskryf in die taal eie aan die gebied, hanteer die skrywer die alledaagse lewe op die Kaapse vlakte met kragtige verse wat die leser laat huiwer tussen lag en huil.
Sewe is die getal van heiligheid, van voltooiing en vervulling, ’n volmaakte sirkel. Gilbert Gibson se vierde digbundel is ’n konfrontasie met die simboliese lading van hierdie getal, ’n woordestryd teen die wete dat voltooiing die einde beteken, dat volmaaktheid noodwendig ook die dood impliseer. Die verse verbeeld konkreet dat die poësie begin waar taal verbrokkel; dat die letterkunde juis ontspring uit die verbystering van sinne.
Die gedigte in Andries Samuel se debuutbundel bevat dikwels verwysings na argitektuur: die ontwerp van geboue en die konkrete bouwerk wat daarop volg. Dit bepaal die struktuur en eerste vlak van die gedigte, maar word ook herlei tot die mens en die self as die “bouwerk” en die gedig as die vorm (argitektuur) waarbinne die “mens/self” gestalte kry. Die weerloosheid van menswees, die blootstelling aan ruwe emosionele werklikhede en die mens se poging om hom teen hierdie aanslae te verweer, word ondersoek.
Kwansuis beteken “kamma”, “kastig” of “oënskynlik”. Die gedigte in hierdie bundel is ryk aan metafore en bevat dikwels ’n speelse element wat die leser verras laat. Die rol van die natuur en die onderliggende primordialiteit wat daarmee saamgaan is waarskynlik die belangrikste kenmerk van die gedigte. Temas sluit in die (naderende) dood, bedreiginge, verhoudings, die sprokiesagtige, die mitologiese en die filosofiese. Piet van Rooyen is vir sy romans met die CNA-prys en die M-Net-prys vir Letterkunde bekroon. Kwansuis is sy vierde digbundel.