Onsigbaar verken opnuut verskeie hooftemas van Cloete se oeuvre, onder meer ’n verwondering oor die natuur, en ’n soeke na sintese tussen wetenskap, religieuse impulse en die grense van taal. Hy verwoord op tegnies vernuftige wyse die onvermoë van die mens om die misterie van die skepping en sy eie bestaan te deurgrond. Hy slaag daarin om iets van die wonder vas te vang, sonder om die enigma te reduseer tot ’n eenduidige slotsom of “betekenis”. En dit doen hy in gestroopte, helder taal. Daar is ook intieme verse oor vertwyfeling en die onlangse verlies van ’n lewensmaat.
Jukstaposisie se titel dui reeds aan dat dinge (en afdelings) naas mekaar gestel word om sowel die teenstellings as die ooreenkomste op digterlike wyse te betrag. Die gedigte is ’n verwondering oor die grootsheid van God se skepping, wat in sy wese teenstellend en paradoksaal is, met die teenstelling self ’n wonder. So word daar verbande gevind tussen die mees disparate dinge wat vernuftig van verskeie hoeke verken word, terwyl alles op ’n manier interafhanklik is. Die agt genommerde afdelings word binne hierdie oorkoepelende verband tot eenheid gesnoer deur motiewe (lewe en dood, wreedheid en skoonheid, digterskap, blywende aarde teenoor verganklike mens) vernuwend te herhaal en ander gesigspunte daarop te betrek. Die Louis Luyt-prys word in 1983 aan Jukstaposisie toegeken en in 1990 wen hierdie bundel saam met Angelliera die Rapportryersprys.
Karnaval en Lent word gekenmerk deur die opheffing van die skeiding of grens tussen die digter en die mense en dinge waartussen hy lewe, tot by die punt van volledige vereenselwiging: Die digter staan tussen medeskepper én medevernielers van die aarde; staan voor die kleinste mier én die oorweldigende kosmos. Filosofies en literêr is dit ’n besonder byderwetse en aktuele uitgangspunt, hierdie afbreek van die skanse tussen die een wat kyk en dit wat bekyk word.
Maar benewens hierdie vereenselwiging of éénwording, gee die titel reeds ’n aanduiding dat dit eintlik in hierdie bundel gaan oor twee uiterstes wat teenoor mekaar gestel word: fees teenoor vastyd, uitleef teenoor inkeer, oordaad teenoor tekort. Die oordadige, oftewel die karnavaleske, staan in spanning met Lent, oftewel die kentering en die wegkeer van die wêreldse. Die digter kyk enersyds na die wêreld van uiterstes en verwording wat ons beleef, en andersyds na die rituele, die feestelikhede wat ons verbind, nes die vastyd ons bind. Die kenmerk van die digterlike metafoor is immers die vermoë daarvan om uiterstes te verbind, soos die uiterstes van vernietiging en herlewing. Hiervan getuig TT Cloete se digkuns by uitstek, en daarom bly dit immer kragtig en nuut.