.

Читать онлайн.
Название
Автор произведения
Жанр
Серия
Издательство
Год выпуска
isbn



Скачать книгу

onder die bome en wag en in ’n stadium kom daar ’n roering deur die bos. “En daar kom die groep aan! Savimbi is heel voor en hy kom so majestueus daar aangestap. Hy het sy kamoefleerdrag aan en dra ’n .375-rewolwer met ’n kolf van ivoor. Dit is die een wat hy altyd gedra het as hy saam met sy gevolg was.” Blaauw let op dat die president netjies en skoon is en vermoed hy het ’n rukkie tevore gestop om te was en te verklee.

      Chiwale en die Unita-eskort ontmoet hom eerste, verneem oor en weer na die ander se welstand en slaan mekaar uitbundig op die rug. Toe kom hulle vorentoe en die drie Recces word aan Savimbi voorgestel. “Terwyl ons so staan, sien ek hier gebeur ’n ding. Een van Savimbi se lyfwagte het Amilcar herken en hy sê vir sy president: ‘Dit is Amilcar Queiroz, ek ken hom’.”

      Queiroz was ’n gewese Unita-lid. Blaauw sien hoe hy en Savimbi mekaar in die oë kyk. “Ek dink, jislaaik, hier gaan nou ’n ding uitbars. Savimbi kan hom dalk vra ‘Nou wat soek jy hier en hoekom is jy nie saam met ons in Angola nie?’” Blaauw wag vir die uitbarsting, maar die volgende oomblik kom Savimbi nader, omhels Queiroz hartlik en hulle klap mekaar op die rug … Tot Blaauw se verbasing is daar ook ’n wit man saam met Savimbi se groep. “Ek kyk die ou so en wys duim op en hy maak ook so.” Later het die man vir Blaauw gesê toe hy so wys het hy geweet hulle is van Spesmagte. Die man was ’n joernalis wat voorheen ’n lid van die Franse Vreemde Legioen was.

      Almal is toe op die voertuie en Savimbi wil hê Blaauw moet voor langs die bestuurder sit, maar hy sê Savimbi moet voor sit. Hulle ry terug en toe hulle naby die basis kom, bars daar ’n opskudding uit. “Dis tromme wat slaan, vroue wat skreeu, al wat leef en beef juig en klap hande. Dit is omtrent konsternasie toe Savim­bi afklim. Hy het eers met sy mense gepraat en hom toe gaan verfris.”

      ’n Ruk later kry die Recces ’n boodskap dat hy om 16:00 met die hele basis wil praat. Almal, ook die drie Recces, moet daar wees. “Die hele kamp word bymekaar gemaak, die troepe is aangetree, die skare is daar en langsaan is die vroue met kinders oral tussen hulle. En daar steek Savimbi die mees dinamiese toespraak denkbaar so reg uit die vuis af. Ek kan sien hoe sweep hy die mense op en voer hulle met sy dreunende woorde mee. Die mense besef hier is hul redding nou, die uitkoms waarop hulle gewag het, is in lewende lywe hier reg in hul midde.”

      Toe Savimbi klaarmaak, draai hy om en kyk na Blaauw. “Major, do you have a message for my people?” Die onverwagse versoek slaan Blaauw uit die veld. “Jislaaik, fluister ek vir Amilcar, wat nou?” “Luister majoor, jy sal nou maar net iets moet sê,” antwoord Queiroz. Blaauw weet hy het nie ’n mandaat nie en kan geen beloftes maak nie.

      Hy sê toe die basiese dinge: Hulle waardeer Unita se stryd en al die ontberinge wat hulle moet deurgaan. Die Suid-Afrikaanse regering het simpatie daarmee. By die huis gaan hy oor alles terug­rapporteer. Sodra die situasie gestabiliseer het, gaan hulle terugkom en Unita in sy stryd ondersteun, want Suid-Afrika is in dieselfde stryd teen kommunisme gewikkel en dis verskriklik. “Ek bly maar vaag want daar is regtig nie iets wat ek kan sê of doen nie.” Die toespraak word vir Savimbi in Portugees herhaal.

      Daardie aand eet hulle saam met Savimbi. Al sy beamptes en personeel is teenwoordig en die drie Recces sit regoor hom. Hy bedank Blaauw en sê hy waardeer sy toespraak baie. Hierop verwys hy na die inspirasie en aanmoediging wat hulle uit die Suid-Afrikaners se besoek put en hoe dit hul moreel lig. Blaauw sê toe vir hom dit was maar bloot ’n gedagte en Savimbi antwoord: “It will be a long struggle.” “Ek stem toe saam en voeg by: ‘Rome wasn’t built in one day’.”

      Die mense saam met Savimbi was eintlik sy hele kabinet. Sy hoof van die weermag, genl Ben Ben (Arlindo Pena), was daar, asook genl Samuel Chiwale, hoof van die leër, en ’n senior staf­offisier wat ook as skakeloffisier opgetree het, genl Alcides Sakala Simões. Daar was ook ’n jong, regop kaptein, Tito Chingunji, wat vlot Engels gepraat het. Hy het in Amerika studeer en Savimbi het hom as ’n toekomstige ambassadeur iewers beskou.

      Tito word toe afgedeel aan Blaauw as sy skakeloffisier. Daarby kry hy ook ’n persoonlike lyfwag met die naam Abel. Hy is korte­rig en geweldig sterk en is ook sy geweerdraer. Abel trek toe sommer dadelik oor na die Recces se hut toe en “hy is orals en alles”.

      Die volgende dag staan hulle vroeg op. “Ons hang maar in die basis rond, want daar gebeur nie juis iets nie.” Tydens die vorige aand se ete het die Fransman egter vir Queiroz gewaarsku dat dit nie naastenby so veilig is as wat dit lyk nie. ’n Sterk vyandelike groep volg Savimbi al van anderkant die Benguela-spoorlyn af. Die groep Fapla- en Kubaanse soldate het ook helikopters tot hul beskikking.

      Dit bly in Blaauw se agterkop maal: “Omstreeks 09:00, die son was al lekker op, hoor ons ’n vegvliegtuig. Ons gaan uit en kyk onderdeur die bome en ek sien dit is ’n Mig-21. Hy vlieg laag oor die basis, so laag dat ek die vlieënier se helderwit helmet duidelik sien. Ek sien hoe duik hy en hy draai so skuins om ons, maar die basis is goed versteek. My eerste gedagte is al die vure maar gelukkig het hulle teen hierdie tyd van die oggend al klaar gekook.”

      Die vegvliegtuig draai om oor die basis in die rigting van die spruitjie aan die suidoostekant waar die vroue water skep en was. “Die vlieënier sien hulle, kry sy vliegtuig se aanloop reg en bestook die vroue. Ons hoor hoe skiet hy vuurpyle af so 500 m van die basis en toe is hy weg. Hoewel hy nie die basis self gesien het nie, weet ek die basis is nou gekompromitteer.”

      Tito kom na Blaauw toe aangehardloop. “You must join the president immediately!” Hulle gryp hul uitrusting, hardloop saam met hom en sluit by Savimbi se groep aan. “We must evacuate the base,” sê Savimbi. “We must move out!”

      ’n Ent weg van die basis kom die groep tot stilstand en bly die hele dag onder die bome. Behalwe vir die vegvliegtuig wat oorgekom het, gebeur daar niks verder nie. Later sluit Tito weer by die Recces aan en sê dat hulle die aand gaan uitbeweeg. Hulle bly onder die bome tot so 17:00, waarna hulle eers weer terugbeweeg na die basis. Daar wag hulle tot net voor donker toe Tito hulle kom haal.

      Die drie sluit saam met hom by die groot konvooi aan. Dis vir Blaauw duidelik dat Savimbi die hele basis laat ontruim het. “Alles en almal is daar: vroue, kinders, bokke en wat ook al, alles wat beweeg, word bymekaar gemaak. Van die mense het hoenderhokke op die koppe met hoenders in, maar almal staan netjies opgelyn. Die troepe beheer die hele uittog. Toe die groep voltallig is en nie­mand in die basis oor is nie, word die teken gegee en daar gaat die hele lot van ons die donker in.”

      Die idee is dat hulle in ’n westelike rigting moet beweeg na die Klein Cunene-rivier. “Ons loop en ons loop en ons loop en dis ’n gedoente met kinders wat skreeu en huil en die ma’s wat hulle pro­beer stilmaak.” Dit is ’n helder nag. Omstreeks 04:00 sê Blaauw vir Queiroz volgens die suiderkruis loop hulle suid. Hy noem dit ook aan Tito en vra dat die konvooi gestop word.

      Savimbi is voor in die konvooi en nadat die boodskap hom be­reik het, kom hy aangestap. “Yes, Major, what is the problem?” Blaauw sê vir hom hulle beweeg nie in ’n westelike rigting nie. Hy wys vir Savimbi die suiderkruis reg voor hulle; ook die rooi­dag wat net-net in die ooste wil breek. Blaauw haal sy kompas uit en sê hy gaan dit nou in ’n westelike rigting stel. Savimbi dink ’n oomblik na, toe sê hy ferm: “Major, from now on you do the navigation.”

      Dit beteken Blaauw moet nou aan die voorpunt by Savimbi in die konvooi wees. Dit raak nou vinnig lig en hy maak nog ’n voor­stel. Hy vra dat Savimbi die konvooi verdeel. Die stof wat die vroue en kinders en die hele groep saam opskop, sal uit die lug deur die helikopters raakgesien word.

      Boonop is die vroue in pienk, wit, blou en helder rokke geklee; die troepe oorwegend in kakie en ou Portugese kamoefleerdrag. Blaauw stel voor dat die vroue met die bystand van ’n sterk eskort in ’n ander rigting gelei word, maar ook weswaarts. Savimbi gee dadelik opdrag dat die vroue saam met die bokke, hoenders en ander diere afsonderlik saam met die eskort (wat amper kompaniesterkte was) beweeg.

      Uit ’n militêre oogpunt is die beweging nou meer takties en ook baie vinniger. “Ek loop so en luister en ek sê vir Amilcar ek hoor ’n chopper. Hy sê: ‘Ja, dis beslis ’n chopper’. Ons hoor duidelik hoe kom hulle met die choppers al op ons spoor aan en hoe land die choppers telkens om troepe neer te sit.”

      Die