Helene de Kock Keur 3. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Helene de Kock Keur 3
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Эротическая литература
Серия
Издательство Эротическая литература
Год выпуска 0
isbn 9780798177511



Скачать книгу

loop jy!” het Hilda gemor, maar plesierig gebloos. “Jou bekkige niggietjie moet liewer ’n onderskeiding kry die einde van die jaar, of ek laat haar sommer dop en dan moet sy alles van voor af deurworstel!”

      Dit het Danien op ’n ander gedagte gebring. ’n Ondeurdagte een wat haar laat sê het: “Ek wens ek kan iets vreeslik lekkers met my klasse doen. Miskien reën dit eendag rande en dan neem ek hulle Frankryk en Duitsland toe.”

      “O hemeltjie, jy sal binne die eerste week van jou kop af wees,” het Hilda met ’n sug gesê, maar ’n fronsie het tussen haar reguit wenkbroue saamgetrek en haar lewendige oë het Danien stip bekyk. Toe het sy haar ronde skouers opgehaal en argeloos opgemerk: “Nou ja, miskien is dit goed as die jeug nog dinge wil aanpak. Maak geld bymekaar en gaan. Loop sing op die Plein of dans in die strate. Bedel en gaps. Dalk kry jy die sowat driehonderd duisend randjies bymekaar.”

      “Só baie?” het Danien gevra. “Dit klink afgryslik duur, maar as ’n mens dit nou uitwerk … wel, dan sal dit seker ongeveer so­veel kos.”

      “Nie as jy slim is nie,” het Henk bedaard gesê. “Jy sal afslag kry vir ’n groep en miskien kan jy reël dat die kinders by private mense tuisgaan. Daar is nou baie buitelanders wat graag iets met ons te doen wil hê.”

      “Wel, as jy ooit so iets regkry, moet jy my saamnooi,” het Hilda gesê, “en ek sal poog om nie meer as een kind per dag van die toerbus af te laai nie. Want o, ek weet hulle gaan my tot in my siel versondig!”

      Henk proes van die lag en skud sy kop. “Die man wat jou een­dag kry, sal beslis nie van verveling doodgaan nie!”

      Dit laat Hilda in haar spore vassteek toe sy loop om ’n derde skeppie uit die pan te haal. “Dink jy daar is so ’n man?” vra sy, haar vaalblonde hare ’n krullemassa om haar gesig met die fyn, bloesende vel.

      “Daar behoort te wees,” sê Henk en tuur na die kos op sy bord. “Jy het ’n mooi gesig. Maar jy kan maerder wees.”

      Danien verstik byna in ’n happie bredie. “Hoe kan jy so iets sê?”

      “Aag,” sug Hilda gelykmoedig, “hy praat nes my ma. Sy dreig soms om my Ethiopië toe te stuur. Terloops, het een van julle al van die sadistiese grappies gehoor wat die skoolkinders vertel?”

      Gou-gou het sy vir Danien en Henk aan die hik van die lag. Sy vertel die een gruwelike grappie ná die ander wat op die arme, uitgehongerde Ethiopiërs sinspeel; eindig kopskuddend dat dit net kinders is wat só uiters wreed kan wees. Maar sy gee Henk ’n kyk wat hom bepaald by daardie kategorie insluit, sodat Danien net nie kan help om weer uit te bars van die lag nie. Sy merk egter dat Hilda tog die derde skeppie van die bredie net so in die pan laat bly het. Sou sy werklik omgee wat Henk dink, wonder sy verbaas. Want dit skyn asof Hilda haar eie reëls maak. Toe sy loop om die geskiedenistoetse te gaan nasien, sê Henk met ’n glimlag: “Steur jou nie aan haar nie, Danien. Ons loseer al twee jaar saam. Hilda is ’n vreeslike goeie mens. Daar’s nie baie van haar soort nie. En moenie dink ek is ongevoelig omdat ek vir haar sê sy’s oorgewig nie. Sy is self nie gelukkig daaroor nie, en sy luister nogal soms vir my.”

      Danien sit nog oor sy woorde en nadink toe die skemer lang skadu’s op die mat in haar woonvertrek maak. Sy wil net opstaan om ook maar voor te berei vir die volgende dag toe mevrou Breda se skugter kloppie aan die deur klink.

      “’n Man vir jou,” sê sy skalks. “En nogal ’n aansienlike een!”

      Danien se hart mis ’n slag en dit kramp in haar binneste van opwinding en angs en wilde hoop. Alfons …? Sy kyk nie in die spieël nie en vergeet dat haar hare in ’n los warboel op haar skouers is soos wat sy dit losgemaak het toe sy van die skool af gekom het. Sy spring die krakerige trappe van die gesellige ou huis twee-twee af.

      Doodbedaard staan Paul Hough haar en betrag. ’n Skewe laggie om sy mond. Maar dit verdwyn stilweg toe sy woordeloos na hom bly kyk.

      “Het jy nog die kraffie en die kelkies?” vra hy verleë.

      Sy knik haastig, teug na asem en sê toe vriendelik: “Natuurlik, Paul. Kom boontoe. Ek het al gewonder waar bly jy … Enne … toe my pa my hierheen gebring het, het hy spesiaal ’n bottel van sy beste sjerrie saamgestuur. ’n Delikate fino …” Sy glimlag op na hom en vervat haastig: “My pa wil natuurlik nog eendag ander soorte sjerries ook maak. Hy praat van ’n manzanilla. Dit het mos so ’n diep bruinsuikerglans. Fleur du Vin lê glo na genoeg aan die see om dit te probeer doen. Die klimaat is reg, en so aan … Jy moet maar eendag kom kyk hoe lyk dit daar.”

      Hy knik glimlaggend, sy oë nie ’n oomblik van haar mond af nie, wat sy ná elke paar woorde in ’n klein senugebaartjie saampers.

      Maar toe hulle bó kom en sy voor stap na die smaakvolle woonvertrek wat sy met Henk en Hilda deel, het haar onstuimige hart sy normale funksie hervat, sodat sy met ’n kalm glimlag die bottel sjerrie uit mevrou Breda se deftige jonkmanskas te voorskyn haal en die kraffie en twee kelkies met ’n glimlaggie vir hom wys.

      “Sien, ek het dit gebêre vir die keer dat jy kom kuier.”

      “Ek sien,” sê hy sag, “en ons moet ’n heildronk drink op jou koms hierheen.”

      6

      Die dag ná Paul se onverwagte besoek kom Danien moeg tuis. Dit was ’n vermoeiende dag en sy het tennis afgerig en na ’n klomp voornemende sprekers vir die graadagts se debat geluister. Sy het skaars klaar gestort en ’n geel langbroek en bloes aan­ge­trek, of sowel Henk as Hilda maak hul verskyning. Sy moet lag kry, want hulle lyk so openlik nuuskierig en sy weet mos hulle wonder oor haar besoeker van die vorige aand.

      “Is jy lus vir slap skyfies?” wil Henk luiters weet, maar sy wakker grys oë bly ondersoekend op haar.

      “Ek het hom opgesteek,” sê Hilda, “want ek kan doodgaan van lus vir iets lekkers!”

      “Oor my dooie liggaam,” sê Danien kwaai. “As julle twee dan nou weer te lui is om vir julle self kos te maak, laat dit aan my oor. Loop doen solank iets anders, dan kom julle weer oor sowat ’n halfuur. Ek gaan paella maak. En daar’s nog sjerrie van gisteraand oor.”

      Hulle bly staan asof hulle geplant is.

      “Sjerrie?” sê Hilda. “Dit klink mos lekker! Wie’t dit vir jou ge­gee! Jou broer …? Was dit hy wat gisteraand hier was?”

      “My broer is op die plaas besig om my pa met parstyd te help. Soos julle seker weet, is dit nou tyd daarvoor. En hy het nie die sjerrie gegee nie. My pa het. En hy het dit gemaak ook. Of liewer, hy het gesorg dat die mos in die vate kom. Die res het die tyd en genade gedoen.”

      Hilda kyk haar fronsend aan. “Goed, goed. Maar wil jy nou hê ons moet glo dit was jou pa wat gisteraand hier was?”

      Danien draai haar om om ’n vrolike voorskootjie van ’n hakie aan die muur af te haal, en buk by ’n rooigeverfde kas om die pak met rys te kry.

      “Dit was dokter Paul Hough,” sê sy styf. “En loop nou. Ek kook nooit voor ’n gehoor nie.”

      Toe hulle byna ’n uur later terugkom, is dit half bedees en elkeen met ’n klein bossie rosies wat hulle ongetwyfeld van die ry miniatuurboompies in mevrou Breda se tuin gegaps het. Hulle loer na mekaar en sê gelyktydig asof hulle iets voordra: “Ons is jammer dat ons te veel vrae vra.”

      Danien pers haar mond saam, maar neem die rosies uit hul uitgestrekte hande.

      “Dankie, maar skaam julle. Nou voel ek sleg.”

      “Moenie,” sê Hilda gemaklik, toe hulle instap. “As jy ons niks wil vertel nie, moet dan nie. Maar as jy natuurlik wil, sal ons dit op prys stel.”

      “Hilda,” maan Henk, “moet nou nie weer alles bederf nie. Jy sien mos Danien het nie lus vir ons nie. Netnou weier sy nog om vir ons kos te gee ook.”

      Oplaas kan sy dit tog nie hou nie, en begin lag. “Ek gee op. Julle is eens te veel vir my. Sit tog, dan vertel ek julle van