.

Читать онлайн.
Название
Автор произведения
Жанр
Серия
Издательство
Год выпуска
isbn



Скачать книгу

      

      Helena Hugo

      Elim

      Lux Verbi

      Vir Kobie Gouws

      Hulle het Mara verlaat en by Elim aangekom. Daar was twaalf fonteine en sewentig palmbome, en hulle het daar kamp opgeslaan.

      – Numeri 33:9

      Ende sy verreysden van Mara ende qaumen tot Elim: In Elim nu waren twaelf waterfonteynen ende tseventigh palmboomen ende sy legerden hen aldaer.

      – Numeri 33:9

DEEL I

      Hoofstuk 1

      Ladybrand-distrik, Februarie 1896

      Dis laatmiddag. Die vure is lankal aangesteek en die ribbetjie lê op die kole en smeul. Willem sit met sy rug teen die wawiel, sy bene voor hom uitgestrek. Die duiwelstwak waarmee hy sy pyp gestop het, het ’n kalmerende uitwerking op hom en die karos wat hy vir sy sitvlak gevou het, is sag en warm. Langs hom lê Kaptein met sy kop op sy pote, sy bek kwylend van hondedrome wat ruik na halfgaar braaivleis.

      Willem krap agter sy ore en hy steun saggies.

      “Ja, oubaas se honne. Wat sal ons sê?”

      Die dier rek sy nek, snuif ’n slag, sug en lê sy kop weer neer.

      Willem tuur oor die deinende Vrystaatse heuwels en vlaktes bedek met soetgras en suurgras, wuiwende rooi-gras so ver soos die oog kan sien. Sy blik vang Basoetoland se grougrys berge, daar waar ou koning Moshweshwe sy volk gevestig het en hom ingegrawe het ten koste van elkeen wat sy gesag uitgedaag het. Die Engelse het hom ’n streep getrek en van sy grond afgeneem, maar Thaba Bosiu is steeds onoorwonne en die Basotho, kenmerkend trots op hul ponies, so deel van die landskap dat geen mens hulle hul verblyfreg durf ontsê nie.

      Die boer op wie se grond hy staning gekry het, Lombaard is sy naam, noem sy plaas Melrose. Hy is met ’n vrou getroud wie se ouers oorspronklik van ’n dorp in Skotland is, ook Melrose, ook tussen berge. Hulle wil eendag soontoe om te sien of alles wat hulle gehoor het, waar is. Daar is glo ’n murasie van ’n kerk wat eeue oud is. Die veld is groener as hier en waterryk, nes koning Dawid se velde van rus. So het Doreen se ouma altoos vertel. Dis nie soos hier waar die winterveld vergeel en die beeste soms van hongerte stink bossies vreet wat die melk sleg maak nie.

      Lombaard het Willem gasvry ontvang, die weiding aangewys, sy geld gevat, hom uitgenooi vir ete en gemaan om nie langer as twee weke te bly nie. Hy boer met beeste, dis groot diere wat baie vreet en die winter kom aan.

      Willem wou by hom weet of hy iets gehoor het van die Rinderpest, ’n besmetlike veesiekte wat beeste en ander herkouende diere binne dae tot die dood toe uitmergel. Hele troppe word glo in ’n ommesientjie uitgewis. Versprei soos veldbrand.

      “Wolhaarstories,” het Lombaard gesnork, en hom gemaan om sy vure dop te hou. “Hier is brand ons grootste gevaar. Maak nie saak of daar voorbrande is nie, hy spring oor. Kyk mooi waar julle vuurmaak.”

      Willem het sy humeur beteuel. Van boerdery kan niemand hom iets vertel nie, niks van die aanslag van wind en weer nie, niks van rugbreekwerk en pyn en teleurstelling nie.

      Lombaard het sy skaap so gekyk en kop geskud asof hul agteruitgang sy skuld was.

      “Ek hoor die Karoo is berug vir sy droogtes. Hoe hou julle dit?”

      “Ons hou omdat die veld altyd weer opstaan. Julle moet by ons kom kuier wanneer dit goed gaan,” het Willem hom genooi. “Miskien soek jy eendag weiding by ons.”

      “Daai bossieveld?”

      “Gras ook.”

      “Ek sal dit glo as ek dit sien.”

      Doreen het ’n boerpampoen oorhandig, ’n bossie vars uie.

      “Pampoen,” het sy gesê, “en dié is uie.”

      Asof hy nog nooit groente gesien het nie.

      “Dankie. Wat kos dit?” het hy moedswillig gevra.

      “Dis ’n geskenk.”

      Sy het geglimlag en hom aangekyk met sulke bekende oë, of was dit hy wat na háár gekyk het?

      Diepbruin met goue vlekkies soos die tieroog wat baron Ludwig se Lutzie trots vir hom gewys het, bruin met goue vlekkies soos Georgina se oë, gevoelige oë. Of was dit sy verbeelding? Ag, maar hy verlang.

      Willem se pyp het doodgegaan en hy gee nie om nie. Hy kyk in die vuur en sien Georgina soos sy die laaste aand op die rand van die bed gesit het, haar hare los tot op haar heupe, skouers sag gerond, die kromming van haar nek so weerloos toe sy vooroor buig en met haar rug na hom toe sê: “Ek is verwagtend. Ek verwag jou kind – ons kind.”

      Die aankondiging het hom nie onverhoeds betrap nie. Hy het dit al maande lank gevrees en was byna verlig toe sy vrese eindelik bevestig word.

      Sy het nie omgekyk nie, net so gesit en wag. Hy het hom op sy elmboog gestut en haar hare sag van haar rug afgelig, haar toe langs hom neergetrek.

      “Jy maak my gelukkig,” het hy gesê en sy plathand op haar maag gesit.

      “En die kind? Maak die kind jou ook gelukkig?”

      “Kinders is ’n seën van Bo, maar ons is nie getroud nie.”

      “Dit weet jy tog van die eerste keer dat ons saamgekom het.”

      “Jy het my verseker jy sal sorg dat jy nie in die ander tyd raak nie en nou wil jy met ’n gesin begin?”

      Dit was ’n blote vraag, nie ’n verwyt nie, maar dit het haar so ontstel. Sy het sy hand eenkant toe gestoot en uitgeroep. “Is dit my skuld terwyl ek alles gedoen het wat ek kon? Hoeveel maande al hou ek die maan dop en tel die dae en bid ek dat ek nie verwagtend raak nie? Het jý jou ooit daaraan gesteur?”

      “Hoekom moes ek? Julle vroumense het julle metodes.”

      “Wat nie almal altyd ewe goed werk nie.”

      “Caroline het dit laat werk.”

      “Ja, en jy hou dit teen haar. Of maak dit skielik nie meer saak nie?”

      Vreesaanjaende gedagtes het in sy kop begin rondmaal. Hy het gewonder wat sy sou doen as sy sou weet hoe hy Caroline op die ou end gestraf het en dat hy niks kan verander aan die gevolge nie – ’n kind soos Cara wat nie hoort nie. Hy is haar pa, maar hy wens meer en meer sy is liewer nie gebore nie. Hierdie kind wat Georgina verwag, gaan hom net so seker soos Cara aan sy sonde en skuld herinner. Sy oortreding gaan gestalte kry, nog ’n skandekind gaan in sy naam gebore word!

      Georgina het gehuil asof sy weet wat hy dink, haar wang nat teen sy slaap. Hy het oorgebuk en haar trane met sy vingers afgevee. Haar vel was klam en souterig toe hy haar soen.

      “Ons sal ’n ander plan maak,” het hy homself hoor sê. “Jy kan weggaan Kaap toe, die kind vir aanneming gee en terugkom. Niemand sal weet nie.”

      “Dis óns kind,” het sy gesê en haar stem het gebreek. “Hoekom wil jy hom weggee?”

      “Ter wille van jou, Georgina, jou reputasie.”

      “Omdat ons nie getroud is nie? Oor die mense, oor wat hulle sal sê?”

      “Die mense gaan jou uitmekaarskeur.”

      “Vir jou ook.”

      Hy het op sy tande gekners. Jan Adriaan se Susanna het gesorg dat die skinderstories by hom uitkom. Daarteen kon hy stry, maar as Georgina begin opsit, wat dan?

      Sy het gelag. “Almal sal weet wie die pa is.”

      “Verkeerd, almal sal raai,” het hy gebrom en van haar af weggerol.

      Sy het hom gehoor en harder gelag. “So maklik kom jy nie los nie, Willem Basson. Ek sal hom hou en ek sal hom grootmaak en hom vertel wie sy pa is. Ek sal die hele wêreld vertel.” Hy is behoorlik uitgelag, maar toe het haar lagbui oorgegaan in ’n klaaglied. “Hoe kan jy dit van my dink? Niemand anders lê by my nie, net jy. Jy is nie meer lief vir my nie, en dis jou kind. Jy het hom verwek!”