As liefde ontwaak. Elsa Hamersma

Читать онлайн.
Название As liefde ontwaak
Автор произведения Elsa Hamersma
Жанр Эротическая литература
Серия
Издательство Эротическая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624072928



Скачать книгу

op Google Earth gekyk.

      Die verkeer is swaar dié tyd van die oggend, veral in die rigting wat sy moet ry. Sy wag totdat daar ’n gaping kom en swaai haar motortjie in die pad in en trap die petrol.

      Vandag is die dag waarop sy haar lewe nuwe rigting gaan gee.

      2

      Meyer Senekal kyk fronsend na die koppie koffie voor hom. Hy is skaars bewus van die lawaai in die koffiewinkel, want die informele gesprek met Nina se skooljuffrou het hom regtig omgekrap – nie die minste nie omdat sy hom letterlik by die skoolhek voorgelê het. Hy sou graag wou gehad het dat Nina se onderwyseres ’n sagte, moederlike tipe moet wees. Nie ’n pop wat skoolhou net totdat sy ’n man gevang het nie. Veral nie een wat hubare vaders by die skoolhek voorlê nie.

      Hy blaas sy asem hard uit. Die vroumens was daar om sy aandag te trek. Haar teenwoordigheid by die skoolhek het bitter min met Nina te make. Hy weet dit so seker soos die son elke oggend in die ooste opkom, want sy is nie die eerste een wat dit doen nie. As sy oor Nina bekommerd was, sou sy ’n formele brief geskryf en hom genooi het om haar te kom spreek. Sy sou hom nie voorgelê het, haar wimpers gefladder, haar oë kunsmatig gerek en haar wulpse lyf rondgeswaai het nie. Hoe moes die simpele vrou ook weet dat hy immuun is teen so ’n taktiek? Haar pogings het geslaag om sy aandag op haar aansienlike bates te vestig, maar nie op die manier wat sy wou hê nie. Dit het hom nie aangetrek nie, maar afgestoot, en nou is hy nie baie seker wat sy eintlik vir hom oor Nina gesê het nie. Iets van meer toesig en hulp in die middag. Dit kan hy vaagweg onthou. En dat sy bereid is om te help – dat sy na sy huis toe kan kom om toesig te hou en aandag aan Nina se probleem te gee – daardie deel van haar monoloog onthou hy baie goed.

      Hy is sinies, besef hy. Dit kan ook nie anders nie, want daar is voortdurend vroue wat reken dat twee jaar van rou lank genoeg is en dat dit tyd is vir hom om na ’n nuwe vrou te soek. En daarvoor sien hy nie kans nie. Iemand wat Estelle se plek inneem …? Hy skud sy kop. Hy is steeds ergerlik, want hy is onverhoeds betrap.

      Die vraag is nou of daar hoegenaamd ’n probleem by die skool is. Wou die jonge juffer net sy aandag trek en plannetjies maak om toegang tot sy huis te kry, of het Nina werklik ’n probleempie? Hy is nie in staat om ’n oordeel te vel nie, want hy weet nie of Nina haar skoolwerk baasraak of nie. Daar was nog net een niksseggende skoolrapport waaruit hy geen afleidings kon maak, buiten dat sy nie baie mooi skryf nie. Maar wat daarvan? Sy is skaars in die skool en haar een arm het baie sleg gebreek. Dalk werk die spiere nog nie honderd persent nie?

      Sy frons verdiep. Die grootste probleem met Nina is dat hy nie weet hoe om haar te hanteer nie. Hy is nie ’n natuurlike vader nie – aard seker maar na sy oupa. Nina was van die begin af Estelle se kind. So tesame het hy hulle liefgehad – het hy hulle lief – met alles waartoe hy in staat is. Hy het nie altyd geweet hoe om dit te wys nie, maar Estelle het hom verstaan en was gul met haar liefde.

      Die kind is egter iets anders. Hy moet Estelle se plek volstaan, maar hy kan nie. En Nina is moeilik, hardkoppig soos hy. Wanneer sy groter is, hoop hy, sal hulle beter oor die weg kom. Dan sal hulle oor aandele, sy sakeryk en internasionale politiek kan gesels …

      Meyer sien hoe sy sakevennoot by die koffiewinkel se glasdeure inloop. Dankie tog, want hy het reeds twee koppies sterk koffie gedrink terwyl hy wag en raak al hoe meer morbied oor sy situasie.

      ’n Uur later ry hy in sy lae sportmotor huis toe. Hy is bly dat hy besluit het om vandag by die huis te werk, want die oggend se gesprek met juffrou Sonnekus is soos ’n lastige brommer wat nie wil weggaan nie. Haar motiewe was nie suiwer nie, tog is sy Nina se onderwyseres en werk sy elke dag met haar. Die vraag is dus of daar ’n werklike of gewaande probleem is.

      Vir die soveelste keer sug hy. Dis moeilik om ’n klein dogtertjie groot te maak. Om ’n ma te verloor is nie iets wat ’n mens op vyfjarige ouderdom reeds behoort deur te maak nie. Die verlies is die ding wat hy en Nina gemeen het.

      Tydens die periodes in die hospitaal vir intensiewe terapie weens die slegte beserings wat sy opgedoen het, onder meer aan haar skryf-armpie, het hy besef dat hy nie weet hoe om sy kind te troos nie. As hy homself kon getroos het, het hy dalk geweet hoe, maar dit is buite sy vermoë. Estelle sou geweet het hoe om die situasie te hanteer. Maar sy is dood, en hy is alleen en onbeholpe.

      Dank die Vader dat Nina reggekom het. En sy lyk ook vir hom gelukkiger vandat sy in die skool is.

      Hy sal moet uitvind of daar ’n probleem by die skool is en dit oplos. Dit is immers sy sterk punt: identifiseer ’n probleem en los dit vinnig en effektief op.

      Toe hy in sy straat in draai, sien hy ’n jong vrou oor die straat stap. Hy ry stadiger. In dié buurt, waar groot huise en parkagtige tuine die standaard is, loop mense nie te voet in die straat nie. Buiten as hulle miskien munisipale werkers is. Maar dit is die vrou beslis nie. Sy dra jeans, ’n T-hemp en tekkies, en daar is ’n sak oor haar skouer asof sy op pad is om inkopies te gaan doen. Haar besondere bos goudblonde hare skyn net-net rooi en in die sonlig lyk dit soos ’n goue waterval. Hy hou van die grasieuse manier waarop sy haar kop dra en hoe sy stap. ’n Mooi vrou, dink hy, en sy het ook rondings, hoewel hulle nie soos juffrou Sonnekus s’n geadverteer word nie. Dit is al asof die noodlot vandag gekies het om hom met vroue met rondings te konfronteer.

      Dan is hy by die hek van sy huis. Hy ry stadig in en trek die rooi motor in die een motorhuis in. Die sekuriteitswag knik vir hom toe hy om die huis na die sydeur toe stap.

      “Meneer?”

      Hy draai verbaas om. Die tuinier staan agter hom met ’n vel papier in sy hand. “Toe ek by die hek staan, die ander vrou, sy’t gegee hom dié papier en gesê ek moet hom gee vir die mense van die huis,” verduidelik hy in sy eiesoortige Afrikaans.

      “Dankie, Mbuli,” sê hy hoflik. Dit lyk soos ’n advertensie, dink hy, iets wat hy sommer in die asblik sal gooi, maar hy wil die man nie aanstoot gee nie. Het Mbuli gesê dis ’n vrou wat vir hom die advertensie gegee het? Dalk die vrou wat hy gesien het? Waarom sou sy advertensies aflewer?

      Met die papier in sy hand stap hy die huis binne. Hy is nuuskierig om te sien wat dit is en vou dit dadelik oop. Dit duur ’n oomblik voordat die groot swart letters by hom registreer. Fronsend en tog verwonderd lees hy die advertensie:

      Instaanmammie

      Beskikbaar elke weekdag direk na skool tot vroegaand. Alles wat Mamma normaalweg sou doen:

      Hulp met en toesig oor huiswerk

      Aanry na en van maats/sportbyeenkomste/musieklesse ens.

      Toesig wanneer maats kom speel

      Verjaardagpartytjies

      Onderhoude met onderwysers

      Kosblik pak

      Skoolklere en ander klere versorg en aankoop

      Enige ander behoefte waarna omgesien moet word.

      Inwoning noodsaaklik. Salaris onderhandelbaar.

      Skakel Danielle by 096 888 2419

      Dis nou te sê. “Instaanmammie”, nogal. Hy skud sy kop. Tog. Hy moet toegee dat die opskrif sy oog gevang het. Dis wragtie nie ’n slegte advertensie nie, moet hy die adverteerder ter ere gee. Weer wonder hy of dit die vrou met die goudblonde hare is wat dit afgelewer het. Dit sal toeval wees as daar twee vroue op een oggend in Andrewstraat was.

      In sy studeerkamer frommel hy die advertensie op en gooi dit met ’n sierlike boog in die asblik. Dan gaan sit hy voor die rekenaar en maak eers sy pos oop.

      Teen tienuur het hy die meeste van sy e-pos deurgewerk. Daar is dié oggend nie veel wat hom interesseer nie. Dis meestal uitnodigings van motorhandelaars, sommige wat hy nog nooit ontmoet het nie, om saam te eet, skemerkelkies by te woon, naweke saam te gaan na eksklusiewe wyn- of wildplase. Soos gewoonlik skryf hy vinnig ’n paar kort sinne om dankie, maar nee, dankie te sê. Laat Nicolaas eerder daardie deel van die onderneming behartig. Dis tog waarvoor ’n vennoot daar is – om die verpligtinge te deel.

      Toe hy die derde keer na die asblik kyk waarin die opgefrommelde papier