Debora en seuns. Helene de Kock

Читать онлайн.
Название Debora en seuns
Автор произведения Helene de Kock
Жанр Историческая литература
Серия
Издательство Историческая литература
Год выпуска 0
isbn 9780798169608



Скачать книгу

dit ’n plek kan wees. Moontlik in Duits-Suidwes-Afrika want sy praat van so ’n wye, oop plek. En Margot, moet tog nie vir haar ‘tannie’ sê nie. Net Debora. Sy’t so gevra.”

      “Goed dan.”

      Margot was min gepla. Al wat sy bitter graag wou hê, was om met die seuns te gaan speel. Buitendien, Margot het haar gereelde sittery in die eikeboom agter die Victoriaanse huis gemis. Dit wel eindelik reggekry om by Erik Schlagerfeldt te gaan speel.

      Debora het ongeveer drie maande ná hul ingetrek het, na die Scotts toe oorgeloop en luiters gesê: “Kom saam met my wanneer ek en jou ma klaar tee gedrink het. Dan kuier jy by my jongste. Hy is ’n bietjie ouer as jy enne … ek sien hy soek smiddae geselskap.”

      “Ek het hom in my klas gesien en ek soek ook geselskap,” het Margot dadelik geantwoord.

      Margot en Erik het van daardie selfde dag af by mekaar aansluiting gevind. Erik is nou, amper ses jaar later, steeds haar heel beste maat. Sy het wel die paar vriendinne saam met wie sy lekker kuier, maar met Erik kan sy oor net mooi alles praat. Nie dat hy praterig is nie, maar hy kan fyn luister.

      Daardie eerste dag het hy haar op en af gekyk en toe gewink dat sy moet saamkom. Hulle het met die gruispaadjie om die huis tot agter in die erf geloop.

      “Jong, kan jy boomklim?” wou hy weet.

      “Tss,” het sy minagtend deur haar voortande gesis. Sy het soos ’n eekhoring teen die stam van die dik eik opgeskarrel, deur die digte blare geloer en gesien hoe hy oopmond na bo staar. “Toe, kóm!” het sy uitgedaag.

      Bo in die boom, hul bene om die dik, skurwe takke geklem, het hy begin praat. Op ’n heel direkte manier.

      “My ma sê ander mense het niks met ons te doen nie.” En toe sy verwonderd stilbly: “Sy sê ons moet net vir hulle goed wees. Dan is als mos reg. Dan is dit ‘genug’!”

      Margot het geknik. “O.”

      “Ja,” het hy net gesê. “Dit is soos dit is.”

      “Hoekom?” Die woord het uitgeglip.

      Hy het haar effens bot bekyk. “Omdat dit nie anders is nie.”

      “Goed,” het sy geantwoord, gretig om die fyn draadjie van vrede weer te heg.

      Sy blik was op die skurwigheid van die stam toe hy sê: “Eintlik is ek bly jy is nou hier want ek is smiddae alleen. Jy moet net onthou ek is ouer as jy.”

      Hulle het daardie dag daar bo in die boom gemmerkoekies, wat Erik in die spens gaan gaps het, verorber. En hy het gefluit. Die ietwat treurige “Byna bewoë” het hy so hartverskeurend mooi gefluit dat sy wou saamsing maar die woorde het vasgesteek omdat sy ontydig hartseer wou raak.

      “Dis baie mooi,” het sy later uitgekry. “Soos julle vioolspel.”

      “Ek weet. Maar dankie.” Daar was ’n gedetermineerde trekkie om sy mond. So asof hy haar ’n ding wou wys.

      Sy het dié trek om die mond goed leer ken. Tog was als wat sy voorgestel het vir Erik goed. Al was hy meer as twee jaar ouer as sy. Die skoolhoof, het Susan Scott beduie, het gereken die seun sal vinniger leer as hy liewer by ’n jonger standerd inskakel. Met dié dat hulle van so ’n ander plek af gekom het. Debora het by nabaat besluit dis dalk die beste.

      Margot het soms gewonder of Erik weet sy is ’n meisiekind want hy het met haar gepraat soos hy met sy broers praat. Op die man af. Sy het by hom van rugby geleer en van skyfskiet. Agter in die ruim erf anderkant die reusevrugteboord het hy haar met die windbuks touwys gemaak. Hulle het na die motorhuis se muur en na die winter se hoop vuurhout geskiet en altyd eers die katte weggejaag. Ook geloer of die koei ver genoeg anderkant die boord in die oop veld wei. Op haar beurt het sy hom met somme gehelp. Later met matesis en boekhou. En gou gevind dat hy bitter slim is daarmee.

      Sy het nog iets by Erik geleer. Maar dit was hulle geheim. Sy het geleer wat ’n lekker woord “genug” is. Hy het so tussen die huiswerk deur vir haar Duits begin leer. En die woorde wat hy haar geleer het op ’n lei geskryf. Duidelik in sy ronde handskrif. Gaandeweg het sy ’n hele klomp Duitse woorde leer ken.

      “Jy’s nogal slim,” het hy een middag geprys. “Net jammer jy kan nie fluit nie.”

      “Ja, maar fluit is ’n talent. Dis hoekom jy so mooi fluit en viool speel.” Hy het danig gevlei gelyk.

      Soos die tyd onder hul uitgegly het, het haar kennis van die taal toegeneem. Sodanig dat, toe Erik haar een middag weet te vertel dat ’n rooikop-Smit-seun in hul klas hom daagliks aan haar vergaap, sy ewe snipperig kon antwoord: “Ich kehre mich nicht an ihn.”

      “Jong,” het Erik kwaaierig gereageer, “ek hoop inderdaad dat jy jou nie aan hom steur nie. Hy’s moeilikheid.”

      “Wirklich? Ich danke meinem Retter!” het sy skalks gelag.

      “Ek’s g’n jou redder nie,” het hy geantwoord. “Jy is self heeltemal in staat om hom reg te sien.”

      “Reg,” het sy gepaai. Besef dat Erik omtrent elke woord wat sy sê heel ernstig opneem. Dis een van die redes waarom sy so baie van hom hou. Hy is ’n soliede vriend.

      Hoe Margot met die twee vol teekoppies in die hande by haar ma se kamerdeur gekom het, weet sy amper nie. Dis of haar hande een ding doen en haar gedagtes ver bo haar liggaam met ander dinge besig is. In die laaste tyd gaan dit al hoe meer só.

      Haar ma se gordyne is oopgestoot sodat die geel maan die kamer lig maak. “Hierso, Mamma.”

      “Dankie. Waarom slaap jy nie?”

      “Ek dink dis die leerdery,” jok sy. Haar ma sal nie verstaan nie, weet sy intuïtief. Hoe verduidelik sy aan haar dat haar dogter deesdae net een ding in die kop het en dis die storie van die mense met punctum?

      Sy sit langs haar op die bed en drink woordeloos tee. Toe sê sy nag in die hoop dat dit in haar kop stil sal word.

      Hoofstuk 2

      As Margot gedink het die slaap sou kom, het sy dit mis gehad. Sy sit in die klas en haar oë is krapperig. Sý is krapperig. Toe Hantie Verwey en Trudie Pienaar haar vra waarom sy so baie gaap, sê sy sommer: “Dit traak julle nie!”

      “Haai, sies,” verwyt Trudie dadelik.

      “Ag, ek’s jammer. My kop is seer van baie dink.”

      Ver van die waarheid maar na aan die probleem. Herinneringe wat spook, maak seerder as baie dink. En die ding is dat sy nie seker is waarom dit so stekelrig is om te onthou nie.

      Sy luister met een oor na die Engels onderwyseres. Miss Elizabeth Williams se soet stem wat geduldig en vir die soveelste maal aan twee meisies die verskil tussen present perfect en present perfect continuous verduidelik, sus Margot net verder in die onthou in. Sy staar na die oop bladsye voor haar, maar sien net twee bruingebrande gesigte. Marnitz en Heinrich s’n. Die ene blou oë en digte swart kuiwe.

      Erik weet juis te vertel dat hulle oor ’n paar weke van Pretoria af huis toe kom. En dis heel moontlik dié mededeling, besef sy nou, wat haar kop so op loop gesit het. Dit was nog altyd só wanneer hulle tuis kom. So of die lug vol vonke raak.

      Sy loer onderlangs na Erik se kant toe. Hy sit in die ry langsaan by die venster, ken in die hand. Hy luister aandagtig na juffrou Williams se relaas oor die tenses. Nou ja, dink Margot effe wrang. Sy tenses is juis nie so foolproof soos hy gereeld beduie nie. Daaroor terg sy broers hom ook nog al die jare. Hy praat Engels met ’n swaar aksent en “is” en “are” gebruik hy roekeloos verkeerd. “Wat maak dit tog saak?” is sy luiterse verweer as sy broers hom daaroor karnuffel.

      Maar wat vir Margot tot op heden dag wonderlik bly, is die drie broers se vermoë om, ten spyte van hul onderlinge verskilletjies, so harmonieus saam strykmusiek te maak. Die twee jongeres, Erik en Heinrich, op viole en Marnitz met sy tjello. Veral as hulle sommer so uit die vuis ’n bekende deuntjie soos “Auld lang syne” of “Prys die Heer met blye galme” begin speel. En