Troukoek maak nie vet nie. Kristel Loots

Читать онлайн.
Название Troukoek maak nie vet nie
Автор произведения Kristel Loots
Жанр Эротическая литература
Серия
Издательство Эротическая литература
Год выпуска 0
isbn 9780624058700



Скачать книгу

toe Jo-Jo hulle “asbint in whaaif” verklaar het. Maar hy het viervoet vasgesteek, botweg geweier om deel te wees van daardie deel van die seremonie. Sy het die tafeldoek op haar kop agtertoe geskuif en haar lippe getuit. Alles verniet.

      “Ons sal vir jou nog Wilson-toffies gee, man,” het sy taamlik desperaat beloof. Maar nie eens ’n hele hand vol lekkers kon hom sover kry om haar te soen nie.

      “Ek soen g’n ’n meisiekind nie,” het hy gesê en weggehol. Haar net daar in haar koerantpapierrok en tafeldoeksluier gelos. Toe al het haar bubbletjie gebars, toe al het sy ’n voorsmakie gekry, toe al moes sy geweet het …

      Dixie sug nog ’n slag toe sy van daardie dag onthou. Sy maak eers seker dat die voordeur agter haar toegesluit is voordat sy op die rusbank neersyg om haar suster tot orde en nugterheid te probeer roep. “Vir hoe lank gaan jy weg wees? Totdat die Australiër ’n verloofring aan jou vinger gesteek of jy hom tot voor die preekstoel gesleep het?”

      “Ja, ja, asseblief. From your lips to his ears, maar voorlopig net vir drie maande. Dis al wat ek van jou vra – om vir drie maande dinge by Bliss and Beautiful te run, dis al.”

      Dixie snak na asem. “Weet jy wát jy van my vra? Hoe kan jy so wreed wees? Vir my wat nooit weer ’n trourok voor my oë wil sien nie, vir my wat in allergiese knoppe uitslaan as ek die troumars hoor of konfetti sien? Ek sweer as ek ooit weer ’n stukkie troukoek eet, sal ek in die hospitaal beland.”

      “Dis alles in jou kop, jong. Dalk sal dit goed wees as jy daardie perd weer klim en ry.”

      “Daardie perd, my liewe suster, was ’n bedonnerde donkie en het my so hard geskop dat ek nooit weer naby een wil kom nie.”

      Sy hoor hoe Jo-Jo sug. “Die bliksem! Die propperse bliksem wat jou so lelik gedrop het! Sowaar, as ek hom in die hande kry …”

      “Sal jy tien teen een met hom trou.”

      “As Bliss and Beautiful jou troue gereël het, sou dit dalk nie in so ’n fiasko geëindig het nie,” mymer Jo-Jo.

      “Asof al Bliss and Beautiful se troues so wonderlik glad verloop!”

      “Ek weet wat ek doen.”

      “Maar nie alles verloop reg nie – as ek kan glo wat jy my al vertel het. Onthou jy die keer toe die troukar langs die pad gekaap is?”

      “Hoe moes ek weet daar was juis tóé ’n bestelling vir ’n Cadillac by die sindikaat?” Dixie hoor die veggees in haar suster se stem. “Buitendien, die bruid was net ’n paar uur laat.”

      “Met rooi oë, sonder skoene en met modderspatsels op haar trourok as ek jou reg verstaan het.”

      “ ’n Uitsondering op die reël,” sê Jo-Jo nonchalant.

      “En wat van die keer toe die bruidegom die vorige aand in sy tux by ’n ontkleeklub was vir sy bachelor’s en … enne …” Dixie giggel effens.

      “Ja, ja, ek onthou! Toe haal die arme ou die ring uit sy sak en ’n pienk panty val uit en beland oop en bloot voor die predikant se voete.”

      “En die bruid buk, tel die bewysstukkie van sy sondes tussen haar duim en voorvinger op en swaai dit voor die bruidegom se neus rond.”

      “Ek wonder of daardie huwelik nog hou …” mymer Jo-Jo.

      “Heel moontlik nie. Selfs die huwelike wat goed begin het, lê heel moontlik al aan skerwe. Die huwelik is ’n sick joke en die liefde is ’n mite. Dis waansinnig om te trou. Finish en klaar.”

      Maar Jo-Jo is nie in ’n bui vir haar gesanik nie. Jo-Jo glo aan die huwelik – of altans aan ’n behoorlike troue, ’n lekker makietie. Met ’n meters en meters wye trourok en ’n plafonhoë troukoek daarby!

      “Wat van al my suksesse?” wil sy by Dixie weet. “Ek het al heelwat paartjies hand aan hand op hul wittebrood en die horison tegemoet gestuur sonder dat die seremonie in chaos geëindig het. Wie weet, as jy in die Kaap kon trou en Bliss and Beautiful kon …”

      “Selfs nie die engele in die hemel sou my troue kon red nie, sus. Die hele affêre was van die begin af gedoem.”

      Maar tóé het sy nie so gedink nie. Sy is deur die hele toetie, het maande voor die tyd al begin beplan daaraan. Die rok was nie presies wat sy wou hê nie, die skoene ook nie, maar die troubelofte het sy in sierletters op ’n kaartjie van goeie karton uitgeskryf en gememoriseer. Vir ewig en altyd … tot die dood ons skei. Die strooimeisies, die blomme, die satynlinte, alles was daar, alles volgens tradisie.

      Wel, nie alles nie. Nie met so ’n dysfunctional family soos hare nie. Daar moes noodgedwonge ’n paar aanpassings gemaak word om Ma van Pa se keel af te hou, oom Bertie nugter te hou en Ouma aan die lewe te hou. Ook om Jo-Jo sover te kry om nie ’n scene in die kerk te maak nie en Pa en sy metgeselletjie met haar goggabeentjies te akkommodeer sonder dat daar ’n helse bohaai losbars nog voordat die konfetti gegooi word.

      Die histerie het van die begin af hoogty gevier, die spanning was voelbaar. Maar niemand sou kon raai presies hóé groot die chaos sou wees wat voorgelê het nie.

      “Wel, dis nou verby,” herinner Jo-Jo haar met ’n moedswillige sonskynstemmetjie. “En daar is nog baie waarna jy vorentoe kan uitsien.”

      “Ag pleeze!” In Dixie se stem is daar nou nie eens die flouste ou sonstraaltjie te bespeur nie. Die glas is g’n halfvol nie, die glas is léég! Die glas is, om die waarheid te sê, flenters geval. In sy maai in aan skerwe gespat.

      “Ek is siek en sat vir mense wat my met sulke clichés probeer troos oor wat gebeur het. Want daar is nottedêm ’n troos voor. It sucks! Dis al wat daaroor te sê is en klaar. So moenie vir my kom vertel daar is nog baie waarna ek kan uitsien nie.” Sy snorklag. “Soos wat miskien?”

      Jo-Jo antwoord haar nie. Wat ís daar after all te sê?

      “Of wag, ek weet,” help Dixie. “Ek hoor dit genoeg. By die predikant wat Ma ontbied het om met my te kom praat toe sy bang was ek gaan in ’n diep dam vol modderwater spring. By die tannie op die hoek wat vir my ’n aaklige ouvroutrui gebrei het sodat ek nie in my alleenheid van die koue sal verkluim nie. Selfs van ’n paar bleeding heart-vriendinne wat hulle nie in my ondergang verlekker het nie. Ek moet glo uitsien na … tarrada, tarrada … drum roll, drum roll: Die. Res. Van. My. Lewe! Asof Die. Res. Van. My. Lewe nou ewe skielik vreeslik opwindend gaan wees.” Sy haal ’n slag diep asem. “Dit was amper so erg as om na die berader te luister!”

      “Was jy sowaar by ’n kopdokter?”

      “Ja, jong. Ma se idee. Iewers by een van die vroue by die vrouevereniging daarvan gehoor. Die eerste twee sessies was verniet en Ma het my met die krag van ’n bulldozer tot daar gedwing, my selfs voor die vrou se spreekkamer gaan aflaai.”

      “En wat sê sy toe?” Dixie hoor hoe skepties Jo-Jo is, ook nie sonder goeie rede nie.

      “Dat ek myself moet omdop en behoorlik moet ondersoek waarom my aura so donker is dat ek dié vernedering oor myself gebring het. Dat ek moet probeer uitvind wat ek gedoen het om sulke slegte karma op te hoop dat dit my op my troudag toegeval het. En, het sy sommer ook voorgestel, miskien moet ek daaraan dink om vals naels te kry, myne lyk so onversorg. Mans hou van mooi naels. En wat van ’n paar haarverlengings? Mans is mal oor lang hare. En sy beveel sommer ook aan dat ek meer dikwels gim toe gaan, ’n paar honderd push-ups by my roetine voeg. Aan my heupe, wat neig na child-bearing heupe, probeer werk omdat dit nog nie tyd is vir childbearing nie. En by implikasie: As ek nie na haar luister nie, sal daar in elk geval maar min kans vir my wees vir enige childbearing in die toekoms. Nie soos ek nou lyk nie. En ook nie met die aura wat my tans omring nie.

      “En, het sy vriendelik dog dringend bygevoeg, sy het die telefoonnommer van ’n goeie skoonheidskundige as ek belang stel. Sy gaan self gereeld soontoe, en ek kan vir myself sien wat die resultaat daarvan is.”

      Dixie aarsel ’n oomblik. “En dit was alles in een sessie ingeprop, die eerste. Ek het gevoel soos ’n ou stuk kougom wat uitgespoeg is en toe onder