Romanse agter die skerms. Helena Hugo

Читать онлайн.
Название Romanse agter die skerms
Автор произведения Helena Hugo
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780624052074



Скачать книгу

      Romanse agter die skerms

      Helena Hugo

      Melodie

      1

      “Koffie vir jou ook?”

      Colette skreef haar oë teen die son. Sy het haar donkerbril in die ateljee vergeet – te gretig om vars lug te soek en haar humeur af te koel, haar teks van voor af te leer. Sy draai om. Janeen Willemse staan ’n paar treë agter haar, haar plankdun armpies om haar anoreksiese lyfie gevou.

      “Colette …?” Janeen se oë blink asof sy enige oomblik in trane gaan uitbars. “Jy is kwaad.”

      “Nie vir jou nie.”

      Janeen was met die intrapslag hardwerkend en gretig om te leer. Sy en Colette is die enigstes wat vanoggend woordvas is en nie kort-kort die hele proses stop om tekste te gryp nie. Colette behoort haar te troos, maar sy soek vandag self ’n skouer om op te huil. Sy mis haar vriendin Vera, wat Paarl toe is om ’n toneelfees te beoordeel. Vera Reynders is haar ma in Mediamanie. Sy is ook haar mentor in die regte lewe. Vera weet wat Wilhelm drie jaar gelede gedoen het en wat dit verg om Emile van dag tot dag te hanteer.

      “Party mense leer nou dat die stoom staan.” Janeen beduie in die rigting van Emile-hulle, wat teks in die hand fontein toe stap.

      Steven het ’n sigaret aangesteek. Asof dit sal help, dink Colette vies.

      “Jy sal jou verstom oor wat hulle in die volgende uur gaan regkry.” Colette kan nie die sarkasme in haar stem keer nie, alhoewel die onderlinge lojaliteit van gevestigde sepiespelers haar daarvan weerhou om Steven en Emile volledig voor ’n nuweling af te kraak.

      Janeen knip haar oë. “Shame, ek’t hulle klaar vergewe, veral vir Emile. Hy’s darem beter as Steve en nou’s hy nog finalis ook.”

      Emile die bekroonde held van die helde. Eks-Meneer Suid-Afrika. Ysterman. Boksheld. Braveheart. Wat nog? dink Colette suur.

      “Dis eintlik ’n pluimpie vir Mediamanie,” maak sy Emile se jongste prestasie af. “Toneel, selfs TV-acting, is ’n spanpoging en jy moet dit nooit vergeet nie.”

      Janeen knik oordrewe. “Ek doen, en dis fab om deel te wees van die span. Om te dink ek speel teenoor Emile Linder én,” voeg sy vinnig by, “teenoor jou en Vera.”

      Dalk het sy betyds die blits van venyn in Colette se oë raakgesien. “Moet sê, julle maak nog steeds ’n nice couple, jy en Emile, al fight julle behind the scenes.”

      Janeen het duidelik genoeg gesien. Sy glo nie meer soos die res van Suid-Afrika dat daar ’n romanse tussen Colette Tredoux en Emile Linder is nie.

      “Maar hy’s so sexy, regtig, ek weet nie hoe hou jy dit nie.” Sy giggel en lek haar lippe af.

      Colette herken die tekens. Sy moet Janeen waarsku. Emile is soos al die mans wat sy ken, net erger. Gebroke harte lê gesaai agter hom en hy het nie ’n idee waarmee hy besig is nie. Hy hou nie op om sy kuif met daardie kenmerkende veeg van sy hand van sy voorkop na agter te stoot, sy vingers teen sy nek te laat afglip, hom so ongeskik uit te rek en jou met sy heldergrys oë uit te daag nie. Hy weet wat hy wil hê en hy kry dit ook.

      Nie meer by haar wat Colette is nie. Dit kan hy vergeet, al moet sy kort-kort op stel teen sy gespierde bors smelt en maak of sy sy enigste meisie is. Al skryf die tydskrifte ook liegstorietjies oor hulle, beriggies en byskriffies wat impliseer dat hulle ’n vuurwarm verhouding agter die skerms het, bly sy eerder die res van haar lewe manloos as om die hoeveel-honderdste vrou op Emile Linder se kerfstok te wees.

      “O, die aankom en die wegstap van hom.” Janeen kreun en knoop haar armpies stywer om haar lyfie.

      Colette frons. “Van wanneer af?”

      “Mans loop partykeer so sexy met hulle heupe, party van hulle kan!”

      Janeen is so oortuig van haar saak dat Colette moet kyk wat sy sien.

      Maar Emile loop nie nou nie. Hy staan en rek hom uit. Sy T-hemp span oor sy gespierde rug, ’n perfekte V-vorm wat uitvlerk na sy breë skouers.

      Janeen sug. Colette ook, onwillekeurig.

      “Feast your eyes solank, ek gaan haal ons koffie,” sê Janeen en maak dat sy wegkom.

      Colette wil protesteer, maar bedink haar. Dit sal nie help om dit te ontken nie: Emile Linder hét ’n netjiese lyf. Feit is, as sy kyk, kyk sy nie na hom nie, sy kyk na volmaaktheid. En dit verstom haar dat iemand soos Emile so geseënd kan wees en so maklik deur die lewe seil. As sy aan hom dink, flits daar skinderbladbeskrywings deur haar kop wat so sentimenteel, soetsappig en naïef is dat sy daarvan kan stik.

      Emile Linder is Meneer Suid-Afrika, hy is vuurwarm, vlymskerp en fassinerend. Emile het die vermoë om vroue van agt tot tagtig om sy pinkie te draai. Sy bankbalans word weerspieël deur sy duur smaak, die motor wat hy ry, sy argitekontwerpte huis. Hy het ’n gesonde obsessie om bo te bly. Hy is ’n alles-in-een-man én hy is enkellopend!

      Vandag oorheers hy weer die kunsblaaie onder opskrifte soos: Lugdiens borg nuwe teater- en TV-toekenning, Linder op kortlys!

      Daar is ’n kortlys van omtrent twintig name, maar dis net Emile se foto wat die koerante haal.

      “Dié keer kry hy sy vlerkies!” het iemand voorspel.

      Emile was nie eens verleë nie. Hy was te besig om woorde te leer en het skaars van sy teks af opgekyk. Weet hierdie mense wat hom wil bekroon dat hy dikwels nie sy woorde ken nie!

      Uit die rigting van die fontein weerklink ’n soort oorlogskreet. Weer Emile. Windlawaai wat hy is. Wilhelm was reg oor hom.

      Maar Colette kan nie help om op te kyk nie. Emile gooi sy teks in die lug. Hy en Steven gaan tekere asof hulle ’n geheime kode ontrafel het. Wie dink hulle beïndruk hulle? Die Nobelprys-komitee?

      “Verkoue?” Frank Reinecke, een van die regisseurs vir die maand, kom staan by Colette. Hy klink besorg, maar dit kan bloot toneelspel wees.

      “Nee, sommer die besoedeling.”

      “Sien wat jy bedoel. Ek dag nogal ek kom lug skep.”

      Onder watter dekmantel? wonder Colette. Die lugreëlaar in sy kantoor maak skoner lug as die mis wat hier buite rondhang.

      Hy gee nog ’n tree in haar rigting. “Nice van Emile se benoeming, nè?”

      Colette staar na haar tone. “Jip, nice.”

      “Ons het jou en Vera ook opgehad, maar dis blykbaar hierdie keer die mans se beurt, dis meesal hulle wat deurgedring het.”

      “Maklik, al wat hulle moet doen, is om mooi te lyk,” brom Colette en voel soos ’n jaloerse geelslang.

      Frank trap rond. “Dis maar jammer hy ken nie vandag sy woorde nie.”

      Colette kan dit nie glo nie. Frank is hul regisseur en hy is besig om haar namens Emile om verskoning te vra. Pleks hy loop en Emile behoorlik gaan uitvreet!

      Frank kan blykbaar gedagtes lees. Hy tuur in die pad af. “Dalk moet ek ’n entjie met hom gaan stap?”

      Colette wag om te sien of hy die daad by die woord sal voeg. Frank raas nooit vreeslik op stel nie. Hy maak foute met grappe af. Soms raak hy effens satiries, selfs neerhalend. Maar hy is nooit vieslik afbrekend of persoonlik beledigend nie, hy vloek nie en hy verhef nie sy stem nie.

      Bewaar jou siel egter as hy jou eenkant neem en ’n entjie met jou gaan stap … En Emile verdien dit vandag. Colette tel haar teks op. Frank kyk af na haar en sy hou nie daarvan nie, dit laat haar ongemaklik voel.

      “Hy en Steven het tyd nodig om daai teks onder die knie te kry. Dis goed geskryf, maar nie maklik om te memoriseer nie.”

      Toe kan Colette nie ’n minuut langer inhou wat moet uit nie. “Jy het nou net gesê hy ken nie sy woorde nie, Steven ook. Het ek my tyd gemors die naweek toe ek gewerk het?”

      “Nee, maar hulle het gaan duik.”

      “O ja, en as ek ook gaan duik het?”

      “Dan het