Wanneer Nicola Meyer agter haar kamera skuil, voel sy veilig en in beheer. Dit laat enige onstuimigheid in haar binneste bedaar. Selfs toe sy, in haar beroep as fotograaf, vlugtelinge oorsee afgeneem het, het sy al die hartseer in haar foto’s gekanaliseer en dit só van haar afgeweer. Sy huil nooit nie. Maar toe sy na Suid-Afrika terugkeer, dreig haar onderdrukte emosies om uit te borrel – en dis alles Francois Olivier, haar skoonsus se baie aantreklike broer, se skuld. Hy soen haar onverwags, vat aan haar, en laat haar wêreld tol. Hy sien die hartseer raak wat sy diep wegsteek en daag haar uit om te erken hoe sy voel. Nicola probeer om met haar kamera afstand tussen hulle te skep. Maar as sy haar weer kom kry, fokus sy op sy sterk gelaatstrekke. En wat is die uitdrukking wat sy daar sien? Geen man het al ooit só na haar gekyk nie. Sal Nicola haar verskansing kan laat vaar? En is dit liefde wat sy deur die lens sien?