Sophie en Sophia was die wenverhaal in NB-Uitgewers se Ultrasatyn-wedstryd vir superstomende liefdesverhale wat die sensuele besing. Reëls van die spel was die naaswenner. Reëls van die spel: Twee jaar gelede was Lukas die onweerstaanbare dosent wat Leila se hart gebreek het. Sy was naïef en onervare genoeg om in sy bed te beland en die reëls van die spel tussen hulle verkeerd te verstaan. Vandag is sy ’n sterker, wyser vrou, en van Lukas het sy al amper vergeet, baie dankie. So iets sal nie weer met haar hart gebeur nie. Tot sy in haar nuwe werkplek instap en sien die meneer Strauss wat haar nuwe baas moet word, is inderwaarheid niemand anders nie as einste Lukas, die man wat haar hart onder sy hak vermorsel het. Sommer met die intrapslag al spat die vonke, en gou is Leila weer besig om ’n sensuele spel van lus en passie te speel – maar sal haar hart hierdie keer as oorwinnaar uit die stryd kan tree? Sophie en Sophia: Op sewe-en-twintig moet Sophie dit nou eenmaal erken: sy benodig sekslesse. Sy’t dan nog nooit die groot O gevoel nie, nog nie eens naastenby nie! Dan gebeur drie dinge byna tegelyk: Sophie kom in kontak met ’n skrywer van witwarm hygromans, raak lus om te begin blog soos in Julie & Julia, én trek in ’n nuwe woonstel in – langs haar broers se pel Derek. Ja, die een wat soos haar amper-ouboet is . . . Maar ook só glad nie! Sophie verbrand haar vingers met Derek, want van hartsake weet sy so min as van kosmaak, en mens kan van albei ’n liederlike brouspul maak. Derek weet veel meer van sensuele sake, en saam-saam beproef hulle allerlei resepte wat hy reeds vervolmaak het. Teen die muur . . . In ’n restaurant . . . In ’n bewegende motor . . . Sophie kan nie uitgeproe raak nie, maar haar seks-blog is ’n bestanddeel wat Derek nie verwag het nie, en die lewe dreig om Sophie alleen voor haar rekenaarskerm te laat . . .
Amelie doen nie groepwerk nie. Sy doen nie motorbestuur nie, en sy doen ook nie mans wat vir haar lelies of juweliersware aandra nie. Ja, sy’t ’n bietjie bagasie – en wie het nogal nie? Maar wanneer spanbou-spesialis en bedryfsielkundige Chris op die prentjie verskyn, en boonop veroorsaak dat Amelie ’n ver ent pad moet ry om sowaar in simpel groepies te gaan rondfoeter, word haar wêreld omgekeer. Die man sukkel met haar en weet nét watter knoppies om te druk. Wanneer sy Chris leer ken en besef hy’t ’n groot, luide familie – presies die soort wat sy so graag om ’n gesellige etenstafel in haar eie tuin sou wil sien, die soort waaroor sy droom sedert haar ouers se ontydige dood – is haar kop aan die draai. Dit verg allerlei ompaaie, en harde werk van Chris se kant, om deur Amelie se bagasieknope te sny. Sal sy haar dinge kan laat staan en die familie wen waarna sy so smag? En dít voor Chris besluit sy’s net té veel moeite?
Kalinda het uit Toronto gekom om navorsing te doen oor Kanadese soldate in die Anglo-Boereoorlog. Sy’s twee jaar terug van Neil geskei en het Suid-Afrika agtergelaat vir ’n nuwe lewe, maar noudat sy terug is in die land, onthou sy opnuut sy dreigende laaste woorde aan haar . . .
Maar vir eers het sy ander probleme. Soos die spook, jou wrintiewaar ’n regte-egte spook, wat in haar kar geklim het op pad na Paardeberg − én haar kantsakdoekie op die sitplek agtergelaat het.
En dan, op die plaas aangekom, het sy te kampe met die wildewragtag van ’n Zach, rekenaarspeletjie-ontwerper en opstandige asmalyer, met sy onversadigbare drang na werklik ekstreme sportsoorte − en die onverklaarbare drif wat dadelik tussen hulle posvat.
Terwyl Kalinda die geskiedenis en haar spook se spore volg, kry sake tussen haar en Zach alte vinnig koers – maar sy hoor mos van sy arrogante drie-date-reël, en sy weet haar hart het dít allermins nodig. Boonop is Neil tóg nie iets van die verlede nie . . .
Aileen het lank rondgeval tussen beroepe en oorsee rondgerits, maar nou is sy terug op Stellenbosch en sy weet wat sy wil hê: haar eie pâtisserie wat Stellenbossers sal wys hoe fyngebak nou eintlik lyk. Sy’t reeds die perfekte perseel gevind, ook. Maar . . . die eienaar van die gebou is absoluut, heeltemal onmoontlik! Allen Muir is alles wat Aileen verfoei: eiewys, humeurig, vinnig om kwaad te word – inderdaad ’n rooikop, nes sy self, maar sowaar, sý ken darem maniere! Wanneer sy saam met ’n vriendin ’n lesing oor persoonlikheidstipes bywoon, weet sy dit vir seker: Sy en Allen sal nooit om dieselfde vuur kan sit nie. En tog . . . Sy’s al baie gesoen, onder meer deur ’n Fransman, en niemand se soene is naastenby so opwindend soos wanneer Allen selfs net naby haar kom nie . . .
Cilla is ’n hoërskoolonderwyseres op die Overbergse dorp Caledon. Haar groot liefde is diere – perde in die besonder – en sy kan van kleins af met hulle kommunikeer. Toe Reynecke Retief se hings probleme gee, vra sy plaasbestuurder haar om te help uitvind wat die perd pla, maar dis gou vir haar duidelik dat Reynecke haar nie vertrou nie. Trouens, hy beskuldig haar daarvan dat sy sy perd wil toor, en haar intuïtiewe benadering staan hom geensins aan nie. Maar sy diepblou oë en swart krulhare is vir haar vreeslik bekend. Het sy hom nie al iewers ontmoet nie? Langbeen, donkerkop Cilla krap terselfdertyd al Reynecke se vooropgestelde idees oor verhoudings en die lewe om. Daar is soveel hartseer in sy verlede . . . sal hy ooit teenoor homself kan erken dat Cilla van altyd af vir hom bedoel is?