In Meisie in die reën besef Marli Conradie, toe sy ná tien jaar weer vir Hilgard Geldenhuys sien, dat haar tienerliefde vir die man voor wie sy grootgeword het, in die dieper liefde van ’n vrou verander het. Daarmee saam weet sy egter ook dat haar liefde wense in die wind is, want Hilgard behandel haar steeds soos sy klein “asjas” wat hy teen die lewe moet beskerm. Hulle keer saam terug na Groeneweide, waar die wyse, warme tant Alma Marli onder haar vlerk neem – veral toe Marli uitvind dat die flerriemerrie van ’n Ulricke Starck haar verleidelike net wyd gespan het vir Hilgard.
In Die grondbaron koop Erika Marais en haar kunstenaarbroer, Henno, die pragstuk van ’n huis, Drie Eike, op hul tuisdorp van weleer met die oog daarop om ’n losieshuis daarvan te maak. Hulle het egter skaars daar ingetrek, of dit blyk dat die verkoper, Riaan van Vollenhoven, se broer, Wilhelm, eintlik die eerste opsie op die huis het. Maar tot tyd en wyl Riaan hulle geld terugbetaal, het Erika-hulle geen ander heenkome nie en sy bly aan as ’n soort van ’n huishoudster. Erika moet toesien hoe Minette du Toit en Amalia Davel hul flikkers by die hoogs hubare Wilhelm gooi . . .
“Ek hou hiervan – ’n seenimfie in my arms, wat die golwe vir my uitgespoel het. En nou is jy myne . . . ek wonder wat ek met jou gaan doen?” Sonja Retief kyk in die groot, donker man se gesig en sy wonder weer eens watter kleur sy oë is, want hulle word steeds versluier deur sy digte wimpers. Sy kan nog die kolkende water van die branders op haar voel, die soutwater in haar mond proe, en histerie wil-wil haar weer oorval. Maar die hitte van sy liggaam teen hare bring ’n skielike warmte in haar, stuur ’n rilling van opgewondenheid deur haar hele wese. Arno Landman . . . dis wat haar ouma Hannah hom genoem het, maar hoe ken sy hom? “Arno Landman, van die plaas Erfdeel?” het haar ouma gevra en vir die eerste keer in haar hele lewe het Sonja haar ouma sprakeloos gesien. Hoekom het die jongman só ’n uitwerking op haar ouma gehad, en vanwaar ken sy hom? Hierdie vrae sou nog baie keer deur Sonja se gedagtes warrel voordat sy eindelik die antwoorde daarop sou kry. En sy sou leer dat dit nie net jong mense is wat gekasty word deur die pyn van die liefde nie. Dat ouderdom nie noodwendig ’n skans om ’n mens bou wat jou vrywaar van die pyn wat so lank, lank gelede in jou binneste gebore is, maar wat jy nooit werklik vergeet het nie.
"Toe Annemarie de Villiers, welgestelde Boeremeisie uit die Kaapkolonie, die onstuimige Boererepublieke besoek om haar vermiste broer op te spoor, het sy geen benul gehad van wat die toekoms vir haar inhou nie . . . Met haar aankoms by haar bestemming ontbreek die blye verwelkoming wat sy te wagte was. Skaars het haar fynversorgde voetjies egter die stasieperron betree, of ’n baie aantreklike, blonde Engelse offisier omhels haar hartstogtelik en lei haar met luide liefdesbetuigings weg. Die “Engelsman” blyk toe ’n Boerespioen te wees, baie aktief betrokke by die Vryheidsoorlog. Die feit dat Annemarie haar hart op hom verloor, dra ook nie by om sake te vergemaklik nie. Sy word daarvan beskuldig dat sy ’n medepligtige was in ’n sameswering teen die Britse regering en slegs haar verraaier-neef se vriendskap met die vyande van sy volk bied haar weer haar vryheid. Haar blonde spioen stuur briefies, blomme, beloftes . . . maar is dit net ’n set om haar samewerking te bekom? En waar bevind haar broer, Jean, hom? ’n Mens kan tog nie sonder meer soos ’n groot speld verdwyn nie . . . "
Die dag toe Lara Wiese haar werkgewer, oom Ryno, saam met die verleidelike Monette Wiegand in sy kantoor betrap en hy kort daarna in ’n ongeluk sterf, word dié geheim ’n ontsettende las in haar lewe. Want hoe moet sy oom Ryno se vrou se beskuldigings weerlê dat sy wat Lara is vir sy dood verantwoordelik was, sonder om die waarheid oor sy ontrou te verklap? Haar enigste getuie is die enigmatiese Wiehahn wat saam met haar by oom Ryno se kantoor aangekom het. Met sy silwerblou oë vind sy hom onweerstaanbaar aantreklik, maar wie is Wiehahn werklik? En wat is sy verbintenis met die pragtige Monette? Uiteindelik, moet Lara leer, ken slegs die hart die ware antwoorde.
Wiandri Rosseau is twee-en-twintig en pas gekwalifiseer as hospitaalsuster. Sy keer terug na haar geliefde plattelandse Huis Groeneweide, waar haar bejaarde tant Lerina en dié se geliefde huishoudster, tant Grietjie, haar gretig inwag. Nou kan sy haar tante versorg en die swierige huis van haar kleintyd geniet. Maar daar aangekom moet Wiandri leer ’n vreemdeling bly nou ook op Groeneweide – die stroewe, dommerige nutsman Floors, van wie sy dadelik net mooi niks hou nie . . . maar tog ook só vreeslik baie!Wanneer Wiandri verder agterkom dat haar peetma, matrone Christelle, uiters wantrouig staan teenoor Floors, is haar verlangde vakansie by die tannies glad nie meer ’n rustige tydjie nie. Waarom dink Christelle Floors is so gevaarlik? En wie ís hy nou eintlik?
Rondom die verbreking van Sanet Grové se verlowing met Nardus van den Berg is daar ’n donker geheim wat sy tot elke prys wil bewaar. Sy sou nooit weer, met enige man, ’n ernstige verhouding aanknoop nie. Toe sy dus agterkom dat haar baas en beste vriend, Tertius Lindeque, ernstig oor haar begin voel, besluit sy om te vlug. Sy moet haar oorlede broer se twee weeskinders versorg en dit gee haar die ideale verskoning om Bothasrus toe te verhuis. Dat haar oom Lukas ’n huishoudster nodig het, gee haar meer rede om vinnig die pad te vat . . . maar weer kom ’n man se liefde ongevraagd Sanet se kant toe. Sy ontmoet die prokureur Jean-Pierre du Pont, wat dadelik op haar verlief raak, terwyl sy weet sy mag nie aan haar hart vrye teuels gee nie. Maar langs oom Lukas woon tant Ellie van Duuren en haar bedorwe dogter, Elrina, wat self ’n ogie op Jean-Pierre het. Sy gaan uit haar pad om ’n verhouding tussen Sanet en Jean-Pierre in die kiem te smoor. Alles werk in haar guns terwyl tant Ellie se giftige tong onmin saai so ver as wat sy gaan. Maar toe begin dinge verander . . .
Die verhale in hierdie omnibus is: Drome van liefde: Rondom die verbreking van Sanet se verlowing met Nardus is daar ’n donker geheim wat sy tot elke prys wil bewaar. Sy sal nooit weer ’n ernstige verhouding met enige man aanknoop nie. Toe sy dus agterkom dat haar baas en beste vriend, Tertius, ernstig voel oor haar, besluit sy om te vlug. Êrens is daar liefde: Lara en Wiehahn se paaie kruis keer op keer. Maar waarom wil hy nie vir haar sê wat sy van is nie? En wat wil hy van haar hê as hy so seker is dat die liefde en die huwelik net ’n bedrogspul is? Vlam van verlange: Carli van Eeden is op twee-en-twintig die enigste erfgenaam van die Van Eeden-miljoene. Maar moet sy met buurseun Vincent trou of sal sy by Meyer, ’n eenvoudige motorwerktuigkundige, haar sprokiesliefde vind? Dit blyk egter dat Meyer geheime met hom saamdra.
Zandri was sewe jaar lank weg van Wyedraai, waar sy as kind salige vakansies by haar grootoom op sy perdeplaas deurgebring het. Die dorpie gons nou behoorlik: Hier kom sy aangery in ’n gekrokte viertrekvoertuig, en ’n gesiene familie van die dorp het haar in Londen, waar sy die afgelope jare gebly het, aangetref met ’n kind . . . háár kind, buite die eg, het sy kwansuis vir hulle gesê. Ou vriende kyk haar nou met afkeer aan en Ferdinand, haar tienerliefde, het baie verander. Maar dis niks, sy is lankal oor hom. En tog . . . waarom is haar lewe skynbaar verstrengel met syne? Kan sy hoop om mee te ding met die vrou uit sy verlede, die een wat volgens sy tant Ragie sy hart gebreek het en hom vir ander vroue ruïneer het? En wat tog van die kind?
In Eiland van geheime beland kinderoppasser Marné op Flaminke-eiland. Dis ’n eiland vol tergende geheime, maar ook liefdesmoontlikhede, want sy moet kies tussen twee interessante mans.In Reënboog van jou hart is Lanja ontnugter deur die liefde. Dan ontmoet sy die skugter argitek Rosseau, en hulle word dadelik vriende. Maar wat voer sy besonder aantreklike broer, Benno, in die mou? Is hy die gewetenlose rokjagter wat almal sê hy is? En in Bittersoet verlange dring Leandri se ryk ouma daarop aan dat sy verloof moet raak aan hul huisvriend Mauritz. Maar Leandri vermoed hy’s eintlik verlief op haar vriendin Anina. Net toe kom ’n geheimsinnige vreemdeling by hul huis aan .