Название | Harry Griesel 2: Die spookplaag |
---|---|
Автор произведения | Sonja Kaiblinger |
Жанр | Учебная литература |
Серия | Harry Griesel |
Издательство | Учебная литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798175388 |
Net meneer Lewis, die geskiedenisonderwyser, is nie juis beïndruk nie.
Hy is bekend daarvoor dat hy gedurende ’n toespraak allerhande moeilike vrae vra. Maar vandag doen hy dit nie. In plaas daarvan gebeur daar iets heeltemal buitengewoons: meneer Lewis is ná vyf minute vas aan die slaap. In die middel van die toespraak val sy kop met ’n klapgeluid op die tafel se blad. Hy is baie verleë en verduidelik dat hy die afgelope ruk baie sleg slaap.
En toe, amper asof hy met homself praat, mompel hy iets wat Otto penorent laat sit. Meneer Lewis sê hy hoor snags stemme. Dit klink amper of dit by sy huis spook!
Intussen lui die skoolklok en die volgende periode het hulle wiskunde. Meneer Phillips het so pas vir Megan, die wiskunde-genie van die klas, uitgevang dat sy nie haar huiswerk gedoen het nie. Hy kyk streng deur sy ronde brilletjie na haar.
Megan sak al laer in haar stoel af. “Ek is vreeslik jammer, Meneer. Dit sal nie weer gebeur nie.”
“Ha-ha!” Vincent loer nuuskierig uit Otto se skooltas en giggel vermakerig. “Juffrou Oorgretig het vergeet om haar huiswerk te doen. Wie sou dit ooit kon raai?”
“Sjuut!” Otto stoot Vincent terug in die voorste sak van sy tas en maak die knip vas. Hy wonder self wat aangaan. Megan is gewoonlik net so pligsgetrou met haar huiswerk soos Emily.
Dit lyk ook nie of meneer Phillips Megan se verskoning sommerso gaan aanvaar nie. “Vergeet?” Hy skud sy kop. “Dis nie hoe ek jou ken nie, Megan.”
“Toe, vertel hom,” moedig Anne, die meisie wat langs haar sit, vir Megan aan. “Hy sal verstaan.”
“Hy sal nie. Ek skaam my dood,” jak Megan haar af.
“Wat sal ek nie verstaan nie?” Meneer Phillips gaan staan hande op die heupe voor Megan en Anne.
“My bulhond, Murphy … gedra hom baie vreemd,” fluister Megan uiteindelik saggies.
“Bedoel jy die slobberige gedoente wat nou die dag my sokkerbal opgevreet het?” vra Stian, maar meneer Phillips gee hom ’n vuil kyk en hy bly onmiddellik stil.
“Gaan voort,” moedig die onderwyser Megan aan.
“Murphy is gewoonlik baie liefdevol. Hy is net partykeer ’n bietjie kwaai.”
“Net ’n bietjie?” lag Stian. “Is dit veronderstel om ’n grap te wees? Die posbode lewer julle pos al by die bure af. Comprende?”
“Maar gister het hy skoon mal geword,” sê Megan met ’n huilstemmetjie. “Eers het hy blaffend deur die hele huis gehol. Toe kyk hy stip na my lessenaar asof hy iets daar sien … of iemand.”
Sy kyk na meneer Phillips wat met geligte wenkbroue na haar gluur.
“En toe wys hy tande en spring op my wiskundeboek.” Megan is na aan trane. “Die handboek het dit oorleef, maar Murphy se naels het my wiskunde-huiswerkboek se bladsye fyn en flenters geskeur. Ek is vreeslik jammer, meneer Phillips.”
Dis doodstil in die klas. Almal kyk na Megan wat verleë na haar wiskundeboek kyk.
“Dis die simpelste storie wat ek nog ooit gehoor het,” laat Stian proesend van hom hoor. “Megan, chica, niemand sal jou glo nie, claro?”
“Ek dink Stian is vir ’n verandering reg.” Vincent hang in die hoek tussen die onderkant en die poot van die lessenaar en hou sy wollerige maag vas soos hy lag. “Megan se brak het haar huiswerk op sy gewete. Ha-ha! Dit moet die oudste verskoning onder die son wees. Ek sou dink die klein voor-op-die-wa-juffroutjie het ’n bietjie meer verbeelding as dit.”
“Bly stil, Vincent,” sê Emily verontwaardig. “Ek dink nie Megan jok nie.”
Otto dink ook nie Megan jok nie. Dit klink amper of Murphy ’n spook gesien en gejaag het.
Is dit moontlik?
“Dink jy ook wat ek dink?” fluister Otto in Emily se oor.
Emily haal haar skouers op. “Presies. Van wanneer af kan Stian skielik Spaans praat? Gewoonlik praat hy nie eens sy eie taal behoorlik nie.”
Otto kan nie help om te giggel nie, maar dan word hy skielik weer ernstig. “Nee, ek bedoel die storie met Megan se hond. Dit lyk of daar …”
“… ’n spook in haar huis is,” maak Emily sy sin vir hom klaar.
“Presies,” sê Otto ingedagte. Eers het dit by meneer Lewis gespook en nou ook by Megan. Dit kan nie toevallig wees nie! Weet Harry van al die nuwe spookaktiwiteite in sy gebied? Otto moet hom so vinnig as moontlik gaan vra.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.