Название | Veearts-vriende 2: Tania en die perdry-kompetisie |
---|---|
Автор произведения | Helen Brain |
Жанр | Учебная литература |
Серия | Veearts-vriende |
Издательство | Учебная литература |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780798170611 |
Helen Brain & Nicky Webb
Illustrasies deur Rico Schacherl
Human & Rousseau
1
Tania soek ’n perd
“Jy sal nooit raai hoekom ek laat is nie,” sê Tania vir Pan toe sy op McTavish, die vet, grys ponie van die ryskool, klim. “My simpel boetie het homself in die badkamer toegesluit om sy apie toiletgewoontes te leer.”
Pan bars uit van die lag. “Toiletgewoontes vir Bieber? Jy kan tog seker nie ’n aap toiletgewoontes leer nie?”
“Tiek dink hy kan. My ma sê as Bieber nie ophou mors in die huis nie, moet hy in sy hok bly.”
“En werk dit?” giggel Pan toe sy op haar pragtige swart en wit Pintabian, Whistle, klim.
“Nee, Bieber stel net daarin belang om goed in die toilet af te spoel.”
“Reg, mense,” roep Lee, hulle instrukteur. “Laat julle perde in ’n twintig meter sirkel draf.”
Tania por McTavish aan, maar hy steek vas en gooi haar amper af. Sy stamp weer aan hom, maar hierdie keer gaan staan hy doodstil.
Lee klik haar tong en roep: “Komaan, jong!”
Maar hy ignoreer haar. Hy ruk die teuels uit Tania se hande en storm na die arena se hek. Tania gil en haar voete gly uit die stiebeuels. Sy kry dit darem reg om aan sy stekelrige maanhare vas te klou.
“Trek hom in, Tania!” skreeu Lee. “Hy gaan oor die hek spring!” Net betyds kry Tania die teuels in die hande en trek McTavish in. Haar hande bewe. Sy haal diep asem en sit haar voete terug in die stiebeuels. McTavish is duidelik in een van sy slegte buie. Feit is, hy het net twee buie – sleg en baie sleg.
Pan en Whistle is reeds op ’n drafstap in die arena en die nuwe blonde meisie, op die blink goudbruin merrie, sit en lag vir haar.
Dis nie net oor haar nikswerd ponie nie. Tania is ook die enigste een in die gevorderde klas wat nog in jeans ry. Pan en die nuwe meisie lyk stunning in hulle roomkleurige rybroeke en swart leer oorbroeke. Dis nie regverdig nie!
“Jammer, Tania,” sê Lee aan die einde van die les. “McTavish raak by die dag meer iesegrimmig, maar ek het nie ’n ander perd vir jou nie. Ek wil in elk geval graag hê jy moet vir die kompetisie inskryf. Ek is seker jy kan ’n roset wen.”
“Ek wens ek kan my eie perd koop,” sê Tania hartseer. “My ma sê as ek die helfte kan spaar, sal sy die ander helfte bysit. Maar die perde waarvan ek hou, kos almal ten minste vyftienduisend rand en ek kort omtrent nog drieduisend vir my deel.”
“Al kry jy nou genoeg geld in die hande, sal jy nie betyds ’n ander perd kan koop vir die kompetisie nie. Dis oor ’n maand. Ek’s bevrees jy sal maar moet klaarkom met McTavish,” sê Lee.
“Ek is so keelvol vir hierdie vet, lui lummel,” brom Tania toe sy en Pan hulle saals bêre en die tooms ophang. Sy loer na die nuwe meisie wat haar goed wegbêre en sien haar sluitkas is vol bypassende pienk toerusting – pienk enkelstewels, pienk saalkleedjie, en selfs ’n pienk diamanté kopband.
Pan sit haar arm om Tania se skouers. “Kom ons gaan gesels met Oreo. Dit beur jou gewoonlik op.”
“Ek het wortels vir hom.” Tania voel sommer beter. Oreo is Tania se gunstelingperd. Hy behoort aan die mooi Duitse vrou, mevrou Bunhoffer.
Oreo is baie bly om hulle te sien. Hy steek sy neus oor die deur en snuffel in hulle sakke vir ’n lekkernytjie. Tania lag toe sy die laaste wortel vir hom gee. “Dis nou klaar, jou lawwe perd.”
Oreo vryf sy sagte, fluweelagtige neus teen Tania se arm. Hy ruik na vars hooi.
“Hou jy van my perd?” vra ’n stem agter hulle.
“O, mevrou Bunhoffer!” roep Tania uit. “Ek hoop nie jy gee om nie. Ek het vir Oreo wortels gegee.”
Mevrou Bunhoffer lag. “Hy’s ’n regte vraat, hierdie een. Ek dink hy hou van jou.” Sy streel die perd se neus. “Gaan jy my mis as ek weg is?” fluister sy vir hom. Die perd lig sy ore en proes saggies. “Wat gaan jy vir ’n hele maand sonder my doen?”
Tania se hart klop skielik vinnig, Sy haal diep asem.
Sy gaan nou baie voorbarig wees, sy weet, maar sy’s desperaat.
“Jammer, Mevrou, maar het jy dalk iemand nodig om hom te ry terwyl jy weg is? Ek sal dit baie graag doen.”
Mevrou Bunhoffer trek haar oë op skrefies en tik aan haar ken. “Hmm,” sê sy.
Agge nee, dink Tania. Nou’t ek te ver gegaan. Sy gaan my skel.
Maar die vrou hou haar hand uit na Tania en sê: “Ek was van plan om vir Lee te vra, maar ek het gesien hoe jy daardie stout klein ponie ry. Jy is baie geduldig met hom. En jy gebruik nie jou peits onnodig nie. Ek weet ek kan jou met my Oreo vertrou, nè, my liefste skat?” Sy leun oor en gee hom ’n soen op sy neus.
“Dankie! Dankie!” roep Tania opgewonde uit. Sy wil die vrou ’n drukkie gee, maar besluit daarteen. “Ek sal baie mooi na hom kyk, ek belowe.”
“Ek gaan een van die dae terug Duitsland toe en dan sal ek hom moet verkoop. Dit sal my hart breek om hom alleen agter te laat.”
“Kan ek hom koop, asseblief,” smeek Tania.
Mevrou Bunhoffer lag. “Ag liefie, hy’s ’n geregistreerde Anglo Arab. Ek gaan hom vir twintigduisend rand verkoop. Jou ouers sal nooit instem nie. Kom nou, Oreo, dis tyd vir ons oefening,” sê sy en lei hom na die kampie. Hy staan doodstil terwyl sy haar voet in die stiebeuel sit en in die saal swaai.
Tania kyk hoe hulle in die oefenkampie op ’n galop draf. Oreo is manjifiek. Sy hare is ’n donker sjokoladebruin en hy het wit sokkies en ’n wit bles.
Hy hou sy nek in ’n perfekte boog wanneer hy op haar bevele reageer. Dis asof hy haar gedagtes kan lees. Oreo is die beste perd in die wêreld. Sy moet hom koop. Sy moet net.
2
Tania maak ’n plan
’n Rukkie later sit Tania en Pan op ’n bankie in die parkeerarea terwyl hulle vir Pan se au pair wag.
“Ek kan dit nie glo nie,” grinnik Tania. “Ek het haar net gevra en sy’t ja gesê. Ek kan nie wag om hom te ry nie. Ek gaan my ma vra of ek elke dag kan kom. Dan sal mevrou Bunhoffer sien hoe goed ek hom hanteer en vir my ’n spesiale prys gee. Ek weet.”
“Ek hoop so,” sê Pan en maak haar Coke-blikkie oop. “Kyk, hier kom die nuwe meisie. Ek wonder wat’s haar naam?”
Die meisie kom vanaf die stalle aangeslenter. Sy is beeldskoon, met lang, blonde hare in ’n dik vlegsel, seegroen oë en ’n gloeiende vel.
“Haai,” sê sy met ’n lui stem en gaan leun teen die muur langs Pan en Tania se bankie. “Ek’s Shardonnay. Waaroor praat julle?”
“Niks,” mompel Tania. Sy het gesien hoe die meisie vir haar lag en sy gaan nie vriendelik wees nie.
“Ons praat sommer net,” sê Pan. “Wil jy ’n slukkie Coke hê?”
Shardonnay trek haar lieflike neus op. “Nee, ek raak nie aan daai goed nie. Dit maak vet,” sê sy en kyk Tania op en af. “Jou perd wat jy gery het?”
Tania bloos. “Nee, dis die skool s’n, McTavish.”
“Die skool s’n?” Shardonnay lig haar wenkbroue. “Ernstig? Jy’t nie jou eie perd nie?”
“Nee, nog nie, maar …”
“Ag shame,” val Shardonnay haar in die rede. “Ek sal dit nie oorleef as ek nie my eie perd