Tafelberg Kort: Die enigma van Hendrik Verwoerd. Hermann Giliomee

Читать онлайн.
Название Tafelberg Kort: Die enigma van Hendrik Verwoerd
Автор произведения Hermann Giliomee
Жанр Биографии и Мемуары
Серия Tafelberg Kort/Tafelberg Short
Издательство Биографии и Мемуары
Год выпуска 0
isbn 9780624057130



Скачать книгу

Hy het dit so gestel: As daar in die grondgebied van suidelike Afrika ’n blanke staat was, soos wat daar ’n blanke Nederland of ’n blanke Frankryk is, en as daar vir swart mense “naturellestate” bestaan het, dan “was daar nie ’n probleem nie”. Dit was inderdaad vir hom die ideale toestand. Maar, het hy voortgegaan, dat dit nie so is nie beteken nie dat ’n mens die ideaal moet laat vaar nie. Die wit mense in Suid-Afrika moet hulle rassebeleid so inrig dat daar so na as moontlik aan die ideale toestand gekom kan word. Dit is onmoontlik om aan enige gebore Suid-Afrikaanse politikus te dink wat so ’n konstruksie die grondslag van sy beleid sou gemaak het.

      ’n “Kerkartikel”

      In 1957 het Verwoerd as minister van naturellesake ’n wetsontwerp ingedien wat ’n sogenaamde “kerkartikel” bevat het. Dit sou veelrassige samesyn in kerke, hospitale, skole en klubs moeilik of selfs onmoontlik maak. Dit het gelyk of gemengde kerkdienste nie meer moontlik sou wees nie.

      ’n Opsienbarende onderhoud

      Piet Cillié se fyn antenna vir die Afrikanerpolitiek het hom gewaarsku om in die storm oor die kerkartikel te probeer ingryp. Verwoerd was nie sommer enige minister nie. J.G. Strijdom, die eerste minister, se gesondheid was swak en Verwoerd is algemeen genoem as een van die sterk aanspraakmakers op die hoogste politieke pos.

      Cillié het ’n vertroulike private onderhoud met Verwoerd aangevra waarin hy aangevoer het dat propaganda plaaslik en oorsee Verwoerd se beeld so verwring het dat ’n teenaksie gebiedend was. Die beste sou wees as die minister ’n persoonlike onderhoud voer met Rykie van Reenen, een van die beste joernaliste van die tyd. Die klem moes nie op die gewone politiek val nie, maar op sy agtergrond, gesinslewe en ander informele bedrywighede.

      Verwoerd was onwillig. Hy hou nie van persoonlike publisiteit nie, het hy gesê. Cillié het aangedring. So baie oor Verwoerd was in onsekerheid gehul. Die Afrikaanse “Who’s Who” het sy geboorteplek as Brandfort in die Vrystaat aangedui. Dat hy op die ouderdom van twee in die land ingekom het, was nie aan baie bekend nie. Hy het immers Afrikaans sonder aksent gepraat.

      Dit was eers nadat Van Reenen met Verwoerd se eggenote Betsie gepraat het en beklemtoon het hoe wenslik die artikel was – vir sowel die Verwoerds persoonlik as vir die land – dat die egpaar toestemming verleen het. Dit het beteken dat die onderhoud “amptelik” was.

      Die artikel met Rykie op “haar vriendelikste beste”, soos Cillié dit stel, het in Junie 1957 in Die Byvoegsel, bylae tot Die Burger, verskyn. Dit begin met die stelling dat Verwoerd in die gedagte van duisende “die grootste paaiboelie was duskant die Ystergordyn”. Dit vervolg: “Die naam H.F. Verwoerd het vir talle opgetower ’n tiran wat met blinde onverbiddelikheid sy land afstuur op rampspoed en bloed.”

      Van Reenen het die artikel so aangebied dat Verwoerd na vore kom as ’n baie menslike figuur, een wat vas glo dat wat hy doen vir die beswil van almal is. Nege jaar later, net ná die sluipmoord op Verwoerd, skryf sy in Die Beeld van 11 September 1966: “Ek was geheel en al oorweldig deur die man se innemendheid en daardie kwaliteit waarvoor ek geen ander woord het as sjarme nie. Ek het deeglik onder die indruk gekom van die vlymskerpe breinkrag wat agter daardie sterk voorkop skuil. Maar die diepste indruk van alles is gelaat deur die antwoord wat hy my gegee het op een bepaalde vraag wat ek hom gestel het: Of hy ooit snags kan slaap met die angswekkend groot verantwoordelikhede wat sy beleidsrigting meebring.

      “Ag, ja seker, hy slaap goed, het hy heeltemal onbevange geantwoord, en toe voeg hy by: ‘Sien, ’n mens het darem nie die kwelling van twyfel of jy dalk verkeerd het nie.’ ” In die 1966-artikel het Van Reenen beken: “Ek onthou ek het selfs ’n bietjie geskrik voor so ’n sekerheid.”