Название | Tafelberg Kort: Die enigma van Hendrik Verwoerd |
---|---|
Автор произведения | Hermann Giliomee |
Жанр | Биографии и Мемуары |
Серия | Tafelberg Kort/Tafelberg Short |
Издательство | Биографии и Мемуары |
Год выпуска | 0 |
isbn | 9780624057130 |
Die enigma van Hendrik Verwoerd
Hermann Giliomee
Tafelberg
Persoonlike herinneringe
Ek het twee persoonlike herinneringe aan dr. Verwoerd waarvan ek graag wil vertel. Toe ek op Porterville in die Wes-Kaap in die laerskool was, het ek handtekeninge bymekaargemaak. Die meeste kabinetsministers het geantwoord met ’n kort briefie deur hul private sekretaris waarby die handtekening gevoeg is. Dr. Hendrik Verwoerd was die enigste wat in sy eie handskrif geantwoord het met ’n persoonlike, vriendelike brief. Hy het geskryf dat hy ’n kind het wat nes ek links is. (Om een of ander Freudiaanse rede het ek dit nodig geag om hom in my brief van hierdie eienskap te vertel en dalk het dit dr. Verwoerd met sy akademiese skoling in sielkunde geïnteresseer.) Ongelukkig het ek sy brief verlore laat gaan – nie ’n baie belowende begin vir iemand wat historikus wou word nie.
Verwoerd se brief aan my was nie ’n uitsondering nie. Dit was beleid in sy kantoor dat geen brief, hoe onbelangrik ook al, onbeantwoord bly nie. Eenkeer het ’n dogtertjie aan hom geskryf met die versoek dat sy haar hasie na hom wil vernoem. Sy private sekretaris, Fred Barnard, het teruggeskryf dat die eerste minister dit “nou nie eintlik ’n mooi naam vir ’n hasie vind nie”, maar dat hy wel sy verlof verleen.[1]
My ander herinnering dateer terug na Junie 1960 toe ek en ’n paar ander studente by ons koshuismaat Siebert Wiid op sy pa se plaas Welgevonden naby Groblersdal gekuier het. Kort ná ons aankoms het dr. en mev. Verwoerd opgedaag. Hy sou die volgende dag ’n groot skare op Groblersdal toespreek in sy eerste openbare optrede ná die aanslag op sy lewe drie maande vroeër en sou oorbly tot die Sondag.
Ek en Siebert se ander studentemaats het etes in die hoofhuis geniet saam met die huismense en hul volwasse gaste. Ek het by ontbyt langs Verwoerd gesit en onthou hoe rustig en oortuigend hy die ondeurdagte stellings van ’n ander politikus aan tafel herformuleer het sodat dié standpunt skielik volkome sin gemaak het. Ek het nog niemand voorheen of daarna so volkome in beheer van ’n situasie gesien nie.
Die liberale skrywer Alan Paton het later ná ’n Verwoerd-toespraak opgemerk: “He had a strange hypnotic power of speech, enabling him to give some of his sternest opponents the eerie and uncomfortable feeling that perhaps he might be right after all.”[2] In ’n groepie van Afrikanernasionaliste was die gevoel des te sterker.
Die Sondagoggend is ’n skildery van dr. Verwoerd as geskenk aan hom oorhandig. Hy het dit vriendelik ontvang, maar gesê daar is ’n klein foutjie: iets is weggelaat. Wat was dit? My “beauty spots”, het hy geantwoord en gewys na sy koeëlletsels. Vir my as leek was dit duidelik dat geen sielkundige letsels deur die gepoogde sluipmoord gelaat is nie. Nooit het ek my daarna gesteur aan bewerings dat Verwoerd die letsels beskou het as ’n tasbare bewys van God se spesiale ingryp en van die besondere seën wat op hom sou gerus het nie.
Ek was nie in die sestigerjare ’n Verwoerd-man nie, want my ouers was by uitstek Die Burger-lesers. Op die flapteks van Jaap Steyn se biografie van Piet Cillié word ek aangehaal: “Myns insiens was hy [Cillié] saam met H.F. Verwoerd en Van Wyk Louw die heel belangrikste Afrikaanse meningsvormers van die laaste helfte van die twintigste eeu. My geslag wat in die Wes-Kaap grootgeword het, was Piet Cillié en Die Burger se kinders eerder as Verwoerd se kinders.”
En tog word die verskille tussen die twee figure oordryf. ’n Jaar of twee voor Verwoerd se dood sê Piet Cillié aan Allen Drury, ’n bekende Amerikaanse skrywer, dat Verwoerd die enigste persoon is wat die land kan lei in die rigting wat “logika, selfbehoud, gewone menslikheid, en ordentlikheid aandui dat dit moet gaan”. Hy voeg by: “Een man een stem is onmoontlik hier, maar die ontwikkeling van elke ras binne sy eie verband is iets anders.” [3]
1. G.D. Scholtz, Dr. Hendrik Frensch Verwoerd, 1901-1966 (Johannesburg: Perskor, 1974), vol. 2, p.17.
2. Alan Paton, Apartheid and the Archbishop (Kaapstad: David Philip, 1973), p. 234.
3. Allen Drury, “A Very Strange Society”: A Journey to the Heart of South Africa (Londen: Michael Joseph, 1968), p. 361.
Gedryf deur “immergie”
Piet Cillié, redakteur van Die Burger van 1954 tot 1978, het ’n woord geskep om die besondere dryfkrag van ’n Hendrik Frensch Verwoerd te beskryf. Dit is “immergie”, ’n nuutskepping wat die woorde “immigrant” en buitengewone “energie” saamvoeg.
Dit pas vir Napoleon, wat van Italiaanse ouers op Korsika gebore is in dieselfde jaar dat Frankryk die eiland van Italië verower het.[4] Dit is ook waar van Stalin, gebore in Georgië iets meer as ’n halfeeu voor Rusland sy land geïnkorporeer het. En ook vir die Oostenryker Adolf Hitler, wat meer as enige gebore Duitser oor Duitsland se roeping gepraat het. Iets het hierdie manne gedryf het om heel bo te kom en dan, ten goede of ten kwade, die politieke stelsel in die land wat hulle aangeneem het, te omvorm.
In die VSA kan ’n immigrant nie president word nie, maar in Suid-Afrika en die meeste ander lande kan so iemand wel die hoogste politieke amp beklee. As hy suksesvol is, word hy op die hande gedra, maar as hy ’n flater begaan, word hy gou as die “verdomde Korsikaan” (Napoleon) of die “vervlakste Hollander” (Verwoerd) uitgekryt.[5]
Vereenselwiging met ’n nasionalistiese beweging is dikwels vanselfsprekend vir diegene wat die volk as ’t ware as ’n verlengstuk van die familie en gemeenskap sien. Vir immigrante en hul kinders is dit egter dikwels ’n doelbewuste daad en oorwoë keuse.[6] Verwoerd het doelbewus gekies om ’n Afrikanernasionalis te word. Heel eerste was hy ’n taalnasionalis. Al het hy Engels vlot gepraat en geskryf, het hy in 1919 by die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf. Hy het die eerste student in Suid-Afrika geword wat reg deur sy studies Afrikaans gebruik het – van sy voorgraadse eksamens af tot sy doktorale proefskrif.
As ’n Afrikanernasionalis wat eers in die joernalistiek en toe in die politiek gestaan het, het Verwoerd die Afrikanergeskiedenis opgehemel – tot irritasie van sy kabinetskollega Ben Schoeman, wat sy loopbaan as stoker op die spoorweë begin het: Hy het altyd van “óns voorgeslagte, óns glorieryke verlede gepraat . . . Dit was asof hy homself en sy ondersteuners wou oortuig van sy Afrikanerskap,” het Schoeman gesê.[7]
En tog was daar iets onmiskenbaar Europees in Verwoerd se benadering tot die rassepolitiek. Afrikaners wie se geskiedenis in die land verskeie geslagte teruggegaan het, is bewus of onbewus gevorm deur die patriargale orde op die plaas met die patriarg en sy vrou aan die spits en diensbodes en werksmense onder hul beheer en “sorg” en kinders wat oor die rassegrens heen