Триллеры

Различные книги в жанре Триллеры

Ys

Rudie van Rensburg

Kassie Kasselman en Rooi Els bevind hulle in die Spesiale Spookeenheid – ’n elite groep van die SAPD. Maar as oud-stasiespeurders word hul vaardighede ernstig bevraagteken deur hul nuwe bevelvoerder. Wanneer ’n Amerikaanse wetenskaplike in ’n Waterfront-hotel vermoor word, is dit ’n gulde geleentheid om hul staal te wys, tussendeur ’n Washington-gekonkel, ’n oud-Pollsmoor-gevangene op vrye voet in Kaapstad en duisterhede in hul bevelvoerder se persoonlike lewe. En dan is daar die man met Die Drang . . . en sy kettingsaag. Ysingwekkende oomblikke wag op Kassie en Rooi.

Kamikaze

Rudie van Rensburg

Kassie Kasselman is kriewelrig. Sy lewe lank poeliesman gewees, maar wragtag, wat hy nóú alles in die media oor sy geliefde SAPD lees. En met sy eie oë sién ook, in kolonel Daniels se kantoor by die Nuweland-stasie. Kassie het juis ’n ander werksaanbod gehad . . . En dan moet dit natuurlik só kom dat hy in die middel van sy loopbaankrisis teen die grieseligste moordenaar nóg te staan kom. Die Pion se moordloopbaan het tentakels wat terugstrek na die Apartheidsera, met moderner euwels soos die Afrika-handel in vervalste medikasie wat ook Kassie se aandag verg. Slim skuiwe, dis wat Kassie moet maak, en gou ook . . . Spioenasie en parlementêre wapenhandel-korrupsie, die ontkleeklub-skemerwêreld en ’n kil moordenaar uit jou nagmerries – Kamikaze is Van Rensburg se spannendste roman nóg!

Eindspel

Wilna Adriaanse

Ellie gewaar hulle in die truspieëltjie langs die orrel, die oomblik toe hulle die kerk binnekom. Sy herken hulle sonder dat sy hulle al ooit gesien het. ’n Oomblik lank is dit asof haar lyf ontspan. Onbewustelik het sy dalk tog verwag dat iemand haar in ’n stadium sal kom soek. Sy kyk hoe albei jong mans hul sonbrille teen hul voorkoppe opskuif, rondkyk en dan in die agterste bank gaan sit. Die dag toe Ellie McKenna haar huis in die Kaap verhuur het, haar motor gepak en begin ry het, het sy nie ’n plan gehad nie. Al wat sy geweet het, is dat sy eers moet wegkom. Sedert die aand toe haar pa by ’n padblokkade doodgeskiet is, was daar nog nie tyd om terug te staan en behoorlik oor alles te dink nie. Daar was werk om te doen. Sy wou aanvanklik uit die polisiediens bedank, maar op die ou end het sy ingewillig om eers net vir ses maande met mediese verlof te gaan. Nou is dit amper vyf maande later en sy stel die besluit daagliks uit. Sy hou van haar nuwe lewe op die platteland; die huis wat sy op die plaas huur, pas haar. Sy het ’n leidam waarin sy swem en twee groot bome waar sy ’n hangmat gespan het. Sommige aande help sy in een van die plaaslike kuierplekke en nou en dan tel sy haar kitaar op en sing laataand vir die vasbyters. Tot haar eie verbasing help sy ook nog sommer hier en daar op ’n Sondag uit as die kerk se orrelis nie kan speel nie. Daar is ’n verleidelike eenvoud aan haar lewe hier agter die Langeberge. Sy vul haar dae en die meeste aande met alledaagse dinge. Dis net wanneer sy nie kan slaap nie dat sy in die spaarkamer gaan sit, daar waar haar kaarte, diagramme en lyste teen die mure opgeplak is. Van name, datums, verbintenisse. Êrens in die web is die naam van haar pa se moordenaar. Sy moet net hard genoeg soek. Dit is die enigste kontak wat sy met haar vorige wêreld het. Die lyste en die rugsak met klere wat sy in die ou murasie weggesteek het. Sy is nie seker waarom sy dit gedoen het nie, maar sy weet sy het daarna effe rustiger geslaap. Terwyl sy hulle in die truspieëltjie langs die orrel dophou, weet sy dit was vir hierdie dag. En sy weet ook sy sal moet gaan uitvind wie haar soek, en waarom.

Web

Naomi Meyer

Sophia se kind is weg. Dalk is sy self óók weg. Haar man is by haar in hul huisie langs Cloetesville, maar sy wonder nietemin soms waar hy is. Sophia droom van Pompeii en van wegloop – weg van elke dag se sleur by die sukkelende webwerf, die baie werkspolitiek en haar man se speurderwerk wat hom aan soveel gesinstragedies blootstel. ’n Jeugliefde staan boonop een dag voor haar in die supermark en krap alles verder deurmekaar. En heeltyd ruik ’n mens die rook: Stellenbosch-kampus is aan die brand. Dan word Sophia ontvoer. Het die man wat haar wegraap – weg, soos sy heeltyd gedink het sy wíl wees – iets met Magriet se verdwyning te doen? Wáár is haar kind? In Naomi Meyer se debuutroman word die Boland en Suid-Afrika se brandpunte helder verlig deur die storie van ’n wit gesin met een bruin kind, hul huiswerker en die vangweb van die geskiedenis.

Die verdwyning van Billy Katz

Chris Karsten

Moordspeurder Ella Neser is terug. Erg hees en met ’n bewing in haar hande wat sy nie vir kolonel Silas Sauls kan wegsteek nie. Maar sy is verbete om haar ou self te herwin. Wanneer sy aangesê word om die spoor te vat van vier geamputeerde voete, ontmoet sy die onkonvensionele oud-speurder Lou Pepler, wat twee dekades gelede die verdwyning van Billy Katz moes probeer oplos. Wat het ’n begrafnisondernemer gemeen met Billy se verdwyning soveel jaar gelede? En is stink Attie regtig verantwoordelik vir die vier linkervoete wat in ’n Checkers-sak in die Botaniese Tuin gevind is? Lou is bereid om Ella met haar voetesaak te help. Maar, soos sy alte goed weet, is niks in die lewe verniet nie . . . En aantreklike Lou Pepler, met ’n voorliefde vir beetsap en sampioene (nie net die gewone eetbare soort nie), is ook ’n man vol geheime.

Labirint

Chanette Paul

Sy gaan ophou vlug van haar eksman en haar verlede en sy gaan dit doen op Leeuwendrift waar sy as verworpeling grootgeword het. Dít besluit Vasti de Leeuw toe haar meenthuis gevandaliseer en ’n besending van haar skilderye vernietig word.Om die verlede te trotseer, is egter nie so maklik nie. Daar is die onlangse verlede waarin sy haar vermoë om ernstige kuns voort te bring, verloor het. Haar nagmerrie-huwelik en die verwoestende gevolge daarvan. Daar is haar kinderdae toe sy in die skaduwee van sowel ryk, dominerende Leon de Leeuw as haar Hollander-oupa gestaan het. Ook die verre verlede waaruit die legende van die leeuman gespruit het; die begin van die twis tussen die Bredells en die De Leeuws. In die hede vaar sy nie veel beter nie. Sommer die eerste dag al begin haar eksman haar weer treiter. Sy is ook skaars ’n week in haar oewerhuis op Leeuwendrift toe een van die inwoners van De Koppe, ’n rykmansbuurt waar die uitruil van seksmaats die reël eerder as die uitsondering is, in verdagte omstandighede sterf. Vasti besef gou sy is baie meer betrokke as wat sy kon vermoed. Veral toe die ontbinde lyk van ’n man naby haar huis ontdek word. Dan sterf nog ’n vrou op agterdogwekkende wyse. En dié is nie die laaste slagoffer nie.Die net begin ál nouer om Vasti trek, want elkeen van die sterftes hou op die een of ander manier verband met haar, haar kuns en die mans in haar lewe.Vasti besef die sleutel om die geheimenisse van die hede te ontsluit, lê in die verlede. Ook dat sy die een is wat die minotaurus in die doolhof sal moet aandurf, met of sonder ’n tolletjie gare. Dat sy die doolhof sal moet vereenvoudig tot ’n labirint.Dit is natuurlik die laaste ding wat die moordenaar kan toelaat. Vasti se vlammetjie sal om meer as een rede gesnuit moet word. Labirint is ’n spanningsroman wat die donker kant van die psige ondersoek, boosheid blootlê waar dit nie vermoed is nie en goedheid waar dit diep verborge is.

Adrenalien

Leon van Nierop

Angs en adrenalien het die demone in Gustaf Prinsloo se onderbewussyn gevoed, hom laat skryf. Toe droog dit op en hy begin aan onttrekkingsimptome ly. ’n Kans om sy roman as rolprent te verwerk dwing hom tot afsondering in ’n huis in ’n godverlate deel van die Bosveld, met net sy verbeelding en ’n mooi rolprent-vervaardiger as geselskap. Hy raak bewus van ’n “derde dimensie”. Nou is die heerlike, verslawende angs terug en kan hy weer skryf. Dan kom hy agter dat die draaiboek ’n nuwe drif in hom laat opkook. Wanneer sy voormalige vrou egter onverwags opdaag, dwing sy die werklikheid in gruwelike en onvervalste gedaante aan hom op. En maak sy ’n nuwe monster wakker . . . Twintig jaar ná die verskyning van Adrenalien besoek Leon van Nierop dié roman opnuut . . . en kom Die Waarheid eindelik aan die lig. Want Gustaf besef dat hy sy eie verhaal nooit behoorlik verstaan het nie – en bowenal dat hy nie alléén kan skryf nie.

Die vierde stem

François Bloemhof

Terwyl Afrikaanse fiksiesoorte al hoe duideliker afgebaken word, raak François Bloemhof se werk minder definieerbaar – en hier is weer ’n storie wat geen resep volg nie. ’n Kantoorwerker, kopdokter en skrywer beïnvloed mekaar op uiteenlopende wyses. Die leser weet meer as dié drie, hoewel nooit genoeg om te voorspel wat kom volgende nie. Maar aan wie behoort die vierde stem? Watter rol speel sy in die gebeurtenisryke intrige, en wat is haar vreeslike oplossing? Aangetrokkenheid en afhanklikheid. Konflik, magspeletjies en die ou-ou stryd tussen haat en liefde. Alles in een sielkundige riller saamgebind met ’n blik op menseverhoudinge wat jy nie aldag kry nie.

Die ontwaking

Chris Karsten

’n Spesiale uitgawe van Abel se ontwaking, met ’n omslag wat aansluit by die film. Die ontwaking se premiere vind op 28 Augustus by die Silwerskermfees plaas en sal in Oktober 2014 in teaters begin vertoon. Rolverdeling: Gys de Villiers as Abel Lotz, Juanita de Villiers as Ella Neser, Paul Eilers as Silas Sauls. Vervaardiger en regisseur: Johnny Breedt. Afrikaans met Engelse onderskrifte. Abel bly op ’n burgerregerf buite Johannesburg waar hy die grootste deel van sy lewe saam met sy versteurde moeder deurgebring het. Daar bewerk hy die velle van klein diertjies wat hy verruil vir die maskers uit Afrika en Suid-Amerika wat hy in sy galery in die stad verkoop. Vir sy vyftigste verjaarsdag het Abel spesiale planne. Hy wil vir hom ’n nuwe gesig uitsoek: dié van ’n mooi jong vrou. Ella Neser gryp die kans aan om haar eerste moord as ondersoekbeampte te hanteer. Hierdie moord is egter ongewoon. Die liggaam is byna sagkens agtergelaat, behalwe vir ’n vreemde wond op die skouer.

Die respektabele meneer Hartslief

Chris Karsten

Wanneer ’n nagklubbaas die katelknaap van sy minnares laat vermoor deur ’n eksentrieke huurmoordenaar, loop hy hom vas in die vermoorde se familie, die Hartslief-clan van Brixton. Elie Hartslief is die brein; Antie Engel met haar sopkombuis en sesde sintuig die hart; neef Boela met die slaghuis, die spiere; en die verfynde Moks met sy helderkleurige mohican en daggakoekies die bek. Elie is deesdae amper respektabel en mnr. Morkel van Morkel Wealth se regterhand, maar sy broer se moord noodsaak dat die Hartsliefs laer trek. Maar hulle teenstanders is die berugte Bogdan Petrescu en sy huurmoordenaar Lood – ’n man met ’n voorliefde vir saksofoonmusiek en ’n aanleg om mense op kreatiewe maniere dood te maak. Dink Coen-broers en Westerns in Brixton en Sandton. Karsten-noir uit die boonste rakke!