Op ’n dag in die vroeë sewentigs merk ’n afgeleë Noord-Kaapse gemeenskap ’n gebou in hul midde waar voorheen net braak grond was. Drie weke later verdwyn die gebou . . . Lees ook oor die vreemde werklikheid van mense wat meer as een keer gelewe het, oor die jong man wat so skaam was dat hy nie op foto’s kon vertoon nie, en oor die intense liefdesverhouding van ’n paartjie wie se lewenspaaie net vir ’n paar sekondes gekruis het.
Die poësie is per definisie iets buitengewoons, dit is waaraan Charl-Pierre Naudé se digkuns by uitstek gestalte gee. Die poësie is ’n ander manier van kyk – die metafoor laat jou iets deur die lens van iets anders sien, en so word die wêreld iets anders, dit word nuut, iets wat van voor ontdek moet word.
Die poësie, wys Naudé, is iets wat algemeen aanvaarde waarhede problematiseer, dit vreemd maak sodat dit weer beleef kan word. In Naudé se poësie is die vreemde belangrik. Vreemde ruimtes, word betree om dit wat bekend is te herontdek, deur as’t ware van buite na binne te kyk. Op hierdie manier besin die digter oor onder meer sy plek in Afrika, oor die verwerking van ’n Europese oorsprong, sy geplaastheid in ’n klein minderheidstaal, oor die praktyk van poësie-skryf en die soeke na insig wat verby eenvoudige digotomieë streef. Hierdie digterlike besinnig loop dikwels uit op ‘n besef van die waarde van die vlugtige, die efemere, die nie-vaspenbare.