In Katastrofes, Breyten se eerste gepubliseerde prosawerk, is bekende elemente wat in sy digkuns ook figureer. Die gepynigde ek bevind hom in ’n absurde wêreld waarin alles aan die verrot is, op soek na identiteit, verwesenliking en troos. Soortgelyke tegnieke as in sy poësie word ook gebruik, soos aaneenskakeling van oënskynlik onverwante assosiasies, gebruik van fantasie, saamvoeg van teenoorgesteldes, alles weergegee met uitsonderlike beeldingsvermoë. Die prosa wyk af van normale perspektiewe en beeld nie noodwendig katastrofes aan soos wat dit normaalweg verstaan word nie. Dit is eerder flitse of fragmente waar sonderlinge gebeurtenisse as gewoon aangebied word of ’n fantasiewêreld as realiteit voorgehou word, met die mens as oorsaak van die katastrofes. Verder is daar mildelik gebruik gemaak van die paradoks, met ontsteltenis wat volg op die doodgewone en die gruwelike wat begroet word met geen verwondering nie. In die Afrikaanse prosa is hierdie stukke uniek, aangesien dit beweeg op ’n paralogiese vlak waar die betekenis redelike begrip ontwyk, maar die impak tog betekenisvol is.
In sy jongste bundel kom ons weer onder die indruk van Breytenbach se skerpsinnige én aangrypende digterstem. Die titel verwys na die tyd digby die dood maar ook ná die dood – vir Breytenbach ook Dina Dood – en roep op vernuwende wyses kenmerkende leitmotiewe op uit sy werk. Die digter is deurgaans bewus van die asimptotiese aard van skryf en tog word die verse ’n poging om die niesêbare op te roep (“daar jou taak, leesskrywer, kyk:/ om die niet se oopgaanwond/ stekie vir stekie met woorde /toe te werk.”). Tegelykertyd bied dié laatwerk ’n troos teen die dood wat wag, vir die digter én leser. Onthou word “’n bevrugting van die verlede”, en skryf uiteindelik “diep bevredigend/ om die laaste duisternis in jou asem te mag mond in Afrikaans”. “Dit is ’n besonderse versameling verse wat ’n groot verskeidenheid bied, oënskynlik oor die alledaagse, maar byna ongemerk ook oor die groot onbeantwoorde vrae wat elke mens vir hulself stel, nader aan die einde van die lewe.” Helize van Vuuren
’n Nuwe digbundel deur een van Afrikaans se heel grootste digters is altyd ’n gebeurtenis, en vyf-en-veertig skemeraandsange is ’n besonderse toevoeging tot die merkwaardige oeuvre van hierdie meesterdigter. In sy jongste bundel (volledige titel: vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte) kom die leser weer eens onder die indruk van Breyten Breytenbach se verbluffende hantering van beelde, vind ons weer eens die belangrikste motiewe in sy werk – die magiese spel met die taal en die woord self, die dans, liefde, verganklikheid.
Die windvanger was Breytenbach se eerste bundel nuwe verse sedert die publikasie van sy Papierblom in 1998 (dit was onder die naam Jan Afrika), wat in 1999 met die Hertzogprys bekroon is. Hier vind die leser weer gedigte oor temas soos reis, tyd, liefde, dood. Maar veral weer, en méér, die kwelling oor die doeltreffendheid van die woord, soos in die gedig “New York, 12 September 2001”: ‘sal enige gedig eendag iewers ooit genoeg gewig mag hê /om ’n handskrif te laat wat praat van val en vergeet …’ En teen die einde van die bundel: ‘En wat sal ek sê het ek geleer, behalwe om met woorde /te speel tot aan die uur van my dood?’
Die windvanger is in 2008 bekroon met die Hertzogprys, W.A. Hofmeyr-prys, die UJ-prys en die Protea-prys vir poësie.
Die subtitel “artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan” dui reeds op die belangrikste temas in Breytenbach se nuwe bundel: afskeid, verganklikheid, die dood. Maar tog is daar ook, soos altyd, gedigte wat ’n viering is van die lewe en van die liefde. Katalekte vorm ’n drieluik met sy vorige twee bundels, Die windvanger en Die beginsel van stof. Soos voorheen, gedigte wat aards is én liries, sintuiglik én abstrak, eenvoudig én kompleks, onthutsend én teer. En steeds, die assosiasie van letsels, oorblyfsels, flardes, van onvolledigheid. En uiteindelik, ’n oorgang na “die bevryding van onsigbaarheid”.Die boek sluit 20 afbeeldings in kleur in, van pampoen tot nar: ’n integrale deel van die teks.
AFRIKAANS: ’n Bundel met gedigte in sowel Afrikaans as Engels: die twee tale staan teenoor mekaar. Breyten noem hierdie siklus verse ’n “collage”, getransformeerde ‘variasies’ van Darwish se werk, met sy eie stem daarin vervleg:“Magmoed Darwiesj (Mahmoud Darwish, 1941-2008) die Palestynse digter, was ’n vriend van my. … Onmiddellik na sy sterfte het ek hierdie reeks begin skryf as fragmente van ’n voortgesette gesprek met hom. … In die daaropvolgende weke sou ek noordwaarts reis – eers na Katalonië en daarna verder tot in Friesland … Die gedigte gee dit weer. … Vertaling, om oor te gaan van die een taal in ’n ander, is ook ’n reis. … Ek beskou hierdie fragmente as lofbetuiging. Miskien ook ’n poging om die sluier te kan wegtrek van die bekende gelaat wat nou stil geword het. … Die beelde, tot ’n mate selfs die ritme en die vormgewing, is syne. … Die reis gaan verder en die gesprek duur voort om tussen die woorde na hom te soek.” (Uit die skrywersnota in die bundel.)Mahmoud Darwish word beskou as die vernaamste digter, nie net van die Palestynse stryd nie, maar van die kontemporêre Arabiese letterkunde. Die hooftemas in sy werk is ballingskap en ontheemdheid. ENGLISH: The collection includes poems in Afrikaans with the English version on the righthand page. Breyten calls these poems a ‘collage’, transformed ‘variations’ of Darwish’s work, with his own voice woven into the process. “Mahmoud Darwish, the Palestinian poet (1941-2008), was a friend. … Immediately after his passing, I started writing the series as fragments of a continuing dialogue with him. … Over the following weeks I was to travel north – first to Catalonia and then on to Friesland … The poems reflect this trajectory. Translation – that is, to proceed from one language to the other – is also a journey. Perhaps too, an attempt to draw the veil from the known face which has now gone silent. … The images, and to an extent even the rhythms and the shaping, are his. … The journey continues and the conversation will carry on, in the attempt to look for Mahmoud Darwish among the words.” (From the author’s notes in the book.)Mahmoud Darwish is regarded as the leading poet of not only the Palestinian struggle but of contemporary Arabic literature. The main theme in his work is the anguish of dispossession and exile.
Breyten Breytenbach se nuwe bundel is in ’n sekere sin ’n terugskouing op die lewe en die digkuns van die digter en het sterk outobiografiese elemente. Die tema van verganklikheid en oud-word loop sentraal, en daarmee saam die wisseling van plek en landskap. Die deernis en empatie met die mens en sy vreemde lewensverlope is aangrypend. Nog selde by hierdie digter het die landskap so ’n primêre en so ’n verhelderende rol gespeel as in hierdie bundel.Eerlike en ongesmukte poësie, kompleks én eenvoudig. By uitnemendheid ‘n “wóórd”-bundel, een wat die taal self bemagtig.