Die SARR Kliniek het vyf jaar gelede Marina se toevlug geword toe haar lewe in duie stort. Dan sien sy Christiaan van Breda se naam op ’n lêer. Dadelik klim die seer en vernedering wat sy só netjies vir die mense om haar – haar ouma, haar kollegas en haar seuntjie – kon wegsteek, terug in haar lewe. Nou voel sy selfs meer magteloos as daardie dag toe sy besluit het om haar rug op haar eksman en sy manewales te keer. Daar is egter ook soveel mooi dinge wat tussen hulle gebeur het, en Marina sukkel om die warboel emosies onder beheer te kry. Sal sy dit regkry om Christiaan se fisioterapeut te wees? Belangriker nog: Hoe gaan sy die groot geheim onthul wat sy al die jare so sorgvuldig bewaar het?
Suster Leanie ontferm haar oor die haweloses in die parkie oorkant Worcester Med, ongeag haar kollegas en haar verloofde, wynboer Henk, se vermanings. Dis háár tyd en geld en as sy iemand daarmee kan help, gaan sy dit doen. Dora en Isak is tog so bly as sy vir hulle kos bring of sommer net gesels. En dan is daar Lu, die lang, maer man met die blou oë en die woeste baard. Hy hou hom eenkant, maar Leanie kan nie anders as om oor hom te wonder nie: Waar sou sy familie wees? Waarom leef hy op straat? Wanneer Lu met bloedvergiftiging en harsingskudding in die hospitaal beland, verdiep Leanie se betrokkenheid by dié man se wel en wee. Terwyl Leanie ’n skokonthulling oor Henk se verlede moet verwerk en matrone Elizna Truter se venynigheid moet verduur, leer sy Lu – nou skoongeskeer en gesond – se hartseer verhaal ken. Sal hy, en Leanie, weer geluk kan vind?
Engela, teatersuster in murg en been, keer terug hospitaal toe ná langverlof. Nie net lyk die gebou binne en buite nuut nie, maar dit spog ook met ’n hele paar vreemde gesigte, waaronder ’n nuwe dokter, Johan Kotze, en superintendent Gerhard de Beer. Engeltjie, soos die personeel haar noem, beland egter sommer met die intrapslag aan die superintendent se verkeerde kant, tot so ’n mate dat die verpleegsters dink hulle moet liewer ingryp. In dokter Johan Kotze ontdek Engela weer ’n opregte vriend, iemand met wie sy ’n lang pad sou kon loop . . . as haar hart en haar kop tog net wou saamstem. En as Gerhard net meer wou lag, ’n bietjie meer mens wou wees! Sal daar ooit ’n krakie in sy pantsermondering kom sodat Engela ’n kykie agter sy onstuimige bruin kykers kan kry? Wat is dit aan haar wat Gerhard so ongedurig maak?