Die mooie Clio Gericke met haar goue hare en viooltjie-oë was vir Jurg verbode: Sy was sy ouboet Arnold se nooi, en ’n man vat nie sy broer se goed nie. Dit was elf jaar gelede. Nou het Clio teruggekom uit Kanada om by Arnold te kuier, hulle jeugliefde te verseël. Die noodlot gryp egter in toe Arnold van sy perd af val en in ’n koma in die hospitaal beland.Tussen Jurg en Clio smeul genoeg hartstog om ’n veldbrand te veroorsaak. Maar wat van hul lojaliteit teenoor Arnold, wat dalk nie gaan bykom nie of sy lewe in ’n rolstoel sal moet slyt? Vir Clio is daar slegs een uitweg, al sal haar hart in duisend stukkies breek.
Wanneer Aralie se eksman, Niel, haar smeek om in sy plek as veearts op ’n wildplaas in Namibië te gaan waarneem, stem sy teësinnig in. Want na haar egskeiding het Aralie dringend geld nodig. Maar op Belelapa is dinge beslis nie wat sy verwag het nie. Daar is geen fasiliteite nie aangesien alles nog in aanbou is. En boonop behoort die plek aan Franco Conradie, “olifant fluisteraar”, TV-man en bekende natuurkenner – en hy is glad nie seker of die tenger rooikop veearts die werk sal kan doen nie. Asof dit nie genoeg is nie, besluit Neil dat hy Aralie ten alle koste wil terugwen. Moet Aralie Niel nog ’n kans gee, of sal Belelapa se aantrekkingskrag sterker wees?
Carmia Basson moet noodgedwonge bedank as junior verslaggewer en word spoedig aangestel as assistent van die bekende skrywer Margo Vermeulen. Margo het dringend iemand nodig wat sal inwoon by haar en haar kleinseun op Skamanga, hul spoglandgoed aan die KwaZulu-Natalse kus. Dit klink idillies, maar spoedig begin dinge krap. Deneys Vermeulen wil Carmia glad nie op sy plaas hê nie. En Tasha, wulpse buurdogter en bekende perderuiter, wil Deneys tot elke prys aankeer. Carmia self moet ook kliphard teen haar wederstrewige hart baklei – totdat Deneys haar van die landgoed af wegjaag . . .
Met sterre in haar oë en romantiese drome in haar hart het Tinka van der Bijl drie jaar gelede na Parys vertrek. Nou is sy terug in Pretoria, ontnugter, sonder blyplek en met slegs die droom van haar eie boekwinkel om haar aan die gang te hou. Haar seepbel het gebars en boonop het sy, net voor sy weg is, die held van haar drome – haar paradysman – se hart gebreek. Tinka se voete word letterlik onder haar uitgeslaan toe Rheeder Vermooten, haar donkerkopheld, die deur oopmaak van die eerste tuinwoonstel waarna sy gaan kyk. Rheeder is glad nie ingenome om haar te sien nie. Maar een belangrike les het Tinka van der Bijl egter geleer: die hart is nie bloot ‘n biologiese orgaan wat bloed pomp nie. Die hart praat ook ‘n taal wat ‘n vrou nie altyd verstaan nie. . .