Nols Retief se kleinkinders kry swaar: Nols junior, wat die pad gevat het ’n week na sy oupa se testament gelees is, kruip nou – vier jaar later – steeds in Midas Hammond se dobbelstad weg. Janneman, wat met Nols se verloofde getroud is toe hulle ontdek dié is swanger, sit nou opgesaal met ’n terminaal siek kind en ’n vrou wat haar hele lewe wy aan die versorging van dié arme mensie. Isabé, wat ’n uiters belowende verpleegloopbaan in die stad gehad het, plak nou pleisters op die kinderhuiskinders se nerfaf knieë . . . En soos hulle op Paradys wag op die reën, wag elkeen ook op uitkoms vir hul persoonlike probleme, en hoop hulle dat die liefde sterk genoeg sal wees om te oorwin . . .
Toe ou Nols Retief, die patriarg van Paradys, op rype ouderdom sterf, is almal hartseer maar geensins verbaas nie, want hy het ’n vol en regverdige lewe agter die rug – daarvan kan sy seuns Helgard en Arnold, en sy skoondogters Elise en Rita en ook hulle kinders getuig. Maar op die dag dat sy testament gelees word, bars die bom. Heeltemal onverwags word die sondes van die vaders (en die moeders!) geopenbaar, en moet elkeen van die kinders – Nols junior, Isabé en Janneman – skielik bitterlik swaar dra aan die gevolge van hul ouers se dade – gevolge wat ook tot in die volgende geslag gevoel sal word . . .
Elise, ’n Kaapse hawehoer wat tot inkeer gekom het, vertrek na Paradys, die Karooplaas waar sy grootgeword het, maar keer kort voor lank weer terug. Sy het die fout gemaak om teenoor Helgard, die jong man wat op haar verlief geraak het, te bieg oor haar verlede . . . Sy begin studeer en vorder goed – tot die dag dat ta’ Vroeteltjie, Paradys se huishoudster, laat weet sy móét huis toe kom, want haar pa is siek en het haar nodig. Die eerste mens in wie Elise haar op Paradys vasloop, is Helgard. Helgard wat haar uit sy lewe verban het omdat sy eerlik was oor haar verlede, maar dit nou baie duidelik maak dat hy Elise hoegenaamd nie vergeet het nie . . . al is hy deesdae ’n getroude man met twee kinders.
Toe Midas Hammond, die geldkoning van die dobbelstad Babel, deur ’n hartaanval platgeslaan word, besef hy dat sy lewe bitter arm is aan liefde. So eensaam voel hy, dat hy ’n landwye soektog loods na die kinders uit sy jeughuwelik – kinders wat hy skaars kan onthou, maar wat hy nou met ’n allesverterende passie wíl vind, ongeag wie of wat hulle geword het in die twintig jaar sedert hy hulle laas gesien het. Hy vind hulle wel, maar wonder of dit nie tevergeefs is nie, want sy dogter Zia is sterwend en sy seun Sean, alias Vegter, is vasgevang in ’n skemerwêreld van bendes, gesellinklubs, foonsnolle en hawehoere – ’n wêreld waar slegs die straatwerkers dapper genoeg is om dit saans ná donker te waag . . .
’n Heerlike tweeluik. In Appelbloeisels en jasmyn hou Erika Hough stoksielalleen wittebrood aan die suidkus. Wanneer ’n mosbevlekte bottel uitspoel op die strand – met die adres van ’n wildvreemdeling daarin – huiwer sy nie om haar siel op papier bloot te lê nie. Die gevolge van dié brief sou sy in haar wildste drome nie verwag het nie. Sy word byvoorbeeld ’n gratis vakansie op die Comore aangebied, en dan word dinge éérs interessant. En in Erf dan my drome wil Erika die rolstoelgekluisterde hotelbestuurder Jean-Paul bystaan wanneer sy sekretaresse bedank. Erika se man, Philippe, is daarteen gekant, en die kloof tussen die egpaar raak al hoe groter – veral toe Philippe saam met ’n beeldskone blondine begin rondrits.
Ena Murray se “Paradys-sage” is ’n familieverhaal wat oor vier geslagte strek en enige hedendaagse TV-sepie die loef afsteek wat betref rykheid aan intrige. Die verhale in hierdie omnibus is Die dieper droom, Huise van klei, Soekers na die son en Terug na Eden. Die gemene deler in al vier heerlike verhale is die Karooplaas genaamd Paradys.
Hierdie opeenvolgende romans gaan oor die aangrypende ervarings van ’n jong meisie uit die onderdorp wat uiteindelik die vrou van ’n vooraanstaande politikus word. In As die wind daaroor gaan ontdek die agtienjarige Nickey dat sy swanger is . . . pas nadat haar skoolkys, Terence, vertrek het om grensdiens te gaan verrig. Ramp volg op ramp . . . en ná die nuus dat Terence gesterf het in ’n landmynontploffing, willig Nickey eindelik in om te trou met sy pa, Christian Basson.In Die wind het gaan lê volg ons die onstuimige verloop van Nickey en Christian se huweliklewe ná dit aan die lig kom dat Terence steeds lewendig is . . .
In Die ryper jare kan Amanda, mannekyn by ’n bekende modehuis, nie verstaan hoekom haar ma skielik so ánders optree nie. En so ook haar baas, die man wat haar hart verower het.In En die verlange bly trou Wouda met ’n man wat sy geglo het haar geluk kon bied, selfs liefde . . . tot dáárdie nag, hul huweliksnag . . .En in Die man met die geel oë gee die geheime agent majoor Brand Bröm se nuwe werkgewers hom ’n opdrag: om saam met ’n vrou van sy keuse een nag lank die stad rooi te verf, en homself dan doelbewus skandelik gedra, sodat hy sy oneervolle ontslag uit die weermag sal ontvang – hy kies Weza de Groote, die mooi regstudent wat ná dié nag vir ewig uit sy lewe sal moet verdwyn . . .
Die hoofkarakter van ’n Vrou soos Salome is die liefling-ster van die sangverhoog. Maar die joernalis Jaco Retief sien ’n weerloosheid in dié Salome Truter. Impulsief nooi hy haar vir ete, en ontdek dan dat daar agter die openbare beeld ’n oneindige hartseer skuil.In Twee paaie na Khuana kan Anel Bredenkamp nie verstaan waarom twéé mans skielik so gretig is om haar Bosveldplasie te koop nie. Eindelik staan sy alleen in hierdie onheilspellende boswêreld waarin nie net die twee geheimsinnige mans nie maar ook verwoede buffels, gewetenlose wilddiewe en ’n “vroulike duiwel” ’n sinistere rol speel.In Verwonde jare spat Daniël Pohl se wêreld aan skerwe met die verskyning van ’n skokkende nuusberig: ’n middeljarige man in ’n silwergrys Mercedes het op straat ’n onwelvoeglike voorstel aan ’n vrou gedoen. Toe sy weier, het hy haar baba in sy stootwaentjie doodgery en weggejaag. Daniël het presies só ’n motor, en hy’s dieselfde middag opgemerk in die omgewing waar die voorval plaasgevind het…
In die lekkerleesverhaal Señor die seerower wen verpleegster Andrea Smit ’n allemintige bedrag in ’n blokraaiselwedstryd – haar lewe verander ingrypend, en op ’n tropiese eiland kruis haar pad met dié van ’n aantreklike Spanjaard.In die speelse verhaal Junior in saal 7 gee ’n wit leuentjie daartoe aanleiding dat almal dink leerlingverpleegster Louwrinda Kemp het ’n verhouding met haar uiters aantreklike nuwe professor in Verloskunde. Maar kort voor lank besef sy dat daar tóg waarheid in hierdie gerug mag steek.In Kaalvoet Katryntjie verloor die hoofkarakter haar hart aan haar voog, Festus Dumas, wat vas oortuig is dat sy nog ’n giggelende tiener van om en by sestien is. En dan moet sy, gekwalifiseerde verpleegster van twintig, toekyk hoe die listige Shirley Rossouw vir Festus probeer verlei.