Die nag van legio is Du Plessis se debuutdrama. Die karakters in die drama is almal geestelik versteurd en die handeling word in een nag voltrek. Hierdie drama besorg aan hom die W.A. Hofmeyr-prys in 1970 en die Hertzogprys in 1972.
Onder die storievertellers is PG du Plessis ’n gerekende en bekende. Nie net op die TV of van die verhoog af nie, maar ook in koerantrubrieke en in die bundels wat reeds in boekvorm verskyn het. Baie van die stories is oorgewerk vir die TV en het in ‘n ander medium gestalte gekry (soos die onsterflike reeks Koöperasie-stories). Het olifante elmboë en Neklis, twee van sy vroegste kort-kortverhaalbundels, gaan nou onder ’n nuwe titel gesamentlik (en met nuwe verhale bygeskryf) ’n heruitgawe beleef. Die titel van die samestelling kom uit die ou slinger-luie van plaas-oproepe: Kortetjies en ‘n lange. Maar nét ‘n heruitgawe is dit nie, want PG het, in sy eie woorde, “aan party stories gepeuter” – onder meer aan dié wat hy tydens sy verhoog-optredes (eers saam met Alexa Strachan en later met Ollie Viljoen, Valiant Swart en Pietman Geldenhuys) vertel het. Van hulle, so sê hy, het hy nou effens in die rêrige verteltrant van ’n verhoog af oorgeskryf, aangedik en verander – want die beperking van die koerante en tydskrifte was van sy nek af. Hulle lees dus anders, ligter en soms uitgesponne vir ’n eerste-aanhoor-verstaan. Dus trek die bepeuterdes allermins op “well-made”, gekristalliseerde kort-kortverhale. Dalk kan mens hulle, in die ware sin van die woord (weer uit PG se mond uit) rêrige bek-vertellings noem. Maar daar is ook die lange by: ’n rasegte kortverhaal wat met sy een voet in die Anglo-Boere-oorlog staan en met die ander een so tussen 1948 en vandag. “Ons mond”, heet hy en aan hom is daar nie ’n jota of tittel verander nie, omdat die verhaal – volgens PG – te waar van sy lewe en te heel in homself is.
Dit is die jaar 1901. Die son het gesak oor ’n verskroeide landskap, en die landskap verwelkom die duister. Die doringdraad en tentrye van die konsentrasiekamp is nog net ’n swart vlek op die vlakte. En aan die rand hiervan gloei ’n tent soos ’n lantern. Diegene wat vanuit die duister na hierdie tent sou staar, sou teen die helder tentdoek die silhoeët sien van ’n man wat oor die klawerbord van ’n klavier buig. Die een wat vanuit die nag sou kyk, sou ook op die kampbed die regop gestalte van ’n sittende vrou kon uitmaak. Diegene wat vanuit die kamp sou luister, hulle wat nie reeds volledig deur die stryd tussen lewe en dood ingeneem is nie, sou dalk agter die onbeholpe klavierspel van die man die vergeefse smagting hoor, agter die wankelende note die stilte wat groter is as enige geluid.Jare later buig majoor Philip Brooks in ’n biblioteek oor ’n vergelende foto. En hy probeer vasstel wat dit is wat hy op daardie foto sien. Hy probeer onthou wat gebeur het. Dit was hy in daardie tent. Die vrou op die bed was die mooiste vrou wat hy nog gesien het. Die klavier het gekom uit haar huis, een van die plaashuise wat sy soldate afgebrand het. Nou probeer hy kyk met die oog van Joey Drew, die skeeloog sukkelaar van Somerset, Engeland, wat die foto’s geneem het. Hy kyk na ’n foto van ’n vrou met ’n baba in haar arms. Hy weet wat die pa van die kind nie geweet het toe hý die foto gesien het nie, dat die kind dood was. Dat hy een van die duisende slagoffers van die konsentrasiekampe was. Hy kyk na ’n familiefoto van die Van Wyks, en nog een keer, voordat die vergetelheid so koud soos die graf self oor alle geheue sak, probeer hy deur Joey se foto’s die verhaal van die Van Wyks agterhaal. Hierdie roman is sekerlik die uitnemendste toonbeeld van P.G. du Plessis se vertelkuns. Deur elkeen van hierdie onvergeetlike Van Wyks en hul bywoners, die Minters, dra hy ’n eie persoonlike tragedie in by die wyer ellende van die oorlog, en so word die oorloggegewe ’n vervlegting van uiters intense menslike dramas, onvergeetlike taferele van vergeefse liefde, verydelde drome en die verbryseling van menslikheid. Sentraal is die verhaal van Daantjie en Magrieta van Wyk, hy ’n Blinkstefaans en sy die allerpragtigste vrou. Hulle twee oorleef die oorlog, maar dan as draers en verteenwoordigers van die uiterstes in die menslike aard wat deur die oorlog op die spits gedryf is. Ook die Engelse offissier Philip Brooks oorleef die oorlog, en in sy bewussyn kry hierdie droewe geskiedenis ‘n nuwe relevansie. Du Plessis se roman is weliswaar een van die heel grootste werke oor die Boereoorlog, maar dit is ook ‘n werk wat in ‘n hedendaagse idioom vrae vra oor hoe ons onthou, wat ons onthou en wat die implikasies is van vergeet. En stellig die klinkklaarste antwoord op hierdie vrae is die feit dat sy boek ‘n onvergeetbare leeservaring is.