Saartjie Omnibus 5. Bettie Naudé

Читать онлайн.
Название Saartjie Omnibus 5
Автор произведения Bettie Naudé
Жанр Учебная литература
Серия Saartjie Omnibus
Издательство Учебная литература
Год выпуска 0
isbn 9780798174589



Скачать книгу

      Saartjie

      Omnibus 5

      Saartjie se dapper daad

      Saartjie se piekniek

      Saartjie se prys

      Bettie Naudé

      Human & Rousseau

      Voorwoord

      Dokter Jan Baumann se groot dubbelverdiepinghuis teen die heuwel het ’n pragtige uitsig oor die vallei. Op ’n helder, sonnige dag kan ’n mens vanuit Saartjie se venster op die boonste verdieping Johannesburg se wolkekrabbers sien.

      Lynnekom word as ’n voorstad van Johannesburg beskou, maar dit is ’n stil plekkie met ’n tipies plattelandse atmosfeer. Al die inwoners ken mekaar en kom goed oor die weg.

      Op die oomblik is die hele vallei in ’n sagte, rooi skynsel gehul. Dit is skemer – ’n tyd van vrede.

      Maar skielik word die stilte verbreek deur ’n klavier wat hard in dokter Baumann se huis gespeel word. ’n Opgewekte deuntjie weerklink deur die buurt.

      Dan begin iemand sing. Dis ’n pragtige, suiwer stem.

      Menige inwoner se voete begin op maat van die vrolike musiek tik. Hulle glimlag en sê met ’n teer kyk in die oë:

      “Die Saartjie … Ai, dié Saartjie …”

Saartjie se dapper daad

      1

      Kris het probleme

      Die veertienjarige Saartjie Baumann klim by Lynnekom se halte van die bus af.

      Sy dra ’n ligblou rok wat presies dieselfde kleur as haar oë is. Saartjie het ’n seldsame kombinasie van blou oë en donker hare. ’n Aantreklike ry sproete versier haar effense wipneus se brug. Wanneer sy, soos nou, glimlag, verskyn daar twee sjarmante kuiltjies in haar wange.

      Saartjie glimlag oor die fliek wat sy vanmiddag gesien het. Dit was pragtig! Anna en Lina sou dit só geniet het!

      Saartjie is vanmiddag alleen in stad toe, want haar twee boesemvriendinne kon nie saamgaan nie.

      Anna mag vir vier Saterdae nie gaan fliek nie, want sy het te swak in hul laaste toetsreeks gevaar. Nou is dit haar straf.

      Lina kon nie saamgaan nie, want sy moes saam met haar ouers by “die kwaaiste oom en tannie in die hele wêreld” gaan kuier. Hulle besoek hierdie oom en tannie van haar een keer ’n maand en Lina is altyd nors daaroor. Sy het Saartjie al baie saamgenooi, maar Saartjie stel nie daarin belang om ook onder die knorrige oom en tannie deur te loop nie!

      Saartjie Baumann, Anna Strydom en Lina Rens is gedurig bymekaar. Hulle was saam op laerskool hier in Lynnekom, en hulle is nou ook saam by die beroemde Hoërskool Saamwerk in die stad. Lynnekom is ’n voorstad van Johannesburg en hulle drie is hier oral bekend – of is dit miskien berug? – as die Drie Muskiete.

      Saartjie loop nog steeds glimlaggend en dink aan die pragtige film wat sy vanmiddag gesien het. Dit was vir haar wonderlik toe die heldin sommer reg aan die begin van die fliek vir die ryk man met die groot snor sê: “Ek wil nie met jou dans nie,” en na die arm man toe omdraai en sê: “Ek sal graag met jou wil dans.”

      Saartjie kry weer lekker terwyl sy aan daardie toneel dink. Die pragtige heldin se voorgevoel was reg. Sy het dadelik geweet die een man is ’n goeie mens en die ander ene nie, én dat rykdom niks met die saak te doen het nie. Later het dit dan ook uitgekom dat die ryk man die skurk is, en die arm ou die held.

      Saartjie stap ingedagte. Sy het ’n baie sterk verbeeldingskrag en beweeg nou in ’n droomwêreld van haar eie. Sy beleef weer die insidente in die film en verbeel haar sy is die heldin.

      Saartjie maak nou net soos die heldin in die storie gemaak het, toe sy by die yslike danssaal ingestap het. Sy knik vriendelik met haar kop vir al die dansende pare wat stil gaan staan om haar skoonheid te bewonder. Sy stap trots en regop met die stil straat in Lynnekom af en knik grasieus met haar kop – eers na die een kant en dan na die ander kant toe.

      Sy maak ook elke nou en dan ’n elegante buiginkie.

      Saartjie spring nou vorentoe in die storie en beleef weer een van die laaste tonele, waarin die heldin se oë soos kole vuur gloei en sy vir die ryk man sê: “Leave me alone! I hate cowards!”

      Dit was fantasties! Saartjie het gevoel sy wil sommer daar, ín die fliek, begin juig en hande klap. Sy het toe sommer geweet die film gaan ’n gelukkige einde hê.

      Maar vroeër was Saartjie bekommerd, want nadat hulle die eerste keer vasgesit het, het die ryk man met sy snor, sjarmante maniere en baie geld, later ’n goeie indruk op die heldin begin maak. Sy het al meer saam met hom begin uitgaan en al minder saam met die arm ou.

      Maar een aand is sy en die ryk man deur ’n bende voorgekeer. Dis tóé dat die heldin sien wat ’n lafaard hierdie man is. Sy bly trots en regop staan terwyl hulle haar met ’n rewolwer dreig en haar pêrels van haar nek afruk. Maar die ryk man slaan in sweet uit en smeek om genade.

      Toe die bende in hul motor wegjaag, draai die heldin na die bewende man langs haar en sê vir hom dat sy lafaards haat.

      Só het sy uitgevind vir wie sy regtig lief is. Sy het dadelik teruggegaan na die arm man toe.

      Die prent eindig waar hulle in mekaar se arms voor hul huisie by die see staan en kyk hoe die son die weste rooi inkleur, en stadig in die oseaan wegsink, terwyl daar die mooiste dromerige musiek speel.

      Dit was vir Saartjie ’n absoluut wonderlike fliek.

      Sy loop nou daaraan en dink dat sy ook net soos die heldin reeds aan die begin gesien het die man met die snor is nie watwonders nie, al het hy so baie geld. Saartjie weet nie hoekom nie, maar sy beskou iemand met ’n snor altyd as ’n skelm. Miskien is dit as gevolg van al die boeke en flieks waarin die skurk altyd so ’n welige snor het.

      Maar daardie toneel – en Saartjie glimlag sommer weer – waarin die heldin se oë so vlam, en sy vir die man met die snor sê om haar uit te los want sy haat lafaards, sal sy nooit vergeet nie!

      Saartjie is nou naby die Baumanns se groot dubbelverdiepinghuis. Sy kom by Anna-hulle se huis, maar is salig onbewus van haar omgewing. Sy lewe haar totaal in in die film se gebeure.

      Sy gaan staan stil en gooi haar kop onwillekeurig effens agtertoe. Dit is mos wat die heldin gedoen het net ná die bende weggejaag het. In haar verbeelding kyk sy nou stip na die ou met die snor.

      Saartjie se oë vlam. Sy maak ’n verergde handgebaar en sê: “Leave me alone! I hate cowards!”

      Sy dink sy speel net so skitterend toneel soos daardie wêreldberoemde Hollywood-aktrise in die film.

      Saartjie is só verdiep in haar eie droomwêreld dat sy glad nie die sproetgesig by die Strydoms se hekkie raaksien nie. Dis Muggie, Anna se sesjarige sussie. Muggie maak die wêreld soms baie moeilik vir Saartjie-hulle, want sy wil altyd oral saam met hulle heen gaan. As hulle weier, sit die astrante klein snip só ’n keel op dat ’n mens se ore dit nie kan hou nie.

      Muggie staan en gaap Saartjie oopmond aan. Saartjie beleef nou weer die toneel waarin die heldin en die man van haar drome (die arm een sonder ’n snor) in mekaar se arms na die sonsondergang oor die see staan en staar terwyl daar sagte musiek op die agtergrond speel.

      Daar is ’n veraf blik in Saartjie se oë en ’n soet glimlag speel om haar mondhoeke. Skielik wip sy soos sy skrik, want hier reg by haar hoor sy Muggie se skril stemmetjie: “Haai, wat maak jy?”

      Muggie se woorde ruk Saartjie terug uit haar droomwêreld.

      Sy grinnik verleë vir Muggie wat haar so fronsend dophou.

      “Haai,” sê Saartjie, “ek het jou sowaar nie eers gesien nie.”

      “Ek weet jy het nie,” sê Muggie. “Wat het jy gedoen?”

      “Hoe