Die laat lente. Linda Joubert

Читать онлайн.
Название Die laat lente
Автор произведения Linda Joubert
Жанр Короткие любовные романы
Серия
Издательство Короткие любовные романы
Год выпуска 0
isbn 9780798153522



Скачать книгу

die portret neergesit.” Nou was sy stem doodnugter en normaal, en Lina kyk op. Sy sien hulle al vier in die spieël: sy self, die man, die kind en die vrou van die skildery. Toe loop die man na die tafeltjie toe en haal die rose uit die water. Dan skuif hy die vensterraam op en gooi die rose ver weg in die donkerte in. “Ek het jou gesê ek wil nie blomme hier hê nie.”

      Die meisie se gesig verander. Eers het Lina gedink sy gaan huil, maar toe sien sy dat dit van woede is. Die nog kinderlike ronding van die wange en die sagtheid van die ken was ineens vertrek deur ’n verskriklike drif.

      Lina het meteens besef dat sy baie moeg was. Sy het aan die muur vasgehou om nie te val nie en haar oë toegemaak in ’n poging om haar ewewig te herwin. Dit was amper of die kamer om haar beweeg het. Eindelik kon sy haarself vertrou. Sy sit haar hand liggies op die meisie se maer skouer en vra: “Sal jy vir my my kamer gaan wys?”

      “Moenie aan my raak nie.” Die meisie ruk haar skouer weg.

      “Ek is jammer.” Lina skud haar kop.

      Toe begin die meisie huil, nie soos ’n kind met ’n vinnige tranebui nie: dit was soos die huil van ’n grootmens, stram, teen haar sin, met droë snikke. Skielik draai sy haar stoel heftig om. “Josephine,” roep sy, “Josephine!”

      Asof sy net buitekant die deur gewag het, kom ’n vrou in.

      “Josephine,” snik die kind, “neem my weg.”

      Die vrou kyk vinnig deur die vertrek, eers na Johannes van Brakel, toe na Lina. Sy sê nie naand nie, niks nie. Sy neem net die stoel se handvatsel en stoot dit behendig weg sodat haar rok ruis met die wegstap en haar lang oorbelle klingel. By die deur kyk sy nog ’n keer om.

      Sy was ’n groot vrou met ’n liggeel gesig. Haar wangbene het ver uitgestaan, maar haar neus en ken was plat. Sy was ’n stewige vrou wat die kind seker goed versorg het. So het Lina gedink. Maar waarom dan haar onwillekeurige gevoel van afkeer? Sou dit wees omdat Josephine nie ooghare of wenkbroue gehad het nie? Ag, sy was seker maar oorstuur, dodelik moeg.

      Op ’n skielike ingewing draai sy na haar werkgewer toe. “Mag ek na my kamer toe gaan?” vra sy beleef.

      “Die tweede deur regs nadat jy by die trap opgegaan het.” Hy staan met sy skouers opgetrek voor die venster. Hy kyk nie eens na haar nie.

      “Dankie, Meneer.”

      2

      Daar’s vermoeidheid van die liggaam en daar’s vermoeidheid van die gees. Maar daar is nog een wat iets van albei is. Lina het ’n lang dag agter haar gehad; haar lyf was nie gewoond aan die rondskud en die skommel van ’n koets nie. Maar dit op sigself sou haar nie so uitermate uitgeput laat voel het nie. Sy was ’n mens wat gewoond was aan werk, aan die gebruik van haar hande.

      Maar al die tyd in oom Dawid se huis, terwyl sy die bakkiespomp getrap en die klaende sieke na hand en mond versorg het, het sy vrede van gemoed gehad. Sy kon haar oggende in blymoedigheid begin en saans haar hoof in vrede neerlê. Sy was so ’n soort mens.

      Maar dié aand, nadat sy die breë trap opgeklim het wat na die boonste slaapkamers lei en die deur agter haar toegemaak het, het sy skielik met haar kop in haar hande op die venstersitbank neergesak. Sy was tot sterwens toe moeg, en dit was nie net van die rit nie.

      Sy kon nie dink nie, nie voel nie. Die gebeurtenisse van die lang dag, die tyd daarvoor, oom Dawid se lang siekte en sterfte – alles het soos water oor haar heen gespoel, en sy kon net haar oë toemaak en in die stilte wegsink.

      Iemand klop aan die deur. Lina het skielik baie verleë gevoel nog so met haar reismantel en kappie aan, maar sy maak oop. Dit was ’n bediende met ’n kan koffie, melk en toebroodjies – nie dieselfde bediende wat die jong meisie in die stootstoel weggeneem het nie. Hierdie een se gesig was vriendelik en sommer openlik nuuskierig.

      “Het Nonna alles wat Nonna wil hê? Sal Nonna regkom? Ai, ek hoor Fleurette het maar weer so ’n spektakel van haarself gemaak. Ai, die arme meneer tog. Hy kry so swaar met haar, en dis nie eens sy eie kind nie, sommer optelgoed … En dit die eerste aand wat Nonna hier aankom. Ai, ek hoop tog Nonna gaan haar regmaak, want gedoriewaar, die lewe wat sy algar lei. Maar dis haar mame se skuld, al is sy nou dood …”

      Dit was sommer land en sand aanmekaar, en terwyl sy wag dat Lina klaar eet, begin sy vrypostig die koffer oopmaak, uitpak en ophang.

      Die vrou was nou besig om haar kerktabberd op te hang. Voor sy dit in die kas bêre, beskou sy dit eers van dié kant af, dan van die ander kant af.

      Lina glimlag. “Is daar iets verkeerd?”

      “Ai, waarom dan so baie swart? Alles is dan swart. Nonna’s mos nie so oud nie.”

      “Dis vir die son, en buitendien, swart dra goed.”

      Maar die vrou skud haar kop. “Net so ’n ou kleurtjie … As Nonna nou ’n rooi tabberd wou dra, helderblou of groen, soos dié van oorlede Mevrou …”

      Lina kyk oor die rand van die koppie, stip na die bediende. Sou sy iets bybedoel het met haar gepraat? Maar sy was al weer besig om van die wit, geborduurde onderklere weg te pak. Sy het ’n deuntjie tussen haar lippe en tande deur probeer fluit: “Daar oorkant die spruit, daar staan ’n blom …”

      Sy kom skielik regop en sonder om na Lina te kyk, sê sy wars in die wind: “Daar’s kaste en kaste klere van die oorlede mevrou in die vrykamer. Te mooi! Sy was een met ’n oog vir ’n rok. En die rompe en die strikke en die valletjies! Vra vir my van die stryk en die stywe. En nou hang hulle daar, vir die motte en die muf. As die meneer dit liewer sou wegneem.”

      Sy hou haar kop skuins om te sien hoe die goewernante op die informasie reageer, maar Lina eet en drink rustig verder. As sy dit kon verhelp, sou sy nie maklik weer ’n gesprek met iemand aanknoop oor Johannes van Brakel se oorlede vrou nie. Toe sy die laaste bietjie koffie uitgeskink en gedrink het, sê sy: “Dankie, dit was lekker.”

      “Plesier,” en die lywige vrou raap die skinkbord op. Sy beweeg lig-lig na die deur. “Nag, Nonna.” Sy haak die deur met haar voet oop en dan is sy uit, maar voor sy die knip finaal indruk, steek sy haar kop weer ongeërg na binne. “Hier in die huis het ons ore, maar ons hou ons monde dig oor dinge wat ons nie aangaan nie.”

      Die deur word op knip getrek.

      Ná die koffie en brood het Lina aansienlik beter gevoel. Sy kon nou na haar kamer kyk, dit bestudeer en vergelyk met die een waarin sy vyftien jaar lank geslaap het. Dit was ’n redelike groot kamer, nie besonder hoog nie, en aan die een kant het die skuinste van die dak nog ’n deel van die hoogte weggesny. Daar was twee vensters met diamantvormige ruitjies met lood tussenin. Op die hoë bed was ’n yslike verepeul gestapel, en die behangsels was spierwit gestyf. Alles was kraakskoon en netjies en blinkgevryf, maar so koud …

      Sy skuif die vensterraam op en leun uit. Daar is die water, ongeveer veertig tree ver, soos hy gesê het. En daar agter is die Komberge. Om haar was die Komnag, somers en soel, nes sy dit van vroeër jare onthou het. Dit was haar wêreld hierdie en sy het dit liefgehad. Dertig jaar al is dit deel van haar.

      Sy maak haar oë toe. Die jare wat verby is, was meteens by haar in die kamer, soos plaatjies van ’n towerlantern wat sy uit haar kindertyd onthou het – towerplaatjies van jouself as kind, die enigste kind van twee verliefde ouers by ’n eenmanskooltjie iewers in die Brakelkomvlakte, daar waar die berge ’n draai maak om die vrugbare vallei te vorm. Meneer en mevrou Op ’t Hoff, meneer met die deftige lakense pak, hoë keiltjie en Europese knypbrilletjie – ik ben, jij bent, hij … Neen, stommerik, zoo zeggen wij niet op het Nederlands, en as die klas moeg gespook was met hierdie deel van die taal, nou ja, dan maar gaan soek na die de- en die het-woorde. En as meneer Op ’t Hoff smiddags uitgeput van sukkel met die boereseuns en -dogters sy voordeur oopmaak, wag mevrou Op ’t Hoff op hom. Sy was Afrikaans, een van die Brakelkommeisies, maar wanneer Eggert op ’t Hoff by haar was, het hy sy vae heimwee na die waterland vergeet en die gesukkel met die leerlinge as die Afrikason die wêreld soos ’n miskoek bak. Sy was ’n blymoedige mens en in haar tuin het madeliefies gegroei, en eiewys vleilelies