Christiaan Bakkes

Список книг автора Christiaan Bakkes



    Stoffel in Afrika

    Christiaan Bakkes

    Hierdie vyfde bundel oor die wel en wee van Stoffel Mathysen – veldkenner, bewaringskundige en safarileier – bied ’n nuwe invalshoek en nuwe ervarings. Hoewel hy reeds dekades lank in Suider-Afrika werk, neem sy ekspedisies na Midde-Afrika hom tot in die hart van die ware, ongetemde Afrika. Om skatryk kliënte op die gesogte gorillasafari’s in Uganda en Rwanda te begelei, is nie altyd so glansryk soos dit klink nie, maar met sy kenmerkende humor, fyn mensekennis en ironiese kyk maak Stoffel telkens daarvan ’n andersoortige avontuur. Deur dit alles en oor alles heen strek sy gedagtes en gesprekke in ’n durende poging om Afrika te deurgrond. Hierdie verhale volg opnuut ’n kronkelpad deur Stoffel se kleurryke lewe: sy vroeë jare as wildbewaarder en sy werk as soldaat en teenstroper-veldwagter, sy tyd as WWF-beampte in die Kaokoveld, en sy huidige betrokkenheid in Damaraland by die bewaring van swartrenosters. Die leser leer ook die heel persoonlike Stoffel ken, saam met sy geliefde Nina en hulle troeteldiere – wat altyd sorg vir ’n krisis of twee!

    Stoffel op safari

    Christiaan Bakkes

    Vertelkuns soos dié van Christiaan Bakkes is skaars in Afrikaans. Sy nuutste bundel – reeds die sesde in die Stoffel-reeks – omvat weer eens ’n veelheid fasette van sy lewe in die wildernis van die Kaokoveld en Damaraland. Daar is boeiende diereverhale en hartverskeurende hondeverhale. Daar is die stories van gewone mense sowel as skatryk safarikliënte. Daar is soldateverhale en ’n eenmanrebellie. Daar is boeke, musiek en stukkies geskiedenis uit Afrika, Amerika en Europa. Daar is die navorsingswerk van sy vrou Nina en die avonture van sekerlik die dapperste Jack Russell ooit, Tier met die tien lewens.Sedert die vorige Stoffel-bundel het veral een onderwerp in bewaringskringe op die voorgrond getree: renosterstropery. Bakkes spreek dit aan in drie verhale – insigryk, oorwoë én met humor. ’n Verhaal soos “Grense” toon by uitstek hoe hierdie skrywer nie bloot reis- of avontuurvertellings weergee nie, maar dat sy werk transendeer na iets meer, na die diepere betekenis van die ragfyn netwerk van verbintenisse waaruit ons lewe op hierdie planeet bestaan.

    Stoffel: die beste stories

    Christiaan Bakkes

    Christiaan Bakkes word onthou as die man wie se arm deur ’n krokodil afgebyt is in die Krugerwildtuin. Dit was ’n waterskeiding in sy lewe. Hy was linkshandig en het sy linkerarm verloor. Tydens rehabilitasie moes hy met sy regterhand leer skryf, en uit daardie pogings is Afrikaans se enigste werklike wildernisskrywer gebore. Met sy eerste boek, Die lang pad van Stoffel Mathysen, het Bakkes die Stoffel-persona geskep vir die oorvertel van ware gebeurtenisse in sy lewe. Nou, met Stoffel: die beste stories, word Bakkes se gunstelingverhale in een band byeengebring, treffend aangevul deur ’n fotoseksie in kleur. In sy kenmerkend ongekunstelde en humoristiese styl vertel hy van sy eerste wilderniservarings as kind, van sy dienspligjare en van sy werk as safarigids in Namibië. Hy vertel stories van die veld, van berge en bosse – as reisiger deur Afrika, met ’n stem soos geen ander in Afrikaans.

    Krokodil aan my skouer

    Christiaan Bakkes

    Krokodil aan my skouer is Christiaan Bakkes se boeiende vertelling oor sy vroeë vormingsjare. In ses bundels sedert 1998 het lesers hom leer ken deur sy Stoffel Mathysen-persona. Vandag is hy bekend as ’n gesogte safarigids en gerespekteerde natuurbewaarder, maar mense onthou hom steeds as die man wie se arm in die Krugerwildtuin deur ’n krokodil afgebyt is – ’n gebeurtenis wat sy lewe verander het. Vir die eerste maal vertel Stoffel ook die volle verhaal van sy jaar grensdiens in die Wes-Caprivi en ontbloot só ’n stuk geheime geskiedenis uit die bosoorlog. En hy kondig sy nuwe oorlog aan: die stryd teen renosterstropery.