Hy word met ’n riem op die werf aangesleep. ’n Seun. ’n Vreemdeling. Van balans af op sy lomp voete, die slaphandhoed diep tot op sy bakore getrek, rooi in die gesig van die riem om sy nek. Die mense wat hom staan en aangaap, is nie vreemdelinge gewoond nie. Hier waar hulle woon, het niemand vantevore gewoon nie. Hul leier het hul trek ’n jaar of ses gelede tot hier gelei, met sy velskoen se hak in die grond gekap, sy groot hand besitlik gewuif en die gebied tot sy eiendom verklaar. Hier is sy woord wet. Die sieleherder het sy gesag uit die Bybel bekragtig. Ook oor die inboekelinge, daardie kinders wat ná skermutselinge met die inheemse mense teruggebring is laer toe. Die pa’s en die ma’s het hulle geskiet – veediewe, almal van hulle – en die kinders is weggevoer om as slawe groot te word.
Inboekelinge.
Die seun aan die tou sien ’n swart meisie vanuit ’n tuitkappie na hom staar. Eers later, toegesluit in ’n smidswinkel, sal hy agterkom wie en wat sy is. En as hy saamgeneem word op ’n ekspedisie om gesteelde vee terug te kry, sal hy te staan kom voor die godskreiende werklikheid van háár lewe: ’n kind wat tussen die lyke van haar ouers opgeraap en op die saal van ’n ruiter weggevoer is.
En dit sal hierdie eenvoudige seun wees, wat aan ’n riem op daardie trekkerswerf aangesleep is, wat dit dat daar in die hinterland tuisbring dat daar geen durender band is, g’n tou so sterk nie, soos die verbintenisse wat die hart aangaan.
Inboekeling is oorrompelend in sy uitbeelding van eenvoudige hartstog. Dit is die verhaal van ’n seun wat grootgeword het in die wordingsjare van die moderne Suid-Afrika, en help gestalte gee het aan wat ons deesdae onder die woord “vryheid” verstaan.
Sy draai weg van sy speurende blik, en saam kyk hulle af op die dal wat voor hulle tussen die berge lê. Die vroeë son maak dit nog geler, maar dit is 'n sagte geel. Die lang gras buig biddend in die effense wind. In die kloof agter hulle fluit 'n fisant. Dit is 1844. Die pioniersplaas Skuilhoek, waar Vryheid en Magriet uitstaar oor die wuiwende veld, is drie uur te perd van Potchefstroom se skaars meer as twintig huise. Die wêreld is ongetem en nuut; van reg en orde is daar nog kwalik sprake. Die twee jonges is ook salig onbewus daarvan dat dit juis die wette is wat vir 'n fatsoenlike gemeenskap moet sorg wat in die pad gaan staan van hul ontluikende liefde, en dat die grootste hindernisse op die weg van die hart in hul eie bloed lê. Soos in sy roman Die pad na Skuilhoek loop Hans du Plessis met As die wind kom draai op die spore van die vroeë Voortrekkers die onverkende tegemoet, en bring 'n verhaal wat soos 'n rosyntjiebos opspruit uit hierdie land se harde grond.