My hart klop muffins. Helen Brain

Читать онлайн.
Название My hart klop muffins
Автор произведения Helen Brain
Жанр Учебная литература
Серия Eerste liefde
Издательство Учебная литература
Год выпуска 0
isbn 9780798156844



Скачать книгу

      

      “Kyk waar jy loop, moroon!”

      Ek swaai om. Niemand noem my ’n moroon en stap weg met al sy tande nie. Beslis nie ’n grootbek in ’n groen bakkie vol duike nie. “Wie’s jou moroon?” skel ek en skop na sy wiel. “Kyk jy liewer waar jy ry, dofkop!”

      Hy swaai sy vuis deur die oop ruit. “Jy storm net oor die pad sonder om eens te kyk! Wat’s jou probleem, airhead?”

      Airhead? Nóú het hy te ver gegaan. Ek plak die stapel bokse voor die bakkie se neus neer en marsjeer na die venster. “As jy jou oë oopmaak en die kennisgewings lees, rotgesig, sal jy sien geen voertuie word hier toegelaat nie! Nie dat ’n mens hierdie ding ’n voertuig kan noem nie.”

      Hy leun op sy regterarm by die venster uit en lig sy sonbril. Dadelik begin my voete sweef. Ek oordryf nie, dis die ongelooflikste paar oë wat ek al in ’n menslike gesig gesien het. Gode, ja, engele selfs, was dalk al geseën met sulke stukkies hemel, maar geen gewone aardling nie.

      Van Aardt se stem bring my grond toe. “Katrina, sê jy’s jammer sodat ons kan loop!”

      Ek waai na hom met my hand. “Gaan weg, Art.”

      “Trina, die mark maak oor ’n halfuur oop!”

      Die engel in die groen bakkie rev die enjin. “Sê my, airhead, waar is die organiseerder van hierdie plek?”

      Hy is verdwaal. My engel is verdwaal. Wonderwerke gebeur nog.

      “Volg my,” sê ek, my stem aspris sexy en hees. “Ek sal jou gaan wys.” Ek buk oor, tel die bokse met geoefende grasie op en stap met swaaiende heupe voor die bakkie uit. Hopelik sien hy hoe perfek my nuwe skinny jeans om my boude span.

      Van Aardt is al besig om die gazebo op te slaan toe ek uiteindelik by ons staanplek onder die eikeboom aankom. Nog gloeiend ná my triomftog grawe ek in ’n boks op soek na die pakkie skroewe waarmee ek die opslaantafel aanmekaar moet sit.

      “Ek het opgelet, Art, dat jy my weer eens Trina genoem het,” sê ek. “My naam, soos ek al oor en oor vir jou gesê het, is Kat. Kort en kragtig, om nie te praat van sexy, suave en gesofistikeerd nie.” Ek raak so meegevoer dat ek die skroewe laat val sonder om dit agter te kom.

      Van Aardt tel ’n houtbokkie van die gras af op en vou dit oop. “Ek sal dit dalk oorweeg om jou Kat te noem,” sê hy droogweg, “mits jy op jou beurt die naam gebruik wat ek verkies. My doopnaam is Van Aardt – dis die naam wat my ouers my gegee het – ek hou daarvan en dit pas by my.” Hy snuif effens en druk sy goueraambril terug op sy neus.

      “Maar Art klink net soveel beter,” sê ek terwyl ek hom help om die tafelblad op die bokkies te sit en die tafeldoek oor te gooi. “Art is – wel – arty.”

      “Trina, moenie so ’n idioot wees nie.” Van Aardt gryp die tafeldoek se punte en trek dit reg. “Lyk ek miskien kunstig? Lyk ek miskien soos ’n – Art?”

      Ek moet erken, nee. Van Aardt is kort en maer. Hy het stokkerige vaal hare en ’n gesig soos ’n hamster met ’n bril op. Hy lyk soos iets wat nie genoeg sonlig en skoon water kry nie. Iets wat sonneblomsade en appelstronke eet en onder ’n hoop skaafsels slaap.

      Maar hy is my beste, beste maat. Ek ken hom al van my geboorte af, eintlik van vóór my geboorte. Art-hulle woon langs ons en ons ma’s is beste vriendinne. Ek het Art se hamsterstemmetjie gehoor toe ek en hy nog in ons ma’s se boepies gelê en droom het.

      “Oukei, oukei,” gee ek teësinnig toe, “miskien lyk jy nie nou arty nie, maar mense verander. Image is alles, hoor. As jy kunstig lyk, dan kom die res vanself en . . .”

      Art praat my dood. “So jy probeer sê ek moet net kunstig lyk as ek kunstig wil wees? En dat ek kunstig sal wees indien ek kunstig lyk?”

      “H’m, so iets.”

      Soos altyd maak hy knope in my logika.

      Ek gee die handgemaakte T-hemde wat te koop is een-een vir hom aan en hy pen dit vas aan die draad wat hy aan die agterkant van die gazebo gespan het. Daarna maak ek my geldsak om my lyf vas en vou die piekniekstoele oop. Heeltyd wens ek dat Art die onderwerp sal drop.

      Dit gebeur nie.

      Op sy gewone perfekte Afrikaans sê hy: “Kom ons volg die argument tot sy logiese uiteinde.” Hy frommel sy hamsterneus soos altyd wanneer hy weet hy’s op die wenpad. “Om iets te wees, moet jy soos daardie iets lyk, reg?”

      “Soort van.” Ek maak ’n ongeërgde gebaar.

      “Ipso facto, as iemand ’n dokter wil wees, het hy net ’n wit jas en ’n stetoskoop nodig?”

      “Dit sal help. Sal jy ’n dokter vertrou wat nié ’n wit jas aanhet nie?”

      Hy staar na my. “Natuurlik. Hoekom nie?”

      “Jy weet goed wat ek bedoel,” sê ek ergerlik.

      Van Aardt is die enigste mens wat ek ken wat my in ’n hoek kan dryf. Verlede jaar het die debatspan van die St. Kierans-meisieskool hulleself so vas gepraat dat hulle kaptein begin huil het. Natuurlik wil ek my doodlag wanneer hy dit aan iemand anders doen, maar ek haat dit as hy sy trieks op my uithaal.

      “So jy sê,” beur hy voort – baie soos ’n hamster op ’n oefenwiel – “ek moet net my naam na ‘Art’ verander om ‘kunstig’ te wees. Dan sal al die ander ‘kunstige’ dinge soos die lang hare, die oorbel en die gepynigde gesigsuitdrukking vanself volg. Dan sal ek soos ons ‘kunstige’ vriend daar oorkant lyk en ook wees.”

      Ek volg sy vinger en sien dat Hildegarde, die baasspelerige organiseerder van die kunsmark, haastig aangestap kom met hy-van-die-bakkie op haar hakke.

      Ek kan dit nie help nie, ek begin bewe.

      Hy-van-die-bakkie het net mooi alles wat ek in ’n ou soek. Lank, met goed gevormde bene gegiet in stywe swart jeans, en ’n swart T-hemp wat elke spier afteken. Donker ontwerperstoppels, ’n perfekte neus en hemelse oë voltooi die prent. Hy het die gesig van ’n digter – en ek is betower.

      So betower dat ek met albei hande aan ons tafel moet vasklou terwyl ek my aan die visioen van manlike perfeksie vergaap. Te laat onthou ek presies hoe wankelrig ’n bokkietafel is, veral wanneer jy nie die skroewe ingesit het nie. Toe hy verbystap, só naby dat ek aan hom kan raak, gly die blad van die bokkies af en ek slaan neer met ’n stapel T-hemde bo-op my.

      Hy-van-die-bakkie grinnik. Ongelukkig kan ek nie sy volmaakte tande bewonder nie, want Van Aardt skreeu op my: “Jou flippen idioot, nou’s alles vol modder!”

      Ek word altyd aggressief wanneer ek verleë is. “Dis nie my skuld nie!” kap ek terug. “Dis jy wat nie die tafel behoorlik aanmekaargesit het nie!”

      “Katrina, mag ek jou daaraan herinner dat die tafel jou verantwoordelikheid is? Dis jóú tafel. Jý moet dit aanmekaar sit, nie ek nie.”

      Soos gewoonlik is hy reg. My pa het die kastig onfeilbare opslaantafel vir ons gemaak. Wel, het ek nuus vir hom! Stomend staan ek op en begin om die T-hemde op te tel. Ten minste is hulle skoon – Ma en tannie Ilse sit die T-hemde altyd in plastieksakkies – maar ek sal al die sakkies moet vervang.

      Die kuns- en vlytmark word elke Saterdag in die tuin voor die restaurant op die wynplaas, De Akker, gehou. ’n Stuk of dertig tafels word in twee sirkels op die gras oopgepak. Hy-van-die-bakkie het die oop plek oorkant ons gekry. Hy is besig om sy voorraad uit te pak en ek vrek om te weet wat hy verkoop. Dis net-net te ver om te kan sien wat daar aangaan.

      Weer skel Art my uit. “Trina, hou nou op om op jou tone te staan en rondkyk en help my om klaar te kry voor die mense kom!” Hy sit die tafelblad met ’n klapgeluid op die bokkies neer en draai die skroewe in. “Wat’s jou probleem? Jy’s vandag heeltemal simpel.”

      Uit die hoogte staar ek na hom. “My probleem, my liewe Van Aardt, is die gevolg van ’n oorweldigende