Nee, ant Millie, het Annalise gedink, ek gaan nie net my hare verander nie. Ek sal sommer vir ’n totale makeover gaan. Ek is nou moeg en siek en sat daarvoor om ’n ou lieslap te wees. Ek wil ook ’n slag soos ’n million dollar babe voel! En Petrus sal betaal. Hy sal elke sent betaal. En het Petrus betaal? Moenie eens vra nie! Vra eerder: Het Annalise se plan gewerk? En nie net hare nie, want wat van ant Liefie se gespook – ja, letterlik – om haar kamer in Huis Viljoenshof te behou? En Aletta se plan om ná hoeveel jaar weer ’n roering in haar man se . . . uhm . . . hart te bewerkstellig?
Dit is dus stories oor vroue en hul planne. Of soos Esta Steyn sê: oor vroue wat ’n bietjie kan lieg, ’n bietjie kan bedrieg en ’n bietjie kan bieg. Oor die oorsprong van die verhale sê sy: “Die merkwaardige vrou wat al my vorige, vars manuskripte opgeraap en gelees het voordat dit my werf verlaat het, was my suster. Toe verlaat sy my ná ’n siekbed. Maar in haar absentia het sy my nie ’n oomblik alleen gelos nie. Met groot gejuig het sy hierdie keer nie die stories kom lees nie, nee, hulle sommer self hier aangebring. En my kom vertel van dié vroue. Was sy hier? wonder ek. Sy wás, weet ek. Anders was daar nou niks om oor te bieg nie … nog minder ’n bundel.”
En die resultaat? Verhale só lewenseg, soos ’n Italiaanse rok teen halfprys . . . nee, soos verbrande viskoekies en mash!
Daar is groot konsternasie by die polisiestasie. Die Kolonel is weg! Skoonveld soos ’n groot speld! Die Kolonel is nie net bekend en bemind nie, hy is ook baie bekwaam. Daar word gesê hy kan diewe en dwelms op ’n afstand uitsnuffel. Sersant Sol en konstabel Bongani sal moet soek, want hulle kan nie hulle werk sonder dié baasspeurder doen nie. Gelukkig word die Kolonel opgespoor en help hy hulle om inbrekers, ’n kaasdief, ’n bankrower, ’n grypdief en dwelmsmokkelaars te vang. Want sien, die Kolonel is ’n baie slim kat wat niks nonsens vat nie.
Dié aangrypende verhaal van pyn en genesing ná die dood van twee broers enkele jare ná mekaar word deur hul ma in die derde persoon vertel. So probeer sy (die vrou) afstand van die pynlike gebeure verkry. Dit verleen ’n meer dramatiese impak aan die gebeure, hoewel dit ’n oormaat rou emosie voorkom. Dit word ’n hoendervleis-kry-ervaring om saam met die skrywer die wagtyd in ’n trauma-saal by Tygerberghospitaal deur te maak, of die soektog na ’n vermiste kind op see. Dit lees byna soos fiksie, ’n spanningsverhaal. Maar wat dit uitlig bo die gewone, is die gestroopte styl, die Christelike hoop daarin, die simboliek, die skrynende humor, die gedigte en die terapeutiese krag vir lesers wat hul eie smart leer verwerk deur te identifiseer met die verteller.
Op ’n stil aand, in ’n herehuis langs ’n meer, dans ’n jong vrou in ’n verruklike rooi aandrok met haar werkgewer, Arthur Addington – befoeterde, eens beroemde Amerikaanse draaiboekskrywer en onbeminde eienaar van die Addington-landgoed. Nooit sou Arthur, worstelend met skrywersblok en wroegend oor die dood van sy vrou en kind, kon raai dat sy stralende dansmaat soveel geheime ronddra nie. Dat Anabella Maria Bennett, kortom Ben, g’n huishoudster is nie, maar ’n joernalis en ’n sendelingdogter uit Afrika. Dat hy haar lank gelede dáár ontmoet het . . . Daar is ’n somber rede waarom Ben haar hart nie blootlê nie, maar eerder saans haar eie verhaal skryf: van die Swahili-wiegelied wat haar kleintyd getroos het, die wyse Kepo wat haar leer boogskiet het, van Paka, haar grootmaakleeu, en van haar en Kepo en dokter Catherine Dumay se ylingse vlug na Bulungwi . . . Slegs Jameson, opsigter by Addington, en sy “Lucy-lief’’ begryp. Hulle word haar vertrouelinge en wakende engele. Wanneer Arthur gehawend terugkeer ná ’n reis deur Afrika, vind hy in sy lessenaar ’n manuskrip wat sy lewe sal verander en hom sy skeppende krag teruggee: Anabella se Afrika-testament. Die Skrywer is ’n aangrypende, eg menslike verhaal met dramatiese Afrika-uitlopers.
Teen die agtergrond van soutmyne en granietkoppe vertel Droomdelwers die verhaal van twee klein gemeenskappe aan die Weskus, Soutmansvlei en Vlaktevlei. Hier word die lewens van armes en rykes, van wit en bruin, ten nouste verweef . Hier loop uiteenlopende karakters rond, elk met sy eie storie. Soos oom Kêppies sê: “ Hy’s soesie see, soes ’n branner. Voorlat jy hom kan vasvat, sien jy net sy skymstriep oppie sand lê.”. Maar nog voordat die skuim op die sand lê, word die rustige lewensloop van “die sout van die aarde” skielik bedreig. Hulle kom te staan voor ’n oormag. Daar is net een uitweg na vrywording vir almal: om in die verlede te delf waar die antwoord op vreemde raaisels so ver en en tog so naby lê.
Dorkasbaai is ‘n bar en afgesonderde strandplaas aan die Weskus. Ook die mense wat daar woon het bar geword van afsondering, veral Eli van Egeren en sy seuns, Joac en Benjamin. Waarom wil Fransie van Zyl dan haar gemaklike stadsbestaan laat vaar om juis Dorkasbaai toe te gaan? Die antwoord lê verskuil in die blou bladsye van die briewe wat Melissa von Meelis, haar stiefmoeder, nagelaat het. Dáár gaan soek Fransie die sleutel tot haar onverstaanbare dood. En so raak haar lewe verweef met Joac, wie se huwelik met die onstabiele Alexa ‘n marteling geword het; met Benjamin, die liefdevolle hemelkind wat sku in sy eie wêreld leef; met Liza, Eli se tweede vrou, wat haar eie kronkelpad deur senusiekte en ineenstorting moes vind. Op onnaspeurlike manier bring Fransie se tussenkoms verandering in hul lewens, totdat die geheime van die ongelukkige seeplaas een vir een wyk.